Chris Smith skryf: Watter soort liefde wen deesdae?

*******

Chris Smith skryf: Watter soort liefde wen deesdae? – Kerkbode

20 April 2023

Chris Smith van Westonaria skryf: Ek verwys na die artikel van Johan van der Merwe: “Liefde wen .. Is dit nog so”
Ek stem saam daarmee dat die liefde moet wen. Die teenstelling agter die artikel, is egter subtiel en baie misleidend. Dit impliseer dat die besluite wat goedgekeur is die enigste keuse is wat getuig van liefde.

“Liefde wen het volgens die artikel die slagspreuk geword waarmee besluite van vergaderings aan die Bybel getoets word.” Dit impliseer by voorbaat dat daar met ‘n bepaalde voorveronderstelling na die Bybel gegaan word, sonder dat bloot net na die Bybel geluister word. Dan word ’n boodskap in die Bybel ingedra/ingelees. Die soort liefde wat die slagspreuk geword het van die Algemene Sinode, moet beter geëvalueer word.

Dit het al meer ’n liefde geword vir mense in plaas van ’n liefde vir God. Mense se ervaring van wat liefde is, het die standaard geword vir wat liefde is. Christus stel dit: “As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou”

Dit het al meer ’n liefde geword vir dit wat die wêreld voorhou vir geluk, in plaas van dit wat God voorhou. “Menswaardigheid” en menseregte word misbruik om die mens voorop te stel in plaas van vir God. Die ware liefde vir God, en vertroue op Hom, sal lei tot ’n selfverloëning en oorgawe aan Hom. In die navolg en gehoorsaamheid aan Hom, vind ons juis vreugde en die regte perspektief op onsself en ’n liefde vir ons naaste.

Dit het al meer ’n liefde geword vir die natuurlike openbaring ten koste van ’n liefde vir die besonderse openbaring. Dit wat die natuurwetenskaplikes sê word bo die waarhede van die Woord gestel. Veral sielkunde, wat funksioneer volgens wêreldse norme, word bo die Woord gestel. Dit terwyl die Woord die lig op ons pad moet wees en die norm vir alles. Sielkunde word verkeerdelik voorgehou as die onbetwiste waarheid. Dit terwyl daar dan onsekerheid gesaai word oor die boodskap van die Bybel. Liefde vir die Bybel is beslis nie altyd sigbaar in Sinodale besluite nie.

Dit het al meer ’n liefde geword wat Kerkordelike prosesse misbruik. Dit ten koste van ware liefde wat werklik sou luister na medegelowiges en hul besware. (Die beswaarskrifte en gravamina is bloot geïgnoreer, ook in daaropvolgende vergaderings oor dieselfde saak)

Ek wil eerder voorstel dat WARE liefde ons besluite beïnvloed. Liefde vir God en Sy Woord. Daarmee saam ook liefde vir my naaste. ’n Liefde vir my naaste wat nie net die tydelike in ag neem nie, maar ook ons ewige bestemming en roeping.

In kort: Liefde vir God en liefde vir my naaste (en sy ewige saligheid) moet saamgaan. Ek maak beswaar teen die artikel wat ontevredenheid met die Algemene Sinode se besluite wil afmaak asof “teen die liefde”. Om die wat doleer, af te maak as mense wat teen die “liefde” is, is werklik liefdeloos om die minste te sê. Dié wat doleer, ween juis vanweë hul liefde vir Christus en Sy kerk.

Die groot vraag is eerder watter liefde gaan wen in 2023?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui