Repliek op Nuwe Hervormer – Hennie Mouton

Kyk ook:

Onderstaande het op www.nuwe-hervorming.org.za/wiki/trojaanse-perd-ng-kerk verskyn.

Ek dink Jaco Steyn wys redelik akkuraat die probleme uit wat Christelike kerke na ons mening met sy en sy meelopers se nuwehervormingsidees behoort te hê. Daarom bevestig hy ons boek se sienswyse en opinie rakende hulle.

Dis nogal treffend dat hy skryf: “Die gedeelte vanaf bl. 98 tot bl.102 “Leer van die Nuwe Hervorming – ’n radikale breuk met die Christelike geloof”, is egter ’n goeie inleiding oor gedagterigtings binne die Nuwe Hervorming.”

Die Nuwe Hervormers word dus nie verkeerd in ons boek voorgestel nie.

Ons boek het nie oor die NG Kerk se foute in die verlede gegaan nie – daarom het ons nie op rassisme ingegaan nie. Ons glo in ieder geval die Bybelse gegewe dat alle mense van Adam en Eva afstam, wat baie beter grond is om teen rassisme te wees as enige geloof in die evolusiehipotese. Evolusie het duidelike rassistiese implikasies en rassistiese optredes in die geskiedenis tot gevolg gehad, wat evolusie-aanhangers met allerlei slimmighede en ontkennings probeer weg redeneer. Alhoewel ek enkele sake in Jaco Steyn se skrywe kon korrigeer, dink ek dis nie nodig nie – sy stuk is ’n taamlike korrekte weergawe, weliswaar uit sy sienswyse. Dit is moontlik nogal insiggewend dat NG-kerkleiers, soos dr. Mike Smuts en prof. Nelus Niemand wat per e-pos Smuts se resensie wyd aanprys, geen instemming, tenminste betreffende die Nuwe Hervormers, met die boek betoon nie.

Hennie Mouton

************

Die Trojaanse Perd in die NG Kerk

Maan, 24/01/2011 – 17:27 – Jaco

Skrywer: Besorgde lidmate en leraars van die NG Kerk

Die boek is geskryf deur o.a. bekende “Jong-Aarde” kreasioniste soos Dr. Hennie Mouton, Pieter Pelser en Dr. Henriëtta Klaasing. “Jong-Aarde” kreasioniste glo dat die wêreld slegs ongeveer 6 000 jaar oud is en dat die skeppingsverhaal in Genesis letterlik verstaan behoort te word. Hulle beweer dat daar genoegsame wetenskaplike getuienis bestaan vir die ongeldigheid van die ewolusiehipotese. Daar is selfs ’n Creation Museum in Amerika waarbinne dinosourusse voorgestel word asof hulle ongeveer 6 000 jaar gelede sáám met mense op die aarde sou geleef het.

Die skrywers is veral bekommerd oor sommige teoloë en leraars se wegbeweeg vanaf tradisionele Calvinistiese waardes binne die NG Kerk. Die grootste beswaar van die skrywers is die sogenaamde “aftakeling van die gesag van die Skrif”, wat beskou word as die “wortel” van die roeringe binne die kerk (bl. 1). Op grond van hulle belydenis in die Bybel as onfeilbare en letterlike “Woord van God”, beweer hulle dat “…woorde [van die Bybel] duidelike en voor die hand liggende betekenis het, en dat ons vandag nog kan verstaan wat die Heilige Gees deur die Bybelskrywers daarmee bedoel het.” (bl. 9). Blykbaar het die skrywers gerieflikheidshalwe vergeet van die ongeveer 38 000 verskillende Christelike sektes wêreldwyd waarvan elkeen beweer dat hulle “nog kan verstaan wat die Heilige Gees deur die Bybelskrywers daarmee bedoel het”!

Die ewolusiehipotese en ewolusionisme word beskou as oorsake van die krisis binne die Christelike kerke wêreldwyd. Die skrywers verklaar hulle geloof in die letterlike verstaan van die Genesisverhaal as volg op bladsy 142: “Die Bybel leer ons [ek wonder wat Prof. Sakkie Spangenberg hieroor sal sê?!] dat God op wonderbaarlike wyse, deur sy Goddelike almag, alles in ses dae geskep het”. Die verhaal van Noag se Ark word dus ook letterlik geglo – “God het tydens die Genesisvloed, wat onomwonde deur die Bybel gestel word om wêreldwyd te gewees het, alle mense en landdiere, buiten dié wat op Noag se reuse ark gegaan en oorleef het, uitgewis.” (bl. 111)

Op grond van die skrywers se geloof in beide die Jong-Aarde Skeppingsleer én die erfsondeleer, skryf hulle op bladsy 114 die volgende m.b.t. die ontstaan van die dood in die wêreld: “Die eerste twee mense is geskep nog voordat daar enige dood van selfs diere [!] was. Dood het eers ná die sondeval [van Adam en Eva] in die wêreld gekom.” Sommige kreasioniste glo dat Adam en Eva vegetariërs was vóór die sondeval. Die “oplossing” vir die probleem met die aanwas van diere word as volg verduidelik in hierdie artikel : “I think we can trust that God was quite capable of devising a way to avoid the problem of overcrowding, and then of modifying His designs.”!

Die skrywers glo dat voorhuwelikse seks en homoseksuele dade sondig is. Hulle hunker oënskynlik terug na die “goeie ou dae” toe Suid-Afrika regeer is deur ’n politieke party waarvan die program van beginsels op Calvinistiese lewenswaardes gebaseer was en toe daar op allerlei maniere teen gays en ongetroude mense wat saamgewoon het, gediskrimineer is. Die feit dat die Nuwe Suid-Afrika wegbeweeg het vanaf diskriminerende wetgewing teen gays, het ’n besliste invloed gehad op amptelike kerkbeleid t.o.v. gay mense. Gelukkig word daar ook deesdae nie meer so ernstig teen gays en ongetroude “saamwoners” gediskrimeer binne kerkverband nie.

Volgens postmoderne denke is daar hoegenaamd géén objektiewe, Godgegewe absolute waardes buite die mens nie. Postmodernisme is noodwendig teenstrydig met kerklike dogmas en een van die hoofstukke “Aanslag op die Woord vanuit postmodernistiese denkwyses” adresseer die sogenaamde gevare wat postmoderniste soos baie “Nuwe Hervormers” en “Jesus Seminaar”-teoloë vir die kerk inhou. Die gedeelte vanaf bl. 98 tot bl.102 “Leer van die Nuwe Hervorming – ’n radikale breuk met die Christelike geloof”, is egter ’n goeie inleiding oor gedagterigtings binne die Nuwe Hervorming.

Dit wil voorkom asof die skrywers ’n groot probleem het met die doen en late van beide Prof. Julian Müller en Jean Oosthuizen. Hulle verskil veral van Prof. Julian se panenteïstiese godsbeskouing. Ek het hulle besware teen die Kletskerk webblad , waarvan Jean Oosthuizen die administrateur is, nogal amusant gevind, veral waar hulle op bladsy 182 beweer dat hulle ’n gevorderde Google-soektog gebruik het om te bepaal hoeveel vloekwoorde deur deelnemers op die webblad geplaas word.

Die boek fokus op die “sondes” van ewolusionêre bioloë, gays, “saamwoners” en “liberale” Christene wat nié glo dat die Bybel die Woord van God is nie. Dit is egter opvallend dat die “behoudende” skrywers nêrens verwys na die jarelange problematiese verhouding tussen verskillende bevolkingsgroepe in die land nie. Hulle adresseer ook nie die NG Kerk se betrokkenheid by die bepaling van die ou Nasionale Party se rassebeleid en die kerkleiers se onwilligheid en/of onvermoë om voldoende leiding daaroor aan lidmate te verskaf nie. Vergelyk dit met die skrywers se besware oor die Algemene Sinode van die NG Kerk se onlangse onwilligheid om duidelike standpunte in te neem oor die “skeppingsleer vs. ewolusie”- debat.

In Bylaag D word voorgestel dat alle NG predikante die volgende in die openbaar bely wanneer hulle beroep word:

  • God het in ses 24 uur-dae ongeveer 4 000 v.C. geskep en daar was ’n wêreldwye vloed wat almal op aarde uitgewis het behalwe die mense en diere op Noag se ark.
  • Die vroeëre Joodse geloof asook die Christelike godsdiens, was openbarings van God en is nié “geleen” van ander gelowe wat reeds bestaan het in Abraham se tyd nie.
  • Abraham was ’n werklike historiese persoon.
  • Slégs Christene kan gered word, wat impliseer dat álle ander mense bestem is vir die ewige verdoemenis.
  • God is ’n [Persoonlike] Wese waarmee mense ’n verhouding kan hê en Hy het wonderwerke verrig soos byvoorbeeld die maagdelike geboorte van Jesus.

‘n Goeie vraag is natuurlik of die openbare aanvaarding van bogenoemde deur NG predikante en teoloë, moontlik sal kan verhoed dat nog méér jongmense die kerk gaan verlaat. Baie kerkgangers besef egter dat daar toenemende vervreemding plaasvind tussen die bogenoemde godsdienstige dogmas en beide die hedendaagse wetenskap en politieke realiteite. Dit kan veroorsaak dat baie meer van hulle in die toekoms afvallig sal word van so ’n kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui