NGK kyk nou na saambly

Kyk ook:

NGK kyk nou na saambly | Netwerk24

Deur Johan Eybers

19 Mei 2019

Eers was daar die debat oor gay huwelike, nou kom saamwoon buite die eg onder die sinode se loep, berig Johan Eybers.

Die vraag of saamwoon en die wetlike huwelik die enigste model vir seksuele verhoudings hoef te wees, kan weer onder die loep kom in die NG Kerk (NGK).

Die sinode van die NG Kerk Wes-Kaapland het besluit om ’n studie oor die huwelik en menslike seksualiteit te doen wat volgens predikante kan draai by die vraag of daar herbesin moet word of die huwelik die enigste plek is vir seksuele verhoudings.

Dié besluit vorm deel van ’n mosie om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag.

Die sinode het gay lidmate en hul families ook om verskoning gevra vir die “verloop van die debat en besluite in die kerk die afgelope jare” oor selfdegeslagverhoudings.

Dié mosie is Vrydag met ’n oorweldigende meerderheid by dié streeksinodesitting by die Goudini-spa naby Worcester in die Wes-Kaap aanvaar.

“Die mosie is betekenisvol omdat dit die eerste keer is dat dié sinode jammer en dankie sê vir sy gay lidmate,” sê ds. Louis van der Riet, wat die mosie voorgestel het.

Die mosie lui: “Die sinode betreur dit dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het” en “die sinode vra gay lidmate en hul families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het”.

“Die sinode bedank gay lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.”

Van der Riet (29), wat self gay is, is in Februarie as leraar van die NG Kerk Parke in Kraaifontein, Kaapstad, bevestig.

Saamwoon is nooit uitdruklik genoem nie, maar Van der Riet glo die gesprek kan uiteindelik by hierdie netelige saak gaan draai.

“Dit is beduidend dat daar uiteindelik oor die huwelik en sek­sualiteit gepraat kan word en dat die huwelik nie die enigste plek is vir seksuele verhoudings nie. Ruimtes moet groter gemaak word vir saamblyverhoudings en selfdegeslagverhoudings. Daar is geen teologiese gronde dat slegs die huwelik heilig en Godgegewe is nie.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, algemene moderator van die NGK en herverkose Wes-Kaapse moderator, sê dit is te vroeg om te sê wat die uitslag van die studie gaan wees.

“Ek is versigtig om oor uitkomste te bespiegel. Die gesprek oor saamwoon is nooit op die tafel gesit nie, en dit is nie ’n refleksie van wat by die sinode gesê is nie. Die kerk is duidelik daaroor dat dit nie saamwoon goedkeur nie,” sê hy.
Van der Riet sê dit was vir hom “verblydend om die eerste openlike gay predikant by ’n sinodesitting te wees wat ’n mosie op die tafel kon plaas” en dat dit “boonop aanvaar is”.

Ingevolge die mosie dra die sinode dit aan die sinodale taakspan vir leer en aktuele sake op om voort te gaan met ’n studie oor die huwelik en menslike seksualiteit “met die oog op terugvoering aan die volgende sinode”.

’n Verslag van die taakspan oor selfdegeslagverbintenisse is ook by die sinode ingedien waarin sek­sualiteit bespreek is.
“Alle liefdesverhoudings waarbinne seksuele aktiwiteit ter sprake is, ongeag oriëntasie, moet in die ruimte van permanente verbintenisse geskied, sodat daar ruimte is vir trou aan God en aan mekaar, en promiskuïteit teengewerk word,” lui die verslag.

Die streeksinode het voorts verklaar dat die taakspan ’n formulier moet ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag en dat die algemene sekretaris van die algemene sinode gemeentes moet inlig wanneer die registrasieprosedure by die departement van binnelandse sake afgehandel is “ten einde uitvoering te gee aan die 2015-besluit van die algemene sinode” dat selfdegeslagverhoudings goedgekeur word en deur predikante bevestig kan word.

Ds. Michelle Boonzaaier (45), predikant van die Brackenfell-gemeente in Kaapstad, sê sy beskou die mosie as ’n stap in die regte rigting. “Ons is nog nie waar ons moet wees nie, maar ons skep met hierdie mosie ruimte vir respek, diversiteit en hoop – om meer eerlik langs mense te staan.”

Boonzaaier het Woensdag die eerste gekleurde vrou geword wat lid van die Wes- en Suid-Kaapse moderatuur is. Sy en Laurie Gaum was van die teoloë wat 11 lidmate verteenwoordig het in die hofsaak teen die NG Kerk se besluit in 2016 teen gay verbintenisse.

Gaum sê die jongste verskoning aan gay lidmate beteken nie veel nie. “Daar is vorige kere al verskoning gevra vir dieselfde ding.”

Die algemene sinode het in 2004 om verskoning gevra “vir die pyn en onreg wat ons aan homoseksuele persone en hul geliefdes veroorsaak het”.

“Ek sou verwag dat die kerk en spesifiek die verantwoordelike persone wat die hofsaak vroeër vanjaar teengestaan het egte berou sou toon nadat die hof vir hulle moes sê hulle vertrap gay mense se regte. Dit sou help in die genesingsproses.
“Ek glo ’n restitusie- en versoeningsproses is nou nodig en ek sal graag wil weet hoe dit gaan lyk.”

Gaum sê indien die studie oor menslike seksualiteit beteken dat heteroseksuele mense met die kompleksiteit van hul ervaring as seksuele wesens na die tafel kom, “sal dit maak vir interessante nuwe gesprekke”.

  • Die sinode het Woensdag ook gestem om kerkrade se reg om self gesprekke oor selfdegeslagverhoudinge te voer, te eerbiedig en dat seksuele oriëntasie en identiteit soos in die geval van ras en geslag nie oorweeg moet word nie wanneer mense in ampte aangewys word. Die streeksinode het toe so ’n prosesvoorstel aan die algemene sinode goedgekeur.

Die moderamen het in sy verslag gesê die besluite oor selfdegeslagverhoudings van die algemene sinode van 2015 en 2016 het tweespalt onder lidmate veroorsaak.

“Sommige leraars het gerapporteer dat hulle dit moeilik vind om verder oor die onderwerp te praat. Kerkrade was diep verdeeld. Ander kerkrade was eenstemmig. Die debat het diep verskille oor die hantering van die Skrif ontbloot.
“Daar was ook sterk verskille oor die oorsake en omkeerbaarheid van homoseksualiteit.

“Die betekenis en waarde van die huwelik is ook onder die loep gebring. Die sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg in hierdie saak tot ’n vasgelooptheid in die gesprek gelei het.”
Dit is veels te duur om ’n dominee te word.

Daarom gaan die NG Kerk (NGK) deeltydse kursusse en afstandonderrig aanbied om lekepredikers op te lei en selfs diakens en ouderlinge toelaat om te preek.

Die uitbreiding van die kerk se teologiese opleiding is ook ’n manier om leraars op te lei wat later in hul lewe tot die amp geroep word en dit as ’n tweede loopbaan wil bedryf.

Só sê dr. Frederick Marais van die Algemene Kuratorium oor die NGK se besluit om sy teologiese opleiding uit te brei weens “ekonomiese werklikhede” en die “verskuiwende konteks” van die kerk.

Teologiese opleiding is bespreek op die vierde dag van die Wes-Kaapland sinodesitting by die ATKV Goudini Spa naby Rawsonville, waar ’n verslag van ’n taakspan met aanbevelings voorgelê is.

Die kerk wou “die eskalerende koste van voltydse, residensiële studie aanspreek wat verhinder dat talle geroepenes teologie kan studeer”.

Dit neem tans ses jaar se voltydse studie aan ’n universiteit om as ’n predikant in die NG kerk beroepbaar gestel te word.
“Terselfdertyd kan ’n groeiende groep gemeentes nie voltydse leraars en ’n pastorie bekostig nie. Dit is net nie meer haalbaar om drie voltydse predikante in diens te neem nie.”

Marais het aan Rapport verduidelik dat heelwat gemeentes in die verlede hul deure moes sluit toe lidmate skielik minder geword het en hulle nie meer kon bekostig om die kerk se tradisionele bedieningsmodel te volg nie.

Nuwe gemeentes kon boonop net gestig word as hulle kon bekostig om ’n voltydse predikant aan te stel.

“Dit is ’n foutlyn wat ons nou regmaak deur ons teologiese opleiding na vyf vlakke uit te brei. Diakens en ouderlinge sal hierdeur self die woord op die preekstoel kan verkondig,” sê hy.

Volgens Marais het die kerk ses jaar gelede besluit om ’n “missionale kerk” te wees en ’n opleidingsplan te ontwikkel om hiervoor voorsiening te maak.

Die kerk se algemene sinode het toe gesê die kerk wil nie net die geloof met die mond bely nie, maar moet dit verder met dade van liefde en genade getuig.

“Dit het ses jaar se beplanning gekos. Die vernaamste probleem wat ons moes oplos is die stygende koste van voltydse studie wat talle geroepenes verhinder om aan te meld vir opleiding,” sê Marais.

Aanlynkursusse sal aangevul word met mentorskap, blootstelling, deelname en bediening in gemeentes.
Dit volg die vereistes van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) met vlakke wat gelykstaande is aan predikante se eerste-, tweede- en derde-jaar opleiding, honneurs- magister- en doktorsgrade.

¦ Intreevlak-opleiding is vir ouderlinge of diakens wat eredienste wil lei.

¦ “Diensleraars” sal opgelei word om die jeug te bedien, gemeenskapswerk te doen of ’n nuwe kerk te begin.

¦ “Standplaasleraars” ontvang gespesialiseerde opleiding om byvoorbeeld die dowes te bedien.

¦ Die vierde en vyfde vlak is gemeenteleraars met ’n B-graad wat reeds in ’n beroep staan of voltydse opleiding ondergaan het.

Volgens Marais sal iemand met geen universiteitsopleiding nege jaar deeltyds moet studeer om op dié manier ’n graad in teologie te verwerf. Kerkrade sal die keuring doen.

Marais sê wysigings sal by die vierjaarlikse algemene sinodesitting in Oktober aangebring word om die uitbreiding van teologiese opleiding te verwesenlik.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die streeksinode, het die verwikkeling by die sinode as “grondverskuiwend” beskryf.

3 thoughts on “NGK kyk nou na saambly”

  1. I do not know how we even got to this point. Do we as believers not believe God’s word to be the Truth we follow? Have we become greater than God? Marriage was instituted by God for a reason. One man, one women as a sign of His love for His Church. I am a member of the DR Church and this is not what I believe God wants. Yes we are to Love the sinner but hate the sin and homosexuality is a sin. One day we will all stand before God and He will judge us according to His Word. It’s not too late to return to the Bible. Next the Church will condone abortion, child abuse, slavery, and who knows what just to be accepted by society! I pray God brings persecution to the Church so we will be forced to stand for truth. Those who stand for nothing will fall for everything! May God have mercy on us.

  2. Met betrekking tot die aanhaling: “Dit is beduidend dat daar uiteindelik oor die huwelik en seksualiteit gepraat kan word en dat die huwelik nie die enigste plek is vir seksuele verhoudings nie. Ruimtes moet groter gemaak word vir saamblyverhoudings en selfdegeslagverhoudings. Daar is geen teologiese gronde dat slegs die huwelik heilig en Godgegewe is nie.”

    Baie dankie vir jou artikel Daniel. Wie se woorde is in die paragraaf hierbo: Louis van der Riet of Nelis Janse van Rensburg? Ek wil die aanhaling gebruik, maar is nie seker wie dit gesê het nie.

    Groete
    Ivor Jefferies

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui