Repliek op Kerkbode se trojaanseperdbriewe (Hennie Mouton)

Kyk ook:

Die volgende het as gedrukte briewe in die Kerkbode verskyn, onder die opskrif: “Briewe oor trojaanse perd – 2011/01/21”

My [Hennie Mouton] repliek verskyn hieronder in [vierkantige hakies]. Selfs op die internetweergawe van Kerkbode was daar maar baie beperkte geleenthede om op die negatiewe kommentare op die boek te reageer. Een internetbrief is byvoorbeeld geblokkeer en sommige berigte het geen kommentaarruimte toegestaan nie. Daarenteen was elke berig, en gedrukte brief, duidelik geselekteer om die boek af te skiet.

Evolusie lei tot versterking van geloof

Hennie du Plooy, Bronkhorstspruit:

——————————-

Ek het met groot belangstelling die berig, “Beswaardes beweer daar is Trojaanse perd in die NG Kerk”, (Kerkbode, 3 Desember 2010), gelees en met ewe groot belangstelling na die RSG-onderhoud wat met een van die skrywers gevoer is, geluister.

As Christen en iemand wat al baie in die gebed met God geworstel het oor baie van die sake wat volgens die Kerkbode-berig in die boek Trojaanse perd in die NG Kerk bespreek word, kan ek identifiseer met die meeste van die skrywers se sienings. Ek het nog nie die boek gelees nie, maar reageer bloot op wat in die betrokke artikel en in die radio-onderhoud gesê is.

[Ek stel tog voor dat Hennie du Plooy die boek lees. As hy reeds met meeste van die skrywers se sienings oor allerlei probleme in die NG Kerk kan identifiseer, behoort hy die dokumentering daarvan, en die faktore wat daarheen gelei of meegehelp het, te waardeer of tenminste gedeeltelik insiggewend te vind.]

Dit is die subtitel van die boek – Kanker van evolusie en liberalisme – wat my bekommer. Ek kry ongelukkig die indruk dat die boek deur ’n paar beswaarde kreasioniste geskryf is wat die evolusie-beginsel in sy geheel verwerp. Ek wil graag op een van die samestellers, dr Henrietta Klaasing, se uitnodiging reageer dat “gewone lidmate hulle sê begin sê”.

Ek dink die samestellers se kreasionistiese siening is argaïes, uitgedien en Middeleeus en herinner baie aan die 15de eeuse optrede van die Katolieke Kerk teen Copernicus en Galileo toe hulle weggebreek het van geosentrisme na ’n heliosentriese siening. Hulle is van kettery beskuldig en Galileo is deur die kerk gedwing om sy siening in die openbaar af te sweer. Hy is daarna lewenslank in huisarres geplaas.

[Ek daag graag vir Hennie du Plooy uit om bietjie tyd te spandeer op ’n webwerf soos www.creation.com. Daar kan hy gaan uitvind wat die ernstige probleme is met die beste argumente vir evolusie waarvan hy waarskynlik weet. Hy kan ook die boek “Skepping & Evolusie – onversoenbaar!” gratis van www.glodiebybel.co.za aflaai – dit gee ’n redelike oorsig van heelwat van die toepaslike kwessies. Hy mag tot sy verbasing ontdek dat heelwat skeppingsleerders gerekende wetenskaplikes is, en hul argumente allesbehalwe argaïes en Middeleeus is.

Siende dat hy klaarblyklik ’n probleem het met die liberalisme in die NG Kerk, maar nie met die evolusie nie, behoort hy die koppeling van die twee ideologieë, soos gedemonstreer in die talle voorbeelde in die boek, van belang te vind.

Galileo se saak is heelwat ingewikkelder as wat meeste mense dink. Sy siening oor ons sonnestelsel is aanvanklik goed deur die pous ontvang, maar die moeilikheid vir hom het gekom toe hy die pous self begin beledig het. In ieder geval het Galileo die meerderheids-“wetenskaplike”-opinie van sy tyd teëgegaan. Dit het dus eintlik aanvanklik oor wetenskap versus wetenskap gegaan. Daaroor het hy van ander wetenskaplikes ernstige besware gekry. Die eerste godsdienstige besware teen Copernicus het ook van ’n wetenskaplike gekom. Dit het dus ook gegaan oor wetenskap versus wetenskap, en die misbruik van godsdiens deur ’n wetenskaplike om iemand stil te maak. Galileo is dus nie juis ’n goeie geval om vir “wetenskap teenoor godsdiens” te argumenteer nie. http://creation.com/galileo-quadricentennial en http://creation.com/the-galileo-affair-history-or-heroic-hagiography bevat baie goeie inligting oor hierdie geval. Dit sal baie goed wees as alle Christene dit wou lees, om te besef hoe onsinnig hierdie standaard beskuldiging is.]

Die wysgeer Gordiano Bruno, wat sy tyd ver vooruit was as sterrekundige, is in die jaar 1600 deur die Katolieke Kerk as ketter op die brandstapel verbrand omdat hy Copernicus se heliosentriese siening ondersteun het. Erger nog: omdat hy beweer het dat elke ster ’n son met sy eie planete is. Die kerk het sy standpunt (net soos die kreasioniste nou), op Bybelse gronde verantwoord. Hulle het Bybeltekste gebruik wat beskryf hoedat God die aarde op vaste, onbeweeglike fondamente gegrondves het; ook verse wat skryf hoe die son opkom, ondergaan en hom dan weer haas na die plek waar hy opkom (vgl Psalm 93, Psalm 105, 1 Kronieke 16 en Prediker 1:5). Dit was ’n hele paar eeue voordat die Katolieke Kerk sy siening amptelik verander het.

[Die protestantse kerke het sekerlik foute van hul eie gemaak, maar die wandade van die Katolieke Kerk kan sekerlik nie gelê word voor die deur van die kerke wat uit opstand teen die Katolieke Kerk ontstaan het nie. Die nuutste navorsing dui in elk geval daarop dat Giordano Bruno eerder vir sy sienings oor God veroordeel is as vir sy siening oor die kosmologie. In 1600 was daar volgens die “Stanford Encyclopedia of Philosophy” geen amptelike Katolieke beleid oor die kosmologie nie, en was die Kopernikaanse siening beslis nie kettery in hul oë nie.

Skeppingsleerders ontken nie dat daar simboliese en relatiewe beskrywings in die Bybel is nie. Die son wat opkom en ondergaan is ’n relatiewe beskrywing – dit is relatief waar betreffende ’n waarnemer op die aarde. Indien mens dit nie in ag neem nie, kan mens die Bybel verkeerd verstaan. Geosentrisme word deur sommige vandag nog aangehang en vanuit die Bybel verdedig, maar dit is omdat hulle hierdie bepaalde soort relatiwiteit wat gaan oor ’n geometriese verwysingsraamwerk, nie in ag wil neem nie. Maar let wel, dit maak nie alle soorte relatiwiteite aanvaarbaar nie. Alles in die Bybel kan vir seker nou nie maar net as relatief gesien word nie, met ander woorde asof die Bybel nie absolute waarhede bevat en werklikheid beskryf nie.

Genesis, wat sekere oorsprongwetenskaplike inligting en baie geskiedenis bevat, is gelukkig nie ’n wetenskaplike of geskiedenishandboek nie — ook maar goed so, want sulke handboeke verander voortdurend. Maar daar is geen rede waarom God iets as werklikheid sou laat neerskryf het in Sy Woord, en dan is dit nie. As ons die aardse in die Bybel nie glo nie, hoekom sal ons die hemelse glo? (Joh. 3:12)]

Die skeppingsverhaal moet as ’n geloofsbelydenis gelees word wat die onbeskryflike en onverklaarbare grootheid van God as Skepper en Onderhouer van die heelal beskryf, en nie as ’n geskiedenisboek of wetenskaphandleiding nie. Ek kan ook nie verstaan hoedat die “omhelsing” van evolusionisme die gereformeerde belydenis kan aantas nie. Vir my het die grondslag van evolusie nog net tot versterking van my geloof gelei.

[Hennie du Plooy kan gerus maar die belydenisskrifte betreffende God en sy skepping gaan lees, en self besluit of dit met die evolusiehipotese versoenbaar is. In ons boek wys ons baie direk waarom hierdie hipotese heeltemal onversoenbaar met die Bybel is. Die belydenisskrifte is gebaseer op wat in die Bybel geopenbaar is.

Hoe die glo van ’n leuen mens se geloof in die ware God soos geopenbaar in Sy Woord, kan versterk, weet ek nie. Talle voorbeelde, waar mense juis omrede hul geloof in evolusie, hul Christelike geloof prysgegee het, bestaan. Daarenteen, bestaan talle voorbeelde ook, waar mense die waarheid van Genesis begin glo het, daarna besef het die res van die Bybel moet daarom ook waar wees, en uiteindelik tot geloof in Jesus Christus as enigste Verlosser gekom het.]

Andersdenkendes is nié die Trojaanse perd

Albert Cruywagen, per e-pos:

——————————-

Daar is oor ’n lang tydperk baie plek ingeruim vir die mening van nie-evolusioniste en nie-liberales in die NG Kerk. Daardie ruimte mag nie weggeneem word nie. Maar algaande het nuwe inligting oor evolusie en teologie ook na ons gestroom. Geleidelik het diegene wat in die sogenaamde evolusie- en liberale rigting beweeg, ook ’n staanplek in die NG Kerk begin vra. Hulle wil nie die kerk skeur nie, maar juis skeuring verhoed.

[Ds. Albert Cruywagen se verdediging van evolusie kan mens dalk beter begryp gegewe die volgende tragiese inligting rakende hom soos in Kerkbode deur Jean Oosthuizen berig is:

“ Nog ’n NG leraar wat prof Claassen {ateïstiese evolusionis} se lesing bygewoon het, ds Albert Cruywagen van Riebeeckpark, het aan Kerkbode gesê die besluit om George Claassen te nooi om by die NG Kerk se deel van die fakulteitsopening te praat oor skepping en evolusie is nodig, dapper en tydig.

Ds Cruywagen sê hy was waarskynlik beter voorbereid vir prof Claassen se lesing as sommige ander aangesien sy enigste kind ook ’n ateïs is. “Dit is nogal ’n rare uiteinde vir iemand wat in ’n pastorie opgegroei het! Volgens hom was dit gelukkig nie sy ouers wat hom so laat besluit het nie, maar die lewe in die kerk en die manier hoe die Bybel hanteer word,” het ds Cruywagen aan Kerkbode gesê.“

’n Mens kan egter baie onwaarskynlik iemand van ’n waarheid oortuig, wat gebaseer is op ’n spesifieke boek (die Bybel), terwyl so iemand iets glo wat die boek onomwonde weerspreek. Het ds. Cruywagen dit ooit oorweeg dat geloof in evolusie sy seun in ’n ateïs laat ontaard het?]

Die appèl wat nie-evolusioniste en nie-liberales in hulle preke inbou, is presies dieselfde as dié van die “evolusioniste en liberales”, naamlik: Rig jou lewe so in dat dit rym met die geloofseindpunt van die Bybelse verhale, vertellings, gelykenisse ensovoorts. Doen dit om God in jou lewe sigbaar te laat word.

Wat meer is, die sogenaamde liberales en evolusioniste staan nog sonder enige gewetenswroeging by die ondertekening van die Belydenisskrifte en die Bybel as die geloofsbasis van die NG Kerk.

[Dat die liberales soos beskryf in ons boek, en die evolusioniste, sonder enige gewetenswroeging by die ondertekening van die belydenisskrifte kan staan, is ondenkbaar. Kyk onder andere na die volgende:

Nicea: “Ons glo in een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge.”

NGB Art 12: “…en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. …. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is.”

Nicea: “{Die Here Jesus Christus} God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.”

NGB Art 10: “Moses sê dat God die wêreld geskep het en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen 1:1 en Joh 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb 1:2 en Kol 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is.”

NGB Art 16: “Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is …”

NGB Art 23: “… terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie.”

HK 7 Vraag: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?

Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys (a) …

DLR1,1: Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood.

DLR3,3: Net soos die mens ná die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het.

NGB Art 12: “Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper te dien.”

Kan enigiemand ontken dat bogenoemde ondermeer bely dat God bonatuurlik geskep het (dus nie deur evolusie nie), dat alle mense van ’n werklike Adam en Eva afstam (dus kan hulle nie mities of simbolies wees nie), en dat Jesus Christus voor die skepping al bestaan het en alles deur Hom tot stand gekom het (dus kan Hy nie gebrekkige kennis hê soos onder andere dr. Ben du Toit beweer nie)?]

Gun asseblief vir diegene ook ruimte. Hulle is nie die vyand in die Trojaanse perd nie, maar die ridders op die wit perd wat die kerk wil blootstel aan nuwe feite – en die wonderlike nuwe insigte in die Bybel wat dit meebring!

Die Bybel word dus ’n grootliks verruimde bron van preekstof vir soekende mense, mense wat antwoorde wil hê in ’n postmoderne wêreld en wat blootgestel is aan allerhande wetenskaplike ontdekkings. Letterlike Bybelse interpretasies verskaf nie (meer) aanvaarbare antwoorde vir bogenoemde mense nie. Daarom word die Bybel steeds gebruik, maar teen die wonderlike, verruimende, verstaanbare agtergrond wat deur die wetenskap moontlik gemaak word.

[Lesers van ons boek moet maar self gaan kyk of ’n gereformeerd belydende Kerk diegene soos aangehaal in die boek, ruimte binne die Kerk mag gun. Ek is bly ds. Albert Cruywagen stem darem saam dat die Bybel steeds gebruik word, maar dis tragies hoeveel kragtige getuienis hy betreffende die waarheid van die Bybel oor alle sake (ook oorsprongwetenskappe – kyk 2 Tim. 3:16, 17) minag, met sy weiering om ernstig na skeppingsleer te kyk. Dit is waar baie van die antwoorde lê wat die wêreld soek, maar in plaas daarvan dat die Kerk dit aanbied, bepleit baie van haar ampsdraers ’n leuen wat 100% teenstrydig met die Bybel is!

Die Bybel kan nie verruim word deur ’n ideologie wat dit weerspreek nie. Die glo van leuens kan nie wonderlike nuwe insigte bring nie.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui