Sê néé vir onreg

Kyk ook:

Die volgende artikel het op 14 Januarie 2015 in Die Burger verskyn.

********

Sê néé vir onreg

Woensdag 14 Januarie 2015 05:50

Dit is ’n verskriklike tragedie dat Christene so dikwels die voorhoede vorm van diegene wat onreg probeer handhaaf, in plaas daarvan om dit met mening te bestry, skryf Frits Gaum.

Daar is vandag groter onverdraagsaamheid in Suid-Afrika teenoor gays as tien jaar gelede, skryf Elsabé Brits (“10 jaar ná gay-deurbraak”, DB, 29.11.14). Amanda Gouws meen in dieselfde artikel dat as ons vandag ’n referendum oor die Wet op Burgerlike Verbintenisse gehad het, sou die meeste mense daarteen gekant wees. En Vasu Reddy voeg by dat mense met sterk geloofsoortuigings dikwels onverdraagsamer teenoor gays is, “maar daar is grade”.

Al sou ’n mens jou met ’n Jeanne Goosen wou verweer – “ons is nie almal so nie” – is dit blykbaar waar dat baie Christene die laaste jare onverdraagsamer teenoor homoseksualiteit geword het. So is daar by ’n onlangse streeksinode van die NG Kerk aangevoer dat die opsionele aanvaarding van die Belydenis van Belhar die deur vir allerlei ongeregtighede, soos homoseksualiteit, oopmaak. Dít terwyl juis Christene behoort te weet dat die ongeregtigheid in dié geval nie geleë is in homoseksualiteit as sodanig nie, maar in die wyse waarop gelowiges die Bybel misbruik om gay mense oor die kop mee te slaan.

Die algemene sinode van die Presbiteriaanse Kerk in die VSA – ’n hoofstroomkerk met sowat 1,8 miljoen lidmate – het in Junie verlede jaar twee waterskeidende besluite geneem. Die eerste is om te begin met ’n proses om die Belydenis van Belhar as deel van sy belydenisgrondslag te aanvaar. Die tweede is om gay-verbintenisse te erken, sy definisie van “huwelik” in sy kerkorde te herskryf, en om sy predikante toe te laat om gay-huwelike te bevestig in die Amerikaanse deelstate waar dit wettig is.

Dié twee besluite op een en dieselfde sinodesitting deur ’n kerk met ’n belydenisbasis wat in baie opsigte met die NG Kerk s’n ooreenstem, moet as merkwaardig beskou word. Want soms word geredeneer dat, om so baie hooi gelyktydig op die kerk se agenda te pak, net te erg is. Vat dit stadig, één saak op ’n keer . . .

​Maar die werklikhede van die lewe en die eise van ons tyd laat so ’n stelselmatige “afhandeling” van sake selde toe. Om relevant te bly moet die Kerk op elke tydstip dáárdie sake wat om watter rede ook al op sy agenda kom, daadwerklik hanteer en dit nie maar vredesonthalwe op die langebaan probeer skuif nie.

So het ons alte lank gewag voordat die onreg van apartheid in duidelike taal aan die kaak gestel is. En het ons te lank gewag voordat die onreg wat teen vroue in en buite die kerk gepleeg is, by die naam genoem is. En het ons te lank gewag voordat ons die onreg teen gay mense in Kerk en samelewing raakgesien het. Onreg. Dis wat dit was, dis wat dit is.

En nou sê die Belydenis van Belhar – die einste belydenis waaroor ook die NG Kerk tans met prosesse besig is om te besluit of dit deel sal word van die Kerk se belydenisgrondslag – in duidelike taal: “Ons glo (. . .) dat die Kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder meer ook sal inhou dat die Kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom” (artikel 4).

Dit bly ’n groot jammerte dat die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), dié kerk in wie se hart die Belydenis van Belhar ontstaan het, dit klaarblyklik nog nie reg verstaan nie. Die Belydenis van Belhar gaan oor die onreg van apartheid, ja (hoewel apartheid nie by die naam genoem word nie), maar óók oor “enige vorm van ongeregtigheid” (wat ook nie by name genoem word nie, maar wat duidelik beteken onreg teenoor énigiemand en in watter vorm ook al). Maar toe daar ’n paar jaar gelede ’n studiestuk voor die algemene sinode van die VGK gedien het wat juis uitgespel het dat Belhar óók onreg teen gay mense afwys, het die sinode gehiernatoe en gedaarnatoe, maar op die ou end nie kans gesien om dit so te aanvaar nie.

Sedertdien hiernatoe en daarnatoe hulle steeds en skuif dié tameletjie van die een sinode na die volgende. Daarom het hulle dit ook nog nie oor hul hart gekry om die afgestudeerde teologiestudent in hul midde wat oop kaarte oor sy gayskap gespeel het, te legitimeer nie.

Die VGK vergeet blykbaar onreg in sy vele gestaltes blý onreg –of dit nou onreg teen tien of onreg teen tienduisend is. Onreg laat hom nie prioritiseer nie.

Maar is dit regtig onreg as ons gay mense met die nek aankyk? Is dit nie wat die Bybel, wat die Here, van ons verwag nie? Daar is mos ’n paar tekste in die Bybel . . .

Ons verstaan egter deesdae al hoe beter dat die Bybel hom nêrens uitlaat oor homoseksualiteit soos ons dit vandag ken en verstaan nie (die term “homoseksualiteit” dateer in elk geval uit die 19de eeu). Die algemene sinode van die NG Kerk het dan ook in 2007 onomwonde die menswaardigheid van álle mense erken en dit gestel dat “alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en hulle word op grond van hul doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar”.

Maar toe haak die sinode vas en ag hy party mense tog ’n bietjie minder as ander en reken hy gay mense moet (anders as ander menswaardige mense, maar nes Katolieke priesters) “selibaat” wees as hulle predikant wil word. En van gay verbintenisse wou die sinode ook niks weet nie.

Dié mense, so skryf die Kerk by implikasie voor, móét enkellopend deur die lewe gaan, anders as ons ander menswaardiges wat self kan besluit.

Maar nou word dié sake weer onder die loep geneem. ’n Brief van 26 lidmate waarin gevra is dat die Kerk weer goed oor hierdie sake moet dink, het die sinodetafel in 2013 net-net gehaal. ’n Taakspan is toe aangewys wat die kwessie weer moet bedink en bekyk. En vanjaar moet die algemene sinode van die NG Kerk groot besluite neem. Oor die Belydenis van Belhar, ja, maar hopelik ook oor die implikasie van dié belydenis: dat die Kerk moet getuig en stry teen énige vorm van ongeregtigheid.

En dis ongeregtigheid, dis onreg, as sommige mense in hul menswaardigheid aangetas word deur doelbewus sekere deure vir hulle toe te maak wat vir ander mense wawyd oop staan. En dit omdat hulle is wat hulle is.

Dit is ’n verskriklike tragedie dat Christene so dikwels die voorhoede vorm van diegene wat onreg in sy verskillende gestaltes probeer handhaaf, in plaas daarvan om dit met mening te bestry in die naam van dié Een wie se verjaardag ons met Kersfees vier.

  • Frits Gaum was moderator van die NGK-sinode van Wes- en Suid-Kaapland.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui