Op soek na safe spaces…

Dit is ’n skreiende skande dat die NGK se nuusblad Kerkbode so ’n berig plaas wat openlik homoseksuele huwelike goedpraat. Maar dit is ongelukkig nie die eerste keer nie – dit herinner ’n mens dadelik aan wat in 2006 gebeur het toe Ben du Toit en Kobus Gerber, die NGK se parlementêre verteenwoordigers op daardie stadium, die Suid-Afrikaanse parlemênt aangemoedig het om homoseksuele huwelike te wettig (kyk NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word).

’n Mens het in ’n groot mate simpatie met mense soos Erna en Liezl. Dit lyk regtig of hulle goeie mense is met deernis vir ander. Hulle sê dat hulle lief is vir God, maar ware liefde vir God is gehoorsaamheid aan Hom (1 Sam 15:22-23, Joh 14:15, Joh 15:10,14, Ps 40:7, Jer 7:22-23). Vandag het dit net te eenvoudig geword om sonde te aanvaar – ek lê dit grootliks voor die deur van die NGK leierskap.

***************

Op soek na safe spaces… | Kerkbode

Kerkbode, 23 Januarie 2015

Annalise Wiid

Hulle huis ruik na vars-uit-die-oond piesangbrood toe sy die voordeur oopgooi. Vlak binne die deur vang ’n swartbord my oog: “Hartlik welkom in die hartland van ons huis”, staan daar geskrywe. Dit gee my onmiddellik die gevoel (en gerusstelling): Hier kan ’n mens tuiskom. Dit is ’n safe space.

Nie lank nie of ons sit gesellig om die lang houttafel met groot bekers moerkoffie en eet almal meer as wat ons moet agter die lekker aan.

Hulle hou van braai, hoor ek. Van gróót vuur maak. Genoeg dat jy sommer ’n skaap kan spit as jy wil. Sondagaande kuier hulle met hulle hegste vriende – kry só krag vir ’n nuwe week se uitdagings. Hulle lag baie. Kom goed oor die weg met die bure.

Hulle maak ’n kind groot. Hulle fliek en Facebook en blog. Net so middelklas en alledaags soos ek en jy. Tussen ons geselsdeur lag hulle ook soms oor die seermaak-goed van vroeër jare. Maar dit is nie ’n ligsinnige lag nie. Hulle lag met diep deernis en sonder skerp kante.

Hulle twee steekbaard-honde kom lê by ons voete. Buite, in die tuin, staan hulle dogtertjie, Ami, se helderbont pophuis. Ons gaan vir haar ’n sandput voor haar huisie maak,vertel hulle. En haar “erfie” afkamp met ’n wit picket fence. En vir haar ’n tuintjie daar binne aanlê, waar sy kan leer om self haar twee gunsteling-eetgoed te kweek: tamaties en aarbeie.

Dit is half 11 in die oggend. Ami slaap, soos dit enige tweejarige betaam. Ek wens sy wil wakker word. Ek is nuuskierig om haar te ontmoet …

Watter soort werk doen hulle dat hulle albei die tyd van ’n Donderdagoggend by die huis kan wees? vra ek. Beide is opgelei as jeugwerkers – het Praktiese Teologie by Hugenote Kollege op Wellington geswot. Moes later noodgedwonge loopbaanskuiwe maak – nie noodwendig altyd maklik nie,maar met goeie gevolge. Hulle het albei die vermoë om kreatief te dink en hulleself goed te verwoord. Gemeenskapsontwikkeling, konsultasie, navorsing, klasgee, preek, musiekmaak, skryf, fasiliteer, programme bestuur, die predikant se mentor wees – noem maar op, hulle kán. Hulle is interessante, veelsydige, intelligente deurdrukkers. Tipiese boer-kind planmakers.

Op die platteland grootgeword. In die kerk opgegroei. En getroud, na hulle mekaar reeds agt jaar geken het. Hulle raak af en toe aan mekaar terwyl ons praat. Vul mekaar se vertel aan. Die een vat spontaan die ander se storie verder, in ’n naatlose woord-aflos. ’n Mens sien daardie uitsonderlike vertroudheid tussen hulle wat jy net kry by mense wat al ’n hele klomp sakke sout saam deurgewerk het en steeds van mekaar hou. Dit is ooglopend: Hulle is mekaar se safe space.

Ami word wakker. Sy kom klapvoetjies in die gang af. Loer eers effens lugtig vir die vreemde kuiergaste om die hoek, besluit ons lyk veilig genoeg, en bars dan met ’n borrellaggie die vertrek binne. Hoe’n kind mens darem kan oorrompel met onbevange glinsteroog aanvaarding!

Hulle het vir Ami aangeneem. En so ook háár safe space geword. Dit is ’n anderstorie – een wat mense ook laat twee keer kyk en wonder. Hulle is dan wit en sy is swart? En mense wonder: Hoe maak hulle haar groot?

Hulle het in vitro oorweeg, maar op die ou end nie die proses begin nie. Besluit om eerder die aanneem-pad te loop. Wat ’n reis was dit nie! Met wonderlike oomblikke van spesiale liefde. Ook met onverwagse ontnugterings. Een daarvan was ’n amptenaar wat aanbied: Gee vir my R60 000 dan maak ek seker julle kry ’n wit kind. ’n Reis met enorme uitdagings, wat hulle genoop het om belangrike lewenskomponente soos waardes, kultuur, taal, beperkings, moontlikhede, mens se eie vooropgestelde idees, ander se opinies en die praktiese werklikhede van “verskillend wees” opnuut te bedink en te herevalueer. ’n Reis wat hulle gedwing het om nuwe maniere van leef te ondersoek, met ’n voortdurende openheid om te leer … Hulle moes keer op keer vir hulleself vra: Wat kán werk? In plaas van om vas te steek by: Wat behoort nié te werk nie.

Die wonder van anders wees

Maar dit is eintlik iets wat hulle al lankal begin ontdek en leer omarm het: Dié vreemde wonder van verskillend-wees.

Erna vertel hoe sy en Bennie van kleindag af alskoolmaats en ook soul mates was. Alles saam gedoen. Tot in hulle studentejare. Maar net beste vriende, niks meer nie. Hoewel sy nooit gedroom het van trou en kinders kry en sulke dinge nie, was sy diep geskok toe Bennie haar die dag vertel hy is gay. Maar dan gaan jy mos hel toe, het sy vir hom gesê. Sy was so jammer vir en ontsteld oor arme liewe “verkeerde” Bennie.

’n Jaar of wat daarna raak sy lief vir Liezl. Sy het dít nie verwag nie. Dat dit so natuurlik sou gebeur nie, so mooi kon wees nie. Sy skryf toe vir haar eertydse Sondagskooltannie daaroor. En kry dieselfde reaksie as wat syself op Bennie gehad het: geskokte vermanings en bekommerde waarskuwings. “Dit was my uitkomoomblik”, vertel sy. “Toe ek besef: Ek het nie vir haar geskryf om sonde of skuld te bely nie. Ek wou net vir haar sê vir wie ek lief is.”

Die uitkom-ding ontketen dikwels twee soorte reaksies. Óf mense dink jy was vals tot nou, óf hulle dink jy gaan weird wees van nou af. Dit is vir hulle ’n uitdaging om te aanvaar jy is eintlik die hele tyd nog net jy. Jou enigste self. Daar was maar net ’n deel van jou menswees waarvan hulle (en soms jyself ook) nog nie geweet het nie. Jou persoonlikheid en karakter is nog presies dieselfde.

Toe ’n vriendin eendag vir Erna vra: “Is jy gay?”, het sy geantwoord: “Ek weet nie”. Sy het nooit so aan haarself gedink nie. Die woord “gay” het vir haar so vreemd, so “mannerig” geklink. Nie soos sy haarself beleef het nie. Sy moes die begrip gaan Google; moes ’n woordeskat vind om haarself te definieer.

Liezl vertel op haar beurt hoe sy moes leer om die valsheid van ’n boksie waarin sy nie pas nie, sowel as vals aannames en persepsies, te “counter” met haar eie waarheid; met wie sy is voor die Here en wanneer sy alleen is. Hoe sy haar eie “realness” leer beveilig het; hoe sy geleer het: Om jou ware, outentieke self te wees is om op heilige grond te leef. Geleer het van ’n mens se diep behoefte aan safe spaces. En hoe pynlik die verlies daarvan kan wees …

Beide Erna en Liezl was van jongs af al lief vir die Here en het ook toe al reeds ’n roeping ervaar om in die kerk te werk – daarom het hulle jeugwerkers geword. Maar toe gays in diens van die kerk in die openbaar “geshame” begin word, was dit nie meer vir hulle ’n veilige werkplek nie.

Dit is ontredderend, verduidelik Liezl: “Ons het ’n roeping om te werk waar ons onveilig voel. Ons lewensin lê daarin om die Bybel te gebruik om mense te help om sin te maak van hulle eie lewe, binne die spasie wat die kerk en die samelewing daarvoor geskep het. Toe daardie spasie vir ons ontoeganklik word, het dit gevoel my wortels word uitgeruk!”

Tog het daar weer nuwe safe spaces oopgegaan: Hulle vriendin, Nina, wat dans van vreugde toe hulle haar vertel van hulle verhouding; wat hulle help om dit vir die eerste keer werklik te vier. Liezl se suster en haar man wat dadelik en graag ja sê om Ami se voogde te word. Die NG Gemeente Blouberg, wat hulle as volwaardige lidmate verwelkom – nie net as blote banksitters aanvaar nie; maar as betrokke lidmate omarm. So oop-hart, dat ds Elmarie Dercksen hulle verbintenis aan mekaar geseën het met ’n spesiale seremonie in die kerk. Die wetlike aspek van hulle huwelik is deur iemand anders voltrek. Ami is ook later in die kerk gedoop.

Die liggaam van Christus buite die boks

Op soek na safe spaces het Liezl en Erna sélf safe spaces geword. Hulle eie huis is deesdae ’n ontmoetingsplek vir mense wat so seergekry het in die kerk dat hulle bang geword het om hulleself aan gelowiges bloot te stel. Liezl en Erna het eenvoudig genooi: Sukkelende mense is welkom. En baie gou was daar 46 mense wat wou kom praat. Nou is hulle sitkamer ’n safe space waar pastorale en teologiese gesprekke om bekers koffie plaasvind. Gesprekke wat dikwels begin met die vraag: Wat pla jou, vertel my … En eindig met die ontdekking: Dit ís moontlik – ’n mens kan gay én gelowig wees.

Hoewel steeds NG lidmate, het hulle begrip van kerk-wees verbreed om ook “die liggaam van Christus buite die boks te word”: Kerk is oral waar mens jou inherente menswees en compassion kan uitleef; waar mense sinvolle leefruimtes vir mekaar skep, sonder assumptions. Kerk is aan tafel, of by vriende. Tee saam met ’n tannie van Molsvlei in haar shack uit gechipte koppies, of ’n geestelike gesprek met ’n vrou terwyl hulle wortels plant in haar tuin op Daniëlskuil. ’n Ontmoeting met ’n direkteur in sy kantoor, of onder bome met haweloses.

Kerk is safe spaces waar mense onvoorwaardelik genade-kanse kry; waar menswaardigheid en musiek en pastoraat link met jou eie realness; waar die stemloses mag praat en uiteindelik selfs ook weer kan begin sing.

Ami se gunsteling-woord is tans awesome. Sy sleeptong dit met ’n groot glimlag: “Awthome!” Sy is nou nog te klein om alles te verstaan, maar eendag sal sy besef: Haar ouers het vir haar en vir mekaar, sowel as vir vele ander – vir vriend en vreemdeling – ’n awthome safe space geskep.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui