Wes-Kaapland wil verskillende standpunte akkommodeer

Kyk ook:

Dit is duidelik dat daar skeuring in die NG Kerk kom. Die verdeeldheid is groot, en die saak is te groot om verskillende sieninge daaroor te akkommodeer nie.

***********

Wes-Kaapland wil verskillende standpunte akkommodeer

23 November 2016, Lenois Stander

Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland moedig almaI in die sinode aan om deel te neem aan ’n proses waarin ruimte ontwikkel word vir verskillende standpunte.

Dít kom na die besluit van die Buitengewone Algemene Sinode 2016 dat seksuele omgang tussen man en vrou slegs in die huwelik hoort.

Die moderatuur van Wes-Kaapland sê “dit is teen hierdie tyd duidelik dat daar verskillende sienings en standpunte is en dat ons eerder die fokus behoort te verskuif na die hantering van die diversiteit van standpunte as om mekaar te oortuig of tot ’n enkelvoudige posisie te probeer dwing”.

Teen hierdie agtergrond beklemtoon die moderatuur die ruimte wat die 2016-besluit vir gemeentes bied om in hul eie konteks, onder leiding van die Heilige Gees, te onderskei.

Die moderatuur neem ook ’n aantal inisiatiewe om voortgaande dialoog op gemeentevlak aan te moedig met die oog daarop om insette van gemeentes en ringe te ontvang.

Die besluit lui:

————————-

Besluit van die moderatuur van Wes-Kaapland oor SGV-besluit van die Algemene Sinode

Sedert die afgelope buitengewone vergadering van die Algemene Sinode het die moderatuur uit verskeie gemeentes reaksie ontvang wat getuig van onsekerheid, verwarring, woede, hartseer, dankbaarheid en vreugde. Daar word telkemale versoek dat die moderatuurleiding moet gee oor die interpretasie en toepassing van die besluit van die 2016-Algemene Sinode oor die hantering en status van persone wat in selfdegeslagverhoudings is en ook oor ’n moontlike pad vorentoe.

In ons soeke na ’n weg vorentoe wil die moderatuur almaI in die Sinode van Wes-Kaapland aanmoedig om deel te neem aan ’n inklusiewe proses waarin ons saam ruimte ontwikkel vir die verskillende standpunte.

Die situasie is tans dat die 2015-besluit oor die posisie van gay lidmate en ampsdraers wat in selfdegeslagverhoudings is, vanweë appèlle om kerkordelik tegniese redes nietig verklaar is. Die 2016-besluit aan die ander kant, het ook ontsteltenis en verdeling in die kerk gebring, omdat dit geïnterpreteer word as ’n ommekeer van die 2015-besluit.

Sommige wat in 2015 bly en dankbaar was, is nou teleurgesteld, terwyl van die wat in 2015 bekommerd en selfs kwaad was, nou verlig is. Ons bevind ons dus in die ongemak van ’n wipplank situasie wat ernstige implikasies vir die geloofwaardigheid van die kerk het. Baie lidmate en ander mense in die gemeenskap word hierdeur verwar en verloor hulle respek vir die leiding van die kerk. Dit is veral ons gay lidmate en hulle families en vriendekringe wat die diepste hierdeur geraak word.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat daar verskillende sienings en standpunte is en dat ons eerder die fokus behoort te verskuif na die hantering van die diversiteit van standpunte as om mekaar te oortuig of tot ’n enkelvoudige posisie te probeer dwing. Ons moet as familie van Jesus Christus leer om ruimte te maak vir mekaar en ons gaan dit aIleen regkry as ons bereid is om verskillende standpunte te akkommodeer en mekaar se bona fides te aanvaar. Dit is daarom belangrik dat ons mekaar nie verketter nie en ons verbind tot versoenende gesprekke en voortgaande dialoog.

Die moderatuur het die 2016-besluit goed bestudeer en wys graag daarop dat die besluit ruimte vir gemeentes laat om in hulle eie konteks opreg en onderskeidend na die leiding van die Heilige Gees oor die aangeleentheid te soek. Die Algemene Sinode het in die besluit oor selfdegeslagverhoudings verklaar: “om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees diegemeentes nie oortuig het nie”. Verder het die Algemene Sinode “bevestig dat kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien”.

Met bogenoemde in gedagte het die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland besluit om die volgende inisiatiewe te neem:

1. Die moderatuur is oortuig daarvan dat die beste besluit oor hierdie baie sensitiewe saak binne die veilige pastorale ruimte van die plaaslike gemeente en konteks geskied en daarom moedig ons gemeentes aan om goed hieroor te dink, lidmate te help om geloofsonderskeidend hieroor met die Woord om te gaan en te help om hieroor in gesprek met mekaar te gaan. Ons weet dat talle gemeentes reeds daarin slaag om hierdie ruimtes te skep en ons sal in die voortgaande proses by hulle wil leer.

2. Die moderatuur versoek die Diensgroep vir Toerusting om, saam met die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, gemeentes en ringe hierin te ondersteun deur toepaslike prosesse en strukture in plek te stel.

3. Die moderatuur beoog om geleenthede te skep om met gay lidmate en die gay gemeenskap gesprekke te voer. Ons is verbind daartoe om nie óór gay lidmate te praat sonder om mét hulle te praat nie. Die moderatuur roep gemeentes en lidmate op om dieselfde te doen en moedig ook kerkrade aan om lidmate en lede van die gemeenskap wat normaalweg nie deel is van ons vergaderings nie, in te nooi en welkom te laat voel om ons met insigte en wysheid oor standpunte en praktyke te bedien.

4. Die moderatuur onderneem om, na gelang die proses van onderskeiding en dialoog oor hierdie saak in ons gemeentes en ringe ontvou, die moderamen vroeg in 2017 te adviseer ten opsigte van voortgaande kerklike prosesse van onderskeiding.

5. Ten slotte: Dit is vir ons duidelik dat ons moet voortgaan om oor hierdie saak geloofsonderskeidend na die wil van die Here te soek. Ons moet onsself ook oopstel om van mekaar te leer en mekaar opreg te verstaan. Ons persoonlike persepsies, standpunte en vooroordele mag nooit die grense van ons luisterproses word nie. Kom ons doen die eg Bybelse ding: nooi mekaar uit vir ete, spandeer tyd saam met hulle van wie ons verskil, bid saam, lees saam die Woord, sit saam aan die nagmaalstafel en herinner mekaar aan die onbegrensde genade van die doop. [Ek lees baie duidelik ’n ander Bybel as hierdie mense. Kyk Die Bybel oor dwaling.] En wanneer ons van mekaar verskil, kom ons doen dit met respek wat ruimte vir mekaar laat. So kan ons bou aan die onderlinge vertroue en die eenheid wat daar in Jesus Christus is.

Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland

22 November 2016

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui