Is dit sonde om seker te wees?

Kyk ook:

Die volgende artikel is deur prof Johan Janse van Rensburg geskryf.

*********

Is dit sonde om seker te wees?

Daar is die afgelope tyd in Kerkbode standpunte gestel oor die voorbarigheid van teoloë en predikante wat so seker oor alles is. Volgens hierdie standpunt weet ons eintlik niks en kan ons oor niks seker wees nie.

Die postmodernisme, wat ten grondslag van hierdie aanprysing van onsekerheid lê, het van alle waarheid afskeid geneem.

Waarheid is met ’n veelheid van perspektiewe vervang en is ondefinieerbaar. By Derrida lê die waarheid altyd op die horison. Dit is onbereikbaar omdat “waarheid” nie slegs van persoon tot persoon verskil nie, maar ook van oomblik tot oomblik. Ons het dus nooit ’n greep op die waarheid nie. Paul Watzlaweck vra in sy boek: “Hoe seker is jy dat jy weet wat jy dink jy weet?”

’n Mens kry die indruk dat mense deesdae geïndoktrineer word om oor niks seker te wees nie. Diegene wat dit waag om met sekerheid ’n standpunt te stel, word gou afgekam met: “Ek verkies om meer beskeie te wees”. Dit is presies wat Brian McLaren in sy wyd-gelese boek Generous Orthodoxy bepleit. Verdraagsaamheid kom in die plek van sekerheid. Om seker te wees, verraai ’n gesindheid van arrogansie.

Dit alles laat ’n mens wonder of dit dan ’n sonde is om seker te wees? Gelowiges wat hulle op die Skrif vir hulle sekerheid beroep, word gou as fundamentaliste uitgekryt. Waar die Skrif dan nog sterk en duidelik praat, word gesê: “Die Bybel kan nie meer vir vandag se vrae en probleme gebruik word nie”.

Een van my baie probleme met hierdie standpunt is dat diegene wat onsekerheid verkies bo sekerheid, absoluut seker is dat daar geen sekerheid is nie! Terwyl al hoe meer suggereer dat ons nie oor God seker kan wees nie, is ek dankbaar dat ek oor Hom vaste sekerhede het. Ek is byvoorbeeld seker dat God bestaan omdat my hele lewe getuig van sy bemoeienis met my. Daar is te veel insedente wat eenvoudig onmoontlik aan toeval toegeskryf kan word. Ek is onder die indruk dat miljoene gelowiges hiervan kan getuig.

Ek is verder oortuig dat God goed is. Dit is nie alleen die Skrif wat dit sê nie maar my verstand bevestig dit. Immers, ’n God wat nie goed is nie, wat demonies en haatlik en destruktief is, mag iets anders wees maar nie God nie. Daarom bely ek saammet die Nederlandse Geloofsbelydenis dat Hy goed is en die aller-oorvloedigste bron van dit wat goed is.

Ek weet ook dat God liefde is. Hy het sy liefde aan ons openbaar deur sy Seun na die wêreld te stuur. Dit is van hierdie liefde waarvan Paulus so seker is dat niks ons van die liefde van God kan skei nie (Rom.8:38). Wie dit relativeer, trek ’n streep deur Jesus Christus se identiteit en sy verlossing. Dit kan ongelowiges natuurlik doen, maar nie gelowiges nie.

As ons oor hierdie en ander wonderlike dinge oor God seker is, gee ons beslis nie daarmee voor dat ons alles oor God weet nie. Trouens, dit is ’n valse voorstelling dat sekerheid oor God veronderstel dat ons alles oor God weet. Artikel 1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê uitdruklik dat God ’n onbegryplike wese is. Ons het dit nog altyd bely. Wanneer ons oor God praat of preek, sê ons in nederigheid en beskeidenheid ná wat die Skrif oor Hom openbaar sonder om voor te gee dat ons ’n greep op Hom het. Saam met die psalmdigter bely ons dat wanneer ons oor God dink en praat, ons tot die besef kom dat dit alles te hoog vir ons verstand is (Psalm 139). Ons weet goed dat ons eers eendag van aangesig tot aangesig sal sien en ten volle sal ken (1 Kor 13).

Die onbegryplike en ondeurgrondelike Wese van God maak dit egter nie onmoontlik om sekerhede oor Hom te hê nie. Dit is juis die valse teenstelling wat aan die wortel van die nuwe aanprysing van onsekerheid lê, dat ons vrae mag hê maar nooit antwoorde mag verwag of gee nie. McKlaren is so seker dat ons nie seker kan wees nie, dat hy verklaar dat hy nie eers oor sy eie standpunt seker is nie! Hoe op aarde kan ons mense met God in aanraking bring as ons só ’n boodskap verkondig?

Dit word gedurig voor gelowiges se koppe gegooi dat ons nie ons geloof kan bewys nie. Dit is tog nie die aard van geloof om wetenskaplike bewyse te probeer gee nie. Tóg lê die skrywer van die Hebreërbrief ’n uitdruklike verband tussen geloof en sekerheid. “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb 11:1). Om seker te wees en om oortuig te wees- dit is die aard van geloof en hoop. Wie dus ’n vlag laat wapper ten gunste van onsekerheid en die relativering van waarheid, moet besef dat die kern van die Skrif, die belydenisskrifte en die kerk daarmee verwerp word!

Hoe werk geloofsekerheid? Die einde van Josef se lewe gee ’n kragtige illustrasie. Hy herinner sy geliefdes daaraan dat God sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob gestand sal doen. God sál sy verbondsvolk, Israel, uit Egipte uitlei na die land wat Hy beloof het. En wanneer dit gebeur (en by Josef is daar geen twyfel dat dit sal gebeur nie), moet hulle sy liggaam saamneem om in die beloofde land begrawe te word (Genesis 50). Dit is geloofsekerheid!

  • Prof Johan van Rensburg is assessor van die Vrystaatse Sinode.
  • Hierdie artikel het ook in die Kerkbode van 6 Augustus 2010 verskyn.

1 thought on “Is dit sonde om seker te wees?”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui