Opleiding: Groen lig vir nuwe ooreenkoms met Universiteit van die Vrystaat

Kyk ook:

Ten spyte van al die kontroversie rondom die teologiese fakulteite het die Vrystaatse sinode met ’n groot meerderheid besluit om die kontrak met die teologiese fakulteit van die Universiteit van Vrystaat met nog vyf jaar te hernu.

*******

Opleiding: Groen lig vir nuwe ooreenkoms met Universiteit van die Vrystaat | Kerkbode

Kerkbode

10 Maart 2022

Die aanbevelings uit ’n omvattende verslag oor teologiese opleiding is op die laaste dag van NG Kerk Vrystaat se sinodesitting in Bloemfontein goedgekeur.

Dit sluit ’n nuwe ooreenkoms (sien onder) in tussen die NG Kerk Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat soos aan die vergadering voorgelê deur die loop van die saamtrek wat van 8 tot 10 Maart plaasvind.

Die stemmery kom ná bydraes deur akademici en die aanhoor van teologiestudentestemme via ’n videogreep wat in die saal gespeel is, asook wydlopende bespreking deur van die sowat 300 afgevaardigdes.

Dit kom ook te midde van besware oor ’n gebrek aan beheer oor dosente by universiteite as selfstandige akademiese inrigtings en ’n versoek dat teologiese dosente se geloofsoortuigings via ’n kerklike vraelys gepeil moet word.

“Die een saak wat die meeste skade aangerig het in die NG Kerk die afgelope twee dekades, is hoe die liberale teologie die teologiese opleiding van predikante negatief beïnvloed het,” lui ’n uittreksel uit ’n bydrae deur ds Dubois du Toit, van NG gemeente Kestell.

Ander meen weer universiteite berei studente voor om te werk in hulle kontekste. Dr Juanita Meyer, ’n dosent by die Universiteit van die Vrystaat se teologiese fakulteit, het Woensdag in haar bydrae gesê: “Vriende, die diverse, komplekse, uitdagende en transformerende konteks van die universiteit, is uiteindelik ’n veilige ruimte waar studente hulleself voorberei vir presies dieselfde diversiteit, kompleksiteit, uitdagings en transformasie wat hy of sy uiteindelik in hulle bediening in die oë moet kyk in die wêreld daarbuite. Daar is geen immuniseringsruimte vir verandering van ons omgewing nie, en daar moet ook nie wees nie,” het Meyer gesê.


Amptelik: Hiermee die besluite soos uitgetrek uit die notule van die Vrystaatse Sinode 2022. – Red

AANBEVELINGS VIR BESLUITNEMING DEUR DIE SINODE

Besluit: Punte 1 tot 8 word goedgekeur

  1. Die Sinode neem met dank kennis van die Verslag oor Teologiese Opleiding soos deur die Kuratorium aan die vergadering voorgelê.
  2. Die Sinode spreek sy dank uit teenoor die Kuratorium, personeel van die Seminarium en sinodale kerkkantoor, alle aanbieders en mentors in opleidingsgemeentes, sowel as die Dekaan en personeel van die Fakulteit Teologie vir die werk wat in die afgelope termyn rakende teologiese opleiding in Bloemfontein gedoen is.
  3. Die Sinode neem kennis dat die gespreksgroep en taakspan wat tydens die sinodale konferensie in November 2021 oor teologiese opleiding besin het, van alle relevante inligting voorsien is en besluit het om te volstaan met die verslag wat uiteindelik hier deur die Kuratorium voorgelê sou word.
  4. Die Sinode gee geleentheid vir ’n bespreking van die Verslag oor Teologiese Opleiding, verdere toeligting waar nodig, sowel as vir ’n hantering van die ingesonde beskrywingspunte oor die opleiding.
  5. Die Sinode keur die voorgestelde nuwe ooreenkoms tussen die NG Kerk Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat soos aan die vergadering voorgelê en gemotiveer, goed en dra die ondertekening en implementering daarvan aan die Kuratorium op.
  6. Die Sinode gee aan die Kuratorium ’n mandaat om in die volgende termyn, benewens die deurlopende besinning oor, beplanning vir en bestuur van gereformeerde teologiese opleiding vir die NG Kerk, spesifieke aandag aan die volgende sake te gee:

(i) Die ontwikkeling en verdieping van die kerklike vorming en begeleiding van studente vir bediening in die NG Kerk-familie, en spesifiek dit wat as eie aan die belydenisgrondslag, geskiedenis, spiritualiteit en roeping van die NG Kerk geag word en alles wat in die kerklike praktyk nodig mag wees om hierdie erfenis verantwoord en met integriteit in ’n samelewing in nood te kan bedien;

(ii) Die verdere ontwikkeling van alle vennootskappe wat reeds gevestig is vir die teologiese opleiding van die NG Kerk, maar spesifiek dié met omliggende streeksinodes (Noord- en Oos-Kaap, Hoëveld, Goudland en Natal), met die VGKSA en NGKA, met ander kleinere kerke van reformatoriese oortuiging, met NetAct en met gemeenskapsorganisasies wat by fasette van die opleiding baat mag vind;

(iii) Deelname aan en verantwoording van ’n eie oortuiging rakende teologiese opleiding binne die Algemene Kuratorium van die NG Kerk en die ontwikkeling van ’n toekomsscenario daarvoor;

(iv) Besinning oor en medewerking met die Algemene Kuratorium en Fakulteit Teologie en Religie plaaslik om die formele akademiese opleidingsvereistes vir volle leraarsbevoegdheid (BDiv, MDiv en Nagr.Dipl), die volgorde en lengte daarvan ten beste te struktureer;

(v) Besinning oor en ondersoeke na die akkreditering van ander instansies vir (diverse) teologiese opleiding deur die Algemene Kuratorium soos die teologiese fakulteit aan die NWU en SATS;

(vi) Besinning oor, beplanning vir en bestuur van alle moontlikhede om die onderskeie opleidingsbane vir diverse bedieningsmoontlikhede verder te struktureer en te vestig binne die vennootskap tussen die NG Kerk Vrystaat, Seminarium en akademiese instellings; en

(vii) Die opgradering van die bladsye wat op die webwerf van die NG Kerk Vrystaat aan teologiese opleiding toegewys is, sowel as die deurlopende benutting van kerklike media soos VRYPOS, Kerkbode en radioprogramme vir die bekendstelling van ons opleiding.

  1. Die Sinode doen ’n beroep op leraars, gemeentes en ringe,

(i) om deur hulle bediening van die Woord, sakramente en gemeenskap van geloof, spesifiek ook in kategese, ’n grondslag te lê waarop doop- en belydende lidmate die roepstem van God sal kan hoor, spesifiek ook vir opleiding in gereformeerde teologie en alreeds ingelei te word in die taal van daardie teologie;

(ii) om doop- en belydende lidmate by te staan en te begelei in die ontdekking van hulle gawes en besluitneming oor watter roete vir teologiese opleiding in hulle spesifieke omstandighede gevolg kan word, en hulle so spoedig moontlik in verbintenis met die Kuratorium en die prosesse rakende keuring, aansoeke en beurse te stel;

(iii) om hulleself te verbind tot die ondersteuning van gereformeerde teologiese opleiding deur die mentorskap van studente en óók om finansieel tot hierdie prioriteit van die NG Kerk Vrystaat by te dra; en

(iv) om vir die teologiese opleiding van die NG Kerk Vrystaat te bid, en vir elkeen daarby betrokke as aanbieders, mentors en dosente, sowel as vir elkeen van ons studente in opleiding.

  1. Die Sinode bevestig die uitnodiging van die Kuratorium aan ringe van die NG Kerk Vrystaat uit wie se geledere daar nie alreeds ’n verteenwoordiger in die Kuratorium dien nie, om jaarliks ’n afgevaardigde na die vergadering en legitimasieplegtigheid in November te stuur, ten einde die basis van gesprek oor en begeleiding van opleiding nog verder te verbreed.

Amptelik: Die ooreenkoms hieronder is utigetrek uit die notule van die Bloemfontein Sinode 2022. – Red

B2-3 VOORGESTELDE NUWE OOREENKOMS TUSSEN DIE NG KERK VRYSTAAT EN DIE UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT 2022

RAKENDE TEOLOGIESE OPLEIDING

  1. VERTREKPUNTE VAN DIE OOREENKOMS

1.1 Die Ooreenkoms tussen die NG Kerk Vrystaat (NGK VS) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) rakende die aanbieding van teologiese opleiding by die UV aan studente met die oog op ’n bediening in die NG Kerk, berus op ’n historiese verbondenheid tussen die Kerk en die Universiteit, wat sedert 1980 tot die totstandkoming en ontwikkeling van die Fakulteit Teologie en Religie (FTR) gelei het.

1.2 Die ooreenkoms erken die eiesoortigheid en selfstandigheid van sowel die NGK VS en die FTR (UV) as ’n openbare instelling, en wil die belange van beide instansies ten beste dien.

1.3 Die ooreenkoms bevestig opnuut die oortuiging van die NGK VS dat die teologiese opleiding wat tans aan die FTR (UV) aangebied word, sodanig aan die vereistes en verwagtinge van die Kerk voldoen, dat haar predikante binne hierdie konteks en etos aan die UV opgelei kan word.

1.4 Die ooreenkoms druk die oortuiging van die FTR (UV) uit dat kerklike betrokkenheid by die opleiding van studente van die NGK VS (soos met alle ander kerke), en die geestelike vorming en begeleiding van daardie studente tydens hulle opleiding, belangrik is en behou moet word.

  1. BEPALINGE RAKENDE AKADEMIESE AANBOD EN KURRIKULA

2.1 Die ooreenkoms maak voorsiening dat die NGK VS (soos alle ander kerke) van jaar tot jaar kurrikula en programme wat deur die FTR aangebied word, mag evalueer ten einde bepaalde kerkspesifieke behoeftes te kan identifiseer, daaroor met die fakulteit in gesprek mag tree en waar nodig deur haar Seminarium (TS NGK VS) mag aanvul.

2.2 Die ooreenkoms maak voorsiening dat verteenwoordigers van die NGK VS jaarliks as waarnemers by die finale akademiese evaluering van studente in uittree-modules betrokke mag wees.

2.3 Die ooreenkoms maak voorsiening dat die NGK VS (soos alle ander kerke) deur die FTR ingelig sal word oor vakatures wat in die dosentekorps mag ontstaan, die vereistes vir aanstelling en die curricula vitae van suksesvolle kandidate ten einde die kerk op hoogte te hou van die akademiese- en kerklike profiel van die dosentekorps verantwoordelik vir die opleiding van studente uit die NGK-familie.

2.4 Die ooreenkoms bied geleentheid aan sowel die universiteit as die kerk om hul eie keuringsprosesse van studente te behartig, sowel vir akademiese opleiding aan die FTR as vir die kerklike begeleiding, vorming en uiteindelike legitimasie deur die NG Kerk.

2.5 Die ooreenkoms erken die moontlikhede van formele nagraadse studie en verdere geakkrediteerde beroepsgerigte opleiding of volwasse leer/kort kursusse in die FTR vir leraars van en kandidate in diverse bedieningsbane van die NG Kerk.

  1. BEPALINGE VAN FINANSIëLE AARD

3.1 Die ooreenkoms skep ‘n nuwe grondslag vir die finansiële bydrae wat jaarliks deur die NGK VS tot die FTR (UV) gemaak word, naamlik:

3.1.1 Dat ‘n bedrag van ten minste R300 000 per jaar deur die NGK VS bewillig en aan die UV oorbetaal word om die geakkrediteerde akademiese opleiding in die FTR te ondersteun, met inagneming van die volgende opmerkings daarby:

(i) Die NGK VS bereken hierdie bedrag op die basis van R17 500 per ingeskrewe student van die NGK by die FTR per jaar (in 2022), wat beteken dat ‘n groei in die aantal studente van die NG Kerk ook groei in hierdie bedrag beteken;

(ii)Die NGK VS versoek die FTR om ‘n gedeelte van hierdie bedrag bewillig, aan te wend vir die aanstelling van ten minste een tydelik-deeltydse dosent uit die geledere van die NGK VS in elk van die ses hoofdissiplines van die teologie; en

(iii) Die NGK VS versoek die FTR om ten minste R20 000 uit hierdie bedrag bewillig, in ‘n noodfonds van die FTR te hou ter ondersteuning van studente in die fakulteit wat weens onvoorsiene omstandighede behoefte aan lewensmiddele beleef.

3.1.2 Dat ‘n bedrag van R50 000 per jaar in die Beursfonds vir Nagraadse Teologiese Studie van die NGK VS gereserveer word – bekend as die Jaap Durand Stipendium vir Gereformeerde Teologie – en waarvoor studente en dosente in die FTR amptelik aansoek kan doen met die oog op goedgekeurde navorsingsprojekte op magister of doktorale vlak, konferensies en die uitbouing van ‘n teologiese biblioteek met publikasies uit die reformatoriese tradisie.

3.1.3 Dat ‘n vaste voorsieningsbedrag van R5 000 per jaar in die begroting van die Kuratorium bewillig word vir ad hoc-projekte deur die studentevereniging georganiseer.

3.2 Dat die FTR jaarliks by die gebruiklike kuratoriumvergadering in November, terugvoer aan die NGK VS sal gee oor die aanwending van haar finansiële bydrae deur die FTR in die vorige finansiële boekjaar.

3.3 Dat die Kuratorium jaarliks in November aanbevelings oor ‘n aanpassing in die tersaaklike bedrag sal oorweeg.

  1. BEPALINGE VIR WEDERSYDSE SKAKELING EN VERTEENWOORDIGING

4.1 Die ooreenkoms maak voorsiening daarvoor dat die NGK VS (deur haar Kuratorium) ‘n vaste verteenwoordiger in die Kerklike Adviesraad (“Advisory Board”) van die FTR aanwys en sodoende op hoogte gehou sal word van beleidsaangeleenthede en algemene ontwikkelinge in kurrikula, personeel- en studente-aangeleenthede, en ook saam met ander kerke inspraak daarin sal kan hê.

4.2 Die ooreenkoms maak voorsiening daarvoor dat die FTR ter wille van goeie kommunikasie en skakeling oor sake van gemeenskaplike belang rakende die opleiding, deur die Dekaan self of sy/haar verteenwoordiger op amptelike uitnodiging vergaderings van die Kuratorium van die NGK VS kan bywoon.

4.3 Die ooreenkoms maak voorsiening dat wanneer ‘n dosent in die FTR (UV) aangestel is/word, die NGK VS haar kerklike verbintenis met sodanige dosent (en omgekeerd) mag uitdruk deur beroeping en bevestiging van so ‘n dosent deur die Kuratorium en wat ook, maar nie noodwendig, ‘n gemeentelike verbintenis mag behels.

4.4 Die ooreenkoms maak voorsiening dat dosente wat deur hul legitimasie en/of bevestiging aan die NG Kerk verbonde is, uit hul geledere ‘n verteenwoordiger kan aanwys wat op ‘n vaste basis as aangewese lid vergaderinge van die Kuratorium en die Algemene Kuratorium sal bywoon.

4.5 Die ooreenkoms maak voorsiening dat indien en wanneer nodig, die Kuratorium van die NGK VS of haar verteenwoordigers, al die dosente wat by die opleiding van kandidate vir ‘n bediening in die NG Kerk betrokke is, gesamentlik of individueel mag ontmoet om sake van gemeenskaplike belang te bespreek.

  1. ALGEMEEN:

5.1 Die ooreenkoms maak voorsiening dat daar op basis hiervan, ook ‘n Memorandum van Ooreenkoms tussen die Kuratorium en die FTR bestaan ten opsigte van die bestaan, bedryf en bestuur van die Teologiese Seminarium van die NGK VS wat in oorleg met die fakulteit, verantwoordelik is vir die aanvulling van akademiese kurrikula waar nodig, en vir die kerklike begeleiding en vorming van studente van die NG Kerk.

5.2 Die ooreenkoms tussen die NGK VS en die FTR (UV) is termyngebonde, en sal met ingang 1 Januarie 2023 van krag wees en kan elke vyf jaar met wedersydse kennisgewing hersien en hernu word.

5.3 Die instansie wat namens die NGK VS die nakoming van hierdie ooreenkoms bestuur en oor enige aangeleentheid wat uit die werking daarvan voortspruit, mag onderhandel, is die Kuratorium van die NGK VS, in oorleg met Bedieningsbegeleiding en die Moderamen van die NGK VS.

Geteken deur/te ….. ens.

1 thought on “Opleiding: Groen lig vir nuwe ooreenkoms met Universiteit van die Vrystaat”

  1. Dr Juanita Meyer, het gesê dat die universiteit, bied ’n veilige ruimte waar studente hulleself voorberei vir presies dieselfde diversiteit, kompleksiteit, uitdagings en transformasie wat hy of sy uiteindelik in hulle bediening in die oë moet kyk in die wêreld daarbuite.

    Behoort ’n kweekskool hulle nie voor te berei hoe om daardie uitdagings te hanteer eerder as om hulle daarmee te indoktrineer nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui