Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad

Kyk ook:

Hieronder is die artikel “Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad” van Gerrit Brand. Gerrit Brand is senior lektor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die oorsponklike artikel kan gelees word by blogs.litnet.co.za/gerritbrand. Dit het ook in Kerkbode van 4 Februarie 2011 verskyn.

************

Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad | Litnet

Woensdag 26 Januarie 2011, 17:18

Deur Gerrit Brand

Lank-lank gelede kyk mense ’n keer om hulle na “die son en maan, die aarde, sterre, wolke”. Hulle “sien die veld, die bosse, berge, vlaktes” en “hoor hoe fluister gras en stroom en wind” (Lied 464). Kyk net! “Daar’s vissies in die water; kyk hoe swem hul rond. Daar’s voëltjies in die lug en daar’s diere op die grond. Daar’s blomme op die velde en biesies in die vlei …” Glimlaggend konkludeer hulle, daar waar hulle veilig, gesond en gelukkig in harmonie feesvier: “Wie sou dit als gemaak het? Die Here dit is Hy!”

Naïef. Goedgelowig. Wanneer alles mooi, goed en lekker was (soos dit glo soms was), was dit rede om die “liewe Here” te loof, maar wanneer dinge verkeerd geloop het, ongemaklik, hartseer, pynlik, het hulle nooit gewonder waar die “liewe Here” nou skielik is nie. Laasgenoemde vraag is eers deur die vroeëmoderne filosoof Leibniz uitgedink. Sedertdien het die moderne mens toenemend bewus geraak van die ellende in die wêreld. Ons vind dit al hoe moeiliker om in ’n “liewe Here” te glo. Sommiges klou vas aan hul geloof, maar weet nie raad met die moeilike lydingsvraag wat hul kinderlike geloof so teister nie.

Kortom: Die “probleem van die kwaad” is ’n komplikasie wat nie deur gelowiges voorsien is totdat dit onder hul neus gedruk is nie. Geloof is soos ’n skynbaar aanneemlike hipotese (“Die liewe Here verklaar die mooi wêreld”) wat hom vasloop in vernietigende bewyse tot die teendeel (“Al ooit aan die kwaad gedink?”). Die “ontdekking” van boosheid vang die geloof onkant.

Dit herinner aan Plato se grot-gelykenis: In ’n donker grot sit mense, rug na die grot-opening, teen ’n muur en staar. Sonlig van buite projekteer dinge wat buite die grot verbybeweeg teen die muur. Die staarders dink hulle sien die regte wêreld. Eendag draai een om, gaan na buite en ontdek die regte wêreld. Hy hardloop terug om vir sy mense te vertel dat hul wêreldbeeld nogal verwronge is, maar niemand glo hom nie. Só maak blinkoog-gelowiges wanneer kritici hulle herinner dat alles nie rooskleurig is nie: “Hear no evil, see no evil, speak no evil.”

Die dapper “realis”, daarenteen, sien die werklikheid soos dit is en troos homself nie met sprokies nie (behalwe die een oor die grot).

‘n Mooi storie, maar geen ware verhaal nie. Daar was nooit ’n “goeie, oue tyd” toe die lewe maklik en pynloos, en mense “salig onbewus” van gebrokenheid was, nie. Geloof in ’n “liewe Here” was nooit vanselfsprekend of natuurlik nie. Die meeste ou godsdienste het die werklikheid geskets as resultaat van kinderagtige gode se alewige getwis of, soos Plato, as slegte kopie van ’n volmaakte ideëryk.

Die eerste skeppingsverhaal in Genesis, oor hoe die wêreld uit God se hand kom en “baie goed” is, nes die Eksodus-vertelling oor Israel se uittog uit Egipte, is neergeskryf in en deur platgeslane Jode in ballingskap. Jesus se boodskap van sy Abba, Vader, onder wie se nabye heerskappy Gods kinders soos blommetjies en voëltjies geklee en gevoed word, is deur armes en randfigure aangeneem terwyl voorspoediges dit afgelag (maar tog veiligheidshalwe uitgedoof) het.

Jare gelede publiseer die Nederlandse kollektief Loesje ’n plakaat: “Wees stil en weet, er is geen God.” Só praat ’n samelewing wat alles het, maar nie kan ophou verbruik nie. Dis geen derdewêreld-plakaat nie.

Geloof in die “liewe Here” het ontkiem en oorleef in die hart van lydende mense. Die “probleem van die kwaad” was die begin van hul nadenke oor God, nie ’n terloopse nagedagte nie.

[Kommentaar: Verstaan ek reg? Sê hy dat God uitgedink is deur mense om swaarkry te probeer hanteer?]

Wat het hulle dan besiel om van ’n “liewe Here” te praat?

Dis ’n lang storie. Dit staan geskrywe.

Daniel Louw se kommentaar

Dit is skokkend dat ’n senior lektor aan ’n teologiese fakulteit so ’n artikel (“Geloof, bygeloof en ander sprokies … oor die kwaad”, Kerbode, 2011-02-04) kan skryf. Maar as jy hoor wat ander soos Julian Müller, Jurie le Roux, ens skryf en glo, dan moet ’n mens seker maar gewoond raak aan hierdie tipe ding in die teologiese fakulteite.

Ek weet nie wat ek moet dink van die artikel nie. Dit sê baie oor Gerrit Brand se siening oor God: hy glo nie dat God goed is nie en hy dink dat dit naïef is om so te glo. Die siening dat God goed is, is skynbaar uitgedink of word slegs aangehang deur die hulpeloses en armes, mense wat geen ander hoop het nie. Die rykes het egter aanbeweeg van hierdie antieke siening. My vraag is dan net wat Gerrit Brand se standpunt oor God is? Die argumente wat hy gebruik is ook argumente wat ateïste gebruik. Glo hy aan God? Is God almagtig? Watse rol speel God in sy lewe? Aanbid hy God? Indien wel, hoe kan hy ’n God aanbid wat nie goed is nie?

As hy hom egter minder steur aan ander soos Leibniz en Plato en die Bybel meer ernstig opneem, sal baie dinge vir hom baie duideliker word. Die Bybel leer ons dat God wel goed is en dat hy goed geskep het en dat dinge begin skeef loop het na die sondeval. Maar dit is ongelukkig dinge wat by verre die meerderheid teoloë (so lyk dit vir my), nie meer glo nie, want hulle het evolusie, wat as wetenskaplik gesien word, omhels, en ’n letterlike verstaan van Genesis 1-11 is duidelik nie versoenbaar met evolusie nie. Vir meer oor hierdie onderwerp, kyk http://creation.com/death-and-suffering-questions-and-answers.

Kommentaar op Gerrit Brand se blog

oh my hare, 27 Jan 2011 08:00

….niemand onthou nog van die duiwel nie..en hoe hy op die aarde rondloop soos ’n brullende leeu ..reg om te verslind…niemand onthou dat die duiwel ’n mens moordenaar van die begin af was nie ……dis hoekom die Liewe Heer en Hy is…altyd die skuld kry……….

Gerrit Brand, 27 Jan 2011 11:42

oh my hare, ek is nie seker presies wat die ount is wat jy wil maak nie, maar as jy die duiwel as “verklaring” van die kwaad aandui, roep dit natuurlik die vraag op hoekom die duiwel, as hy bestaan, toegelaat word om te bestaan. Daaroor sou mens seker kon gesels, maar dit le op die vlak van die verdediging van geloof teenoor kritiek daarop vanuit die probleem van die kwaad. Wat ek eintlik wil betoog, is dat die probleem nie iets sekonders aan geloof is nie, maar eintlik die beginpunt van, die aanleiding tot, geloof.

oh my hare, 28 Jan 2011 15:43

oh my hare jys in trouble as jy dink die duiwel bestaan nie….en as jy dink dat jou God kinders en vrouens en ou mense laat verkrag of doodmaak…….wie wil so God dien….die duiwel is ’n realiteit en sal toegelaat word om te verwoes die wat nie God dien nie en die wat dink hulle dien God maar nie verstaan waaroor dit gaan nie….dis so goed jy vra hoekom sal bose mense toegelaat word om voort te bestaan….hoekom is alles nie maar net goed soos God dit intent het nie….ek wonder net as ons dood gaan dink jy ons gaan almal hemel toe……is dit open season…..dis dalk tyd om weer openbaring te gaan lees en seker te maak wat staan daar

Gerrit Brand, 28 Jan 2011 17:40

Ek verstaan oh my hare: Jy glo in die duiwel. Of liewer: DIE DUIWEL.

oh my hare, 31 Jan 2011 07:34

ek glo nie in hom nie !!!!….maar ek weet hy bestaan… ek glo in die Liewe Here Jesus en ek weet dat my oorwinning oor die duiwel in Hom lê

Gerrit Brand, 1 Feb 2011 12:23

Ag, ek trek sommer jou been. Die vraag bly altyd wat ’n mens onder “die duiwel” verstaan. Jy sal seker met my saamstem dat hy (?) nie horings, hoewe en ’n vurk het nie. Is hy ’n persoon, soos God? Soos ons? Ek weet darem nie. Die dinge is altyd komplekser as wat ons dink. Die belangrike punt is, dink ek, dat die kwaad nie net iets is wat ons doen nie (dit ook), maar dat dit ’n outonome mag is wat dinge aan, met en deur ons doen. En nog belangriker, soos jy se: dat dit in Christus oorwin is.

oh my hare, 2 Feb 2011 07:33

amen!!!

Gerrit Brand, 2 Feb 2011 08:18

Terloops, ek het vroeer al ’n stukkie oor “ons ou vriend die Duiwel” geskryf wat jy by http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand/praat-van-die-duiwel-15-Apr-2010 kan lees.

Kammakazi, 26 Jan 2011 18:13

daarom is diesulkes wat nie in God glo nie so ontroosbaar (?)

Henry, 26 Jan 2011 17:48

Dit is alles tevergeefs…

🙂

Petrus Pap, 26 Jan 2011 18:54

amen

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui