Die algemene sinode reik ’n persverklaring uit oor selfdegeslagverhoudings, 10 Oktober 2019

Kort nadat die NG Kerk se algemene sinode ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings het hulle hierdie persverklaring uitgereik.

*******

Persverklaring: Selfdegeslagverhoudings | Kerkbode

10 Oktober 2019

Die NG Kerk se Algemene Sinode is daartoe verbind om geloofsonderskeidend wysheid te vind oor moeilike etiese sake. Die Bybel, as die Woord van God, is die basis van ons nadenke oor ons identiteit en dissipelskap.Na ‘n lang en moeisame proses van studie, gesprek, luister en onderskeiding het die Sinode nou die volgende besluit oor selfdegeslagverhoudings geneem:

  1. om die 2015-besluit van die Sinode op grond van prosedurele redes ter syde te stel;
  2. dat

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.

2. Die sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.

3. Die sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.

4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en

4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.

6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:

6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

6.2 toegang tot die sakramente,

6.3 integriteit van verhoudings, en

6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem

6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

7.2 toegang tot die sakramente,

7.3 integriteit van verhoudings, en

7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag te neem, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,

8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Ook dat daar ʼn span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ʼn ingeligte besluit te neem.

10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

11. Die Algemene Sinode

11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;

11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;

11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.

11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.

12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

Die volgende besluite is saam met die bogenoemde besluit, steeds geldende besluite van die NG Kerk:

HUWELIK, Promiskuïteit EN SELFDEGESLAG VERHOUDINGS

Die AS 2007 het die volgende besluite bevestig:

1. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.

2. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

3. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

(uit Handelinge AS 2007, pp 204-205, pte 12.2 en 12.3)

Die volgende aanbevelings is ook verder goedgekeur:

Die Algemene Sinode

1. bevestig dat vorige besluite insake homoseksualiteit, selfdegeslag verbintenisse en huwelike gewysig en/of vervang is met nuwe besluite;

2. bevestig dat vorige besluite oor die huwelik en promiskuïteit steeds die geldende besluite is;

3. versoek dat hierdie besluite volledig in die Kerkordeboek opgeneem word;

4. neem kennis dat besluite oor selfdegeslag verbintenisse vir gemeentes buite die RSA onderworpe is aan daardie land se wetgewing;

5. besluit dat hierdie verslag met die oog op persverklarings die boodskap is wat die Algemene Sinode aan die wêreld bekend sal maak as die huidige amptelike standpunt van die Algemene Sinode.

Die Algemene Sinode is daarvan bewus dat al hierdie besluite op verskillende maniere toepaslik is in die lande waarin ons gemeentes teenwoordig is.

Die Algemene Sinode onderneem om met behulp van ‘n taakspan sinodes te ondersteun wanneer daar verder nagedink word oor die betekenis en waarde van die bostaande besluite. Die Sinode hoop dat die bostaande besluite lewegewende ruimte sal bied vir gelowiges met verskillende oortuigings oor die aangeleentheid.

Die vergadering van die Algemene Sinode het in ‘n baie goeie gees plaasgevind. Die lede is daartoe verbind om die besluit oor Selfdegeslagverbintenisse ten volle te ondersteun.

Geteken

Gustav Claassen

Algemene Sekretaris / General Secretary
Nederduitse Gereformeerde Kerk / Dutch Reformed Church
Posbus 13528
Hatfield, Suitd-Afrika, 0028
+27 (12) 342 0092
+27 (12) 342 0380
+27 82 856 1943
gustavc@ngkerk.org.za
info@ngkerk.org.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui