Sinode Wes-Kaapland besluit oor selfdegeslagverhoudings (Mei 2019)

Jan Louw het die volgende brief aan Rapport geskryf in reaksie op die besluite wat geneem is tydens die Sinode Wes-Kaapland. Dit is egter nie geplaas nie.

************

Die Sinode van Wes-Kaap het pas besluite geneem wat kan lei tot die finale ondergang van die NG Kerk soos ons hom ken. Die Sinode het besluit dat mense in kerklike ampte aangestel word: “ONGEAG … SEKSUELE ORIËNTASIE EN –IDENTITEIT”. Hierdie besluit het verreikende wetlike implikasies vir die NG Kerk as dit later vanjaar ook by die Algemene Sinode aanvaar sou word.

LGBTQI+ is die akroniem wat nou algemeen vir mense se seksuele oriëntasies gebruik word. Die lys van seksuele oriëntasies en gender identiteite word gereeld opgedateer, soos wat meer en meer mense aanspraak maak op wetlike erkenning vir hulle seksuele identiteite.

Die Kerk het nog ’n geleentheid om hom voor die gereg op sy Bybelse standpunte te beroep, oor gebruike in die kerk, maar nou blyk dit uit die besluite van die Sinode, dat die NG Kerk hom nie meer op die Bybel wíl beroep in etiese sake nie. Die Sinode beweer dat ons verskil oor Skrifuitleg in hierdie saak en dat voortgaande besinning hieroor nodig is (asof die Bybel nie duidelik oor hierdie saak is nie).

In Oktober vanjaar vergader die afgevaardigdes van die NG Kerk andermaal vir hulle kerk se “beleidsinode”. Hulle gaan duisende kilometers reis om te praat oor: “ongeag … seksuele oriëntasie en –identiteit” in die ampte.

As die NG Kerk nie bereid is om die Woord van die Here te gehoorsaam nie, voorspel die komende Algemene Sinode vir ons in die Kerk net ontnugtering en vernedering.

“O onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie?” (Gal 3:1 – 1953 vertaling). Wat sou die apostel Paulus vandag vir die NG Kerk sê as hy moet belewe hoe die vermaninge in sy briewe aan die kerk geminag word?

Ds Jan Louw

Reitz

**************

Sinode Wes-Kaapland besluit oor selfdegeslagverhoudings | Kerkbode

15 Mei 2019

Kerkbode

Na ’n bespreking en stemproses wat meer as drie ure geduur het, is die voorstel van die moderamen, met bepaalde amendamente, deur die sinode goedgekeur. Twee amendamente is ingedien waarvan een aanvaar en die ander van die hand gewys is. Hier volg die die volledige voorstel wat goedgekeur is, soos aan Kerkbode verskaf.

1. Die Sinode neem kennis van STLAS [Sinodale Taakspan Leer en Aktuele Sake] se verslag na aanleiding van die moderamen se opdrag aan STLAS, te wete:
1.1 om die besinning in gemeentes oor selfdegeslagverbintenisse aan te moedig en te fasiliteer, en
1.2 om ’n gefundeerde voorstel oor selfdegeslagverbintenisse via die moderamen aan die sinode voor te lê.2. Die sinode neem kennis dat ’n toenemende aantal gemeentes aan die hand van STLAS se gespreksmateriaal en versoeke, gesprekke oor selfdegeslagverbintenisse begin voer het en dat dit tot groter begrip vir mekaar se standpunte gelei het.3. Die sinode neem verder kennis dat gemeentes, ongeag die posisie wat ingeneem word, daarin slaag om:
3.1 met integriteit, openheid, broosheid en respek aan die gesprek deel te neem,
3.2 waardering te kry vir die kompleksiteit en sensitiwiteit van die saak,
3.3 te besef dat dit uiteindelik oor die lewens en menswaardigheid van mede-broers en -susters in Christus gaan.4. Die sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg in hierdie saak tot ’n vasgelooptheid in die gesprek gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.5. Die sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.

6. Die sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.

7. Die sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
7.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
7.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
7.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

8. Die sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.

9. Die sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:
9.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
9.2 toegang tot die sakramente,
9.3 integriteit van verhoudings, en
9.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
9.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

Prosesvoorstel vir die Algemene Sinode

10. By die legitimasie en ordening van teologiese studente, moet die studente se:
10.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
10.2 toegang tot die sakramente,
10.3 integriteit van verhoudings, en
10.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

SINODESITTING VAN WES-KAAPLAND: Selfdegeslagverbintenisse (Youtube)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui