Teologiese opleiding: Universiteit bied tog veilige ruimte, hoor sinode

Kyk ook:

 

*******

Teologiese opleiding: Universiteit bied tog veilige ruimte, hoor sinode | Kerkbode

Le Roux Schoeman

9 Maart 2022

Akademici met uiteenlopende perspektiewe was Woensdag (9 Maart) onder die sprekers wat aan ’n sinodegesprek in Bloemfontein oor teologiese opleiding en bedieningsbegeleiding deelgeneem het.

Johan Janse van Rensburg, ’n emeritusprofessor wat dekades lank in die bediening was, het die sinode met ’n wegspring-skyfie teen die grootskerm gewaarsku dat daar “’n probleem” met teologiese opleiding is. “Dit het te lank gebeur dat voorgegee is dat alles in orde is, dat daar volkome beheer is aan alles wat gebeur.”

“Ek is ’n voorstander van die apologetiek … dit is ’n wetenskaplike dissipline binne die sistematiese teologie, wat teologiese geloofsoortuigings wat op die Bybel gefundeer is, verdedig (en) begrond,” het Janse van Rensburg verduidelik. “Maar nou het ons ’n probleem dat die teologiese opleiding juis nie apologeties te werk wil gaan in die sin dat die studente opgelei word om ander standpunte af te wys nie,” het hy gesê. “Word die belydenis van die kerk werklik verdedig?” wou die oud-prof retories by die sowat 300 afgevaardigdes in ’n groot skuur op die Skougrond hoor.

Dr Juanita Meyer, ’n dosent by die Universiteit van die Vrystaat se teologiese fakulteit, het weer klem gelê op die kerk as skakel tussen opleiding en breër konteks. “Vriende, die diverse, komplekse, uitdagende en transformerende konteks van die universiteit, is uiteindelik ’n veilige ruimte waar studente hulleself voorberei vir presies dieselfde diversiteit, kompleksiteit, uitdagings en transformasie wat hy uiteindelik in sy bediening in die oë moet kyk in die wêreld daarbuite. Daar is geen immuniseringsruimte vir verandering van ons omgewing nie, en daar moet ook nie wees nie,” het Meyer gesê.

Ook die dekaan van die fakulteit waar Meyer doseer het ’n groeteboodskap aan afgevaardigdes gebring. “Met die veranderings oor die jare in ons land, kon die (teologiese) fakulteit (aan die Universiteit van die Vrystaat) nie onveranderd bly nie, maar moes ons transformeer in baie opsigte,” het prof Rantoa Letšosa gesê.

Die dekaan het die sinode daaraan herinner dat die universiteit NG studente tegemoet gekom het rondom onderrigtaalkwessies en ’n prentjie geskets van ’n algemene toename in studentetal by dié multidenominasionele fakulteit, met sy 17 dosente en (vanjaar) altesaam 219 studente. Daar was nog studente wat weggewys moes word, het Letšosa vertel.

In 2021 het die fakulteit ’n strategiese plan gefinaliseer, aldus Letšosa. Die nuwe visie is om teologie te doen “deur ’n verskeidenheid kontekstuele akademiese programme aan te bied en die doen van innoverende navorsing …” Hy het gesê die fakulteit wil in diens van haar vennote staan. “Kom ons vat saam hande in ’n moeilike tyd. Kom ons luister saam na die Woord van die drie-enige God en poog om verantwoordelik te leef as nuwe mense van Christus,” het hy ten slotte gesê.

  • Die videogreep hieronder deur NG Kerk Vrystaat was deel van die voorlegging wat tydens die bespreking gespeel is.

NG KERK VRYSTAAT | Teologiese Opleiding 2022

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui