Persverklaring: Kairos Netwerk oor Vrystaatse buitengewone sinode op 18 April 2023

*******

Persverklaring: Kairos Netwerk oor Vrystaatse buitengewone sinode op 18 April 2023

20 April 2023

Kairos Netwerk (KN) het met groot belangstelling die verloop van die buitengewone sinode van Vrystaat op 18 April 2023 gevolg. Vir ons was dit duidelik dat die diepliggende spanning in die NG Kerk steeds onderskat word en direk terug herlei kan word na die omstrede besluite asook die tussentydse leierskap van die Algemene Sinode:

  • Vreemd dat die moderamen wat verantwoordelik was vir die finale verslag, nie soos gebruiklik die kerkordelike prosedure van skriftelike aanbevelings gevolg het nie. Hulle het die vergadering gelyktydig voor ses keuses geplaas. Dit bevestig hoe groot die verdeeldheid onder NG lidmate en gemeentes is en die kerkordelike verleentheid wat dit veroorsaak. Alhoewel Vrystaat se nuutste reglement van orde nie voorskriftelik is oor die bekendmaking van die getal stemme vir of teen voorstelle nie, terwyl die Algemene Sinode se reglement uitdruklik bepaal dat dit nie gedoen word nie, het hulle na elke stemming die getal stemme vir en teen bekend gemaak. Hierdie syfers toon die erns van verskeurdheid ook in die Vrystaat. Vir ‘n buitestaander sal hierdie syfers dalk nie soveel betekenis dra nie, maar as ons dit ontleed kan met verbasing gevra word hoe die Algemene Sinode en sy tussentydse leierskap die NG kerk hierin gedompel het. Indien so iets in die sekulêre wêreld gebeur, sou die voorsitter om etiese redes moes bedank.
  • Ten spyte daarvan dat leraars van dolerende gemeentes herhaaldelik gedreig was dat hulle gevaar loop om hul bevoegdheid as predikant, asook hulle mediese- en pensioenfonds voordele mag verloor, en dat gemeentes dalk hulle naam, bates, ens. sal moet prysgee, het 38% van Vrystaat se afgevaardigdes steeds die moed gehad om téén die aanvaarde opsie te stem. Dit is baie interessant dat die uitslag van die laaste stemming tussen bylaag 18 en 19 oor wat Vrystaat nou eintlik aan die AS wil sê, slegs met 11 stemme[1] verskil. Bylaag 18 verwoord in ‘n groot mate die beswaarde gemeentes se standpunt terwyl bylaag 19 met baie woorde op ‘n verbloemde wyse die AS se siening bevestig. Dit bewys dat indien die sinode op die korrekte kerkordelike wyse vir elke voorstel afsonderlik gestem het, die behoudende stemme veel meer sou wees as die 38%.

Dié vergaderings van verskeie sinodes soos Goudland, Oostelike Sinode, Namibië, en Vrystaat bevestig opnuut dat die NG Kerk in ‘n kairos oomblik verkeer. Dit is duidelik dat die AS en ASM met hul beleid van ‘n ruim huis en verdraagsaamheid teenoor valse leringe nie meer in staat is om gemeentes te verteenwoordig en die dreigende kerkskeuring te stuit nie.

Die Koinonia Sinode wat op 3-4 Mei in Vanderbijlpark as ‘n kategoriale sinode vir behoudende NG gemeentes konstitueer wil help om die wonde te genees, verdere skeurings te stuit en gemeentes te motiveer om saam te werk aan reformasie van binne die NG kerk: terug na die Bybel as onfeilbare Woord van God soos dit vertolk word in ons gereformeerde belydenisse.

Behoudende gemeentes wat nog by die Koinonia Sinode wil inskakel om reformasie binne hul eie gemeentes, sinodes asook die Algemene Sinode te bevorder, is steeds welkom om laat registrasies te doen. Inligting oor die Sinode asook skoon geloofsbriewe is beskikbaar by kairosnetwerk.net/koinonia.

Dr Anton Knoetze

(Voorsitter: Kairos Netwerk)

Voetnotas

[1] Die stemresultate was 137 vir vir bylaag 18 en 149 vir bylaag 19. Dus is die verskil 12 en nie 11 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui