Geslagsregisters en tydsdure

Gekopieer vanaf Skepping & Evolusie – Onversoenbaar!, deur Hennie Mouton:

**************

Sou mens die geslagsregisters in die Bybel saam met die gegewe ouderdomme en tydsdure gebruik, kan bepaal word dat Adam ongeveer 4 000 jaar voor Christus moes geleef het. Sommige glo dat die geslagsregisters sommige geslagte oorgeslaan het, soos byvoorbeeld X, die seun van Y, is eintlik die kleinseun of agterkleinseun van Y. Die manier waarop die geslagsregisters in Genesis beskryf is, laat egter nie toe dat ekstra tydperke om hierdie rede ingewerk kan word nie. Daar is keer op keer geskryf dat Y ’n sekere ouderdom was toe X gebore is. Dit maak dus nie saak of X die seun, kleinseun of agterkleinseun van Y was nie – die tydperk is vas. Die geslagsregisters, saam met latere tydsdure wat in die Bybel gegee word, bring die ouderdom van die mensdom op ongeveer 6 000 jaar te staan. Sou die Skeppingsweek dus net sewe werklike dae gewees het, behoort dus ook die aarde en die heelal slegs omtrent 6 000 jaar oud te wees.

In die 1650’s het aartsbiskop James Ussher (’n hoogs geleerde man wat ook ’n professor en twee maal Vise-kanselier van die Trinity College, Dublin, Ierland, was) met die bewering vorendag gekom dat die skepping in 4004 v.C. plaasgevind het. Sy breedvoerige berekeninge was hoofsaaklik op gegewens in die Bybel gebaseer en het meer as 100 bladsye beslaan. ’n Baie verkorte weergawe word hieronder gegee:

Vers in Genesis Gebeurtenis Jare vanaf skepping
1:1 – 31 Skepping 0
2:21,22 & 3:20 Eva, die moeder van alle mense, is geskep. 0
5:3 Adam was 130 toe Set gebore is. 130
5:6 Set was 105 toe Enos gebore is. 235
5:9 Enos was 90 toe Kenan gebore is. 325
5:12 Kenan was 70 toe Mahalalel gebore is. 395
5:15 Mahalalel was 65 toe Jered gebore is. 460
5:18 Jered was 162 toe Henog gebore is. 622
5:21 Henog was 65 toe Metusalag gebore is. 687
5:25 Metusalag was 187 toe Lameg gebore is. 874
5:5 Adam sterf op 930 jaar. 930
5:28 Lameg was 182 toe Noag gebore is. 1056
5:32 & 9:24 & 10:21 & 11:10 Noag was 500 toe Jafet gebore is. 1556
Noag was 500+x toe Sem gebore is. 1556+x
7:6 Noag was 600 toe die vloed gekom het. 1656
11:10 Sem was 100 toe Arpaksad gebore is, 2 jaar ná die vloed. 1656+x
1656+x-2 = 1656
=> x = 2
11:12 Arpaksad was 35 toe Selag gebore is. 1693
11:14 Selag was 30 toe Heber gebore is. 1723
11:16 Heber was 34 toe Peleg gebore is. 1757
10:25 Spraakverwarring by Babel (nasies is verdeel) 1757
11:18 Peleg was 30 toe Reü gebore is. 1787
11:20 Reü was 32 toe Serug gebore is. 1819
11:22 Serug was 30 toe Nahor gebore is. 1849
11:24 Nahor was 29 toe Tera gebore is. 1878
11:26 Tera was 70+y toe Abraham gebore is. Abraham was nie Tera se oudste nie – vandaar die y. 1948+y
11:32 Tera sterf op 205 jaar in Haran. 1878+205 = 2083
12:4,5 & 10 Abraham was 75 toe hy Haran verlaat het om Kanaän binne te gaan. Daar word aangeneem dat Abraham in dieselfde jaar as Tera se dood Haran verlaat het, en ook in dieselfde jaar Kanaän bereik en weens ’n droogte na Egipte getrek het.

2023+y:

2023+y = 2083
=> y = 60

’n Interessante kontrole is om te bepaal of enige van Noag se voorsate later as die aanvang van die vloed geleef het. Dit sou onmoontlik behoort te wees want net agt mense het op die ark gegaan, naamlik Noag en sy vrou, sy drie seuns en hul drie vrouens, en alle ander mense moes voor of tydens die vloed gesterf het. Inderdaad wys die gegewens in die Bybel dat al Noag se voorsate voor of in die jaar van die sondvloed gesterf het.

Sem, Noag se seun wat die vloed oorleef het, en sy agterkleinseun Heber, het al hul nasate in bogenoemde lys tot by Abraham oorleef. Sem is eers oorlede toe Abraham 150 was en Heber is eers vier jaar ná Abraham oorlede. Daarom maak dit sin dat Abraham se nageslag Semiete en Hebreërs genoem is. Beide Sem en Heber het die gebeure by Babel beleef. Abraham kon dus direk met sy voorsate, wat byvoorbeeld die talewonder van Babel deurgemaak het, gepraat het.

[‘Meeting the Ancestors’, Creation 25(2), bl. 13-15, 2003]

Die volgende gedeeltes is groter tydsperiodes wat in die Bybel aangegee word. Ussher kon afrondingsfoute deur gedetailleerde vergelykings met ander Skrifgedeeltes uitskakel om by onderstaande uit te kom. Let daarop dat die vertaling “x jare nadat” soms beteken “in die x-de jaar vanaf” en daarom x-1 jare kan beteken. Noukeurige vergelykings met ander Skrifgedeeltes, wat nie in hierdie boek opgeneem is nie, kan aantoon of dit vir ’n spesifieke getal in ’n vers van toepassing is of nie. Op die meeste sal dít in elk geval maar enkele jare verskil maak.

Vers in Bybel Gebeurtenis Jare vanaf skepping
Gen 12:10, Eks 12:40, Gal 3:16-17 Vandat Abraham Egipte bereik het tot die Israeliete se uittog duur 430 jaar. 2083 + 430 = 2513
1 Kon 6:1 Van die uittog tot die begin van Salomo se bou van die tempel duur 479 jaar. 2513 + 479 = 2992
1 Kon 6:1 Van die uittog tot die begin van Salomo se koningskap duur 476 jaar. 2513 + 476 = 2989
1 Kon 11:42 Salomo heers 40 jaar – daarna verdeel die ryk. 2989 + 40 = 3029
Esg 4:4-5 Verdeling van ryk tot val van Jerusalem duur 388 jaar (388 volle jare plus gedeeltes van 2 jare). 3029 + 388 = 3417

Die val van Jerusalem was in 588 v.C. volgens Ussher (sekulêre geskiedenis gee dit aan as 586 v.C., maar Ussher kon aantoon dat sekulêre historici twee jaar gefouteer het met Nebukadnesar se heerskappy deurdat hy as onderkoning regeer het terwyl sy vader nog geleef het).

Al bogenoemde gee die skeppingsdatum as 588 + 3417 – 1 = 4004 v.C., volgens Ussher. (Ek kon nie ’n verklaring vir die – 1 in die laaste vergelyking vind nie maar aanvaar dat dit te vinde is in Ussher se gedetailleerde inligting.) Sou hierdie datum verkeerd wees, behoort dit nie meer as enkele jare uit te wees nie.

[‘The forgotten Archbishop’, Creation 20(2), bl. 42-43, 1998]
[Creation 20(3), bl. 21, 1998]
[‘Real history: the timeline of the Bible’, Creation 27(4), bl. 28-29, 2005]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui