Sinodesitting: Verwysing na God as ‘moeder’ ontstel leraar

*******

Sinodesitting: Verwysing na God as ‘moeder’ ontstel leraar | Netwerk24

Marita Herselman

10 Maart 2022

Die voorlesing van Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”, waarin die sangeres na God as moeder verwys, het ’n leraar op die NG Kerk Vrystaat se sinodesitting ontstel.

Beneli Pretorius, voorsitter van die taakspan vir die Vrystaatse vrouebediening, het Woensdag haar voorlegging van die vrouebediening se verslag met die lied se woorde afgesluit.

Ds. Jan Lubbe, nuutverkose moderator van die Vrystaatse moderamen, het namens die sinode sy dank vir die vrouelidmate se goeie werk in die gemeentes aan Pretorius oorgedra. Die vergadering het toe in eerbied vir dié lidmate se rol in die gemeentes gestaan.

Ds. Pieter Prinsloo van die gemeente Kroonstad-Wes het daarna beswaar oor die voorlesing van die lied weens die woorde “Moeder God” gemaak. Hy voel dit is onvanpas om na God as vrou te verwys.

Die lied begin wel met “Vader God”.

Pretorius het in reaksie op Prinsloo se beswaar na Psalm 131, ’n pelgrimslied van Dawid, verwys. Sy het ook gesê dit is vir sommige vroue wat deur mans seergemaak is vertroostend om na God as moeder te verwys. As dit vir een mens iets beteken het, is dit vir haar genoeg.

Pretorius het egter om verskoning gevra sou die vergadering aanstoot met die voorlesing hiervan geneem het.

Die vergadering het op haar repliek applous gegee. [Kommentaar: Vir duidelikheid – die applous was in ondersteuning van Beneli Pretorius. ]

Ds. Lood Oliver van die gemeente Welkom-Noord het Pretorius gesteun deur dié Psalm voor te lees.

“Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind,” lui ’n uittreksel.

Oliver het gesê dit is vir hom ’n pragtige beeld om na God as moeder te verwys omdat jy eerste by ’n moeder van liefde leer. Die vergadering het ook op sy reaksie hande geklap.

Die werksaamhede van die NG Kerk Vrystaat is Woensdag op die tweede dag van die sitting op die Bloemfonteinse skouterrein bespreek.

Die kuratorium se verslag oor teologiese opleiding, die vennootskap tussen die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit teologie en die Vrystaatse seminarium, is onder meer bespreek.

Prof. Rantoa Letsosa, dekaan van dié fakulteit, het in sy groeteboodskap gesê die missie van die fakulteit soos in 2021 opgestel, is om aandag te gee aan die behoeftes van die verskillende belanghebbendes en plaaslik, sowel as wêreldwyd, vir ’n unieke teologiese bydrae tot kerk, samelewing en akademie erken te word.

Die fakulteit is ekumenies, oop vir ander denominasies.

Prof. Johan Janse van Rensburg, emeritus professor aan die UV se fakulteit teologie, was ’n spreker op die sessie oor teologiese opleiding.

Hy het gevra of die Vrystaatse sinode dit nie wil oorweeg om ’n nis vir gereformeerde teologie te skep nie.

“Ek sien net nie ’n toekoms . . . dat ons die krisis in die NG Kerk gaan oplos as ons nie weer vir ons lidmate sê ons is gereformeerd en ons teologiese opleiding bewys dat ons gereformeerd is nie.”

Dr. Juanita Meyer, departementshoof van praktiese en missionale teologie aan die UV, het in haar toespraak gesê teologiese opleiding is in kern die studie van God.

“Derhalwe behoort God altyd sentraal te staan as ’n primêre objektief van die teologiese opleiding. Ongeag tyd, konteks, politiek of persoonlike mening.”

Meyer sê om getrou aan God se karakter te bly kan die moontlike maatstaf van akademiese integriteit wees.

Sy sê die akademie moet studente met verantwoordbare teologie bemagtig, terwyl die kerk ’n omgewing moet skep waarin studente hulself in ’n veranderende en uitdagende omgewing, met die oog op God se karakter, kan navigeer.

2 thoughts on “Sinodesitting: Verwysing na God as ‘moeder’ ontstel leraar”

    1. Stehanus. Jou opmerking getuig van jou eie onkunde en gebrek aan begrip. As jou Godsbegrip so skraal is dat jy God slegs as Vader kan raaksien wys dit vir my dat daar ernstige probleme is met jou verhouding met God en dat ek en jy waarskynlik nie dieselfde God aanbid nie. Ek moes eintlik nie eers gereageer het op jou kommentaar nie. Spreuke 23:9 Moenie ’n dwaas probeer reghelp nie; hy sal jou verstandige raad met minagting behandel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui