Brief aan NGK taakspan oor homoseksualiteit – E Mouton

Kyk ook:

Ellison Mouton het die volgende brief aan die taakspan oor homoseksualiteit gestuur.

***********

Geagte lede van die taakspan oor homoseksualiteit

Baie dankie vir die geleentheid om ’n bydrae oor hierdie onderwerp te maak. Ek bid dat julle werklik die leiding van die Heilige Gees in hierdie saak sal ervaar. Ek hoop ook dat heelwat mense sal deelneem. Ek het nie twyfel dat die pro-homoseksuele groeperings hulle mening sal gee nie, maar ek is nie seker hoeveel ander lidmate sal deelneem nie. Dit klink my daar is ’n sterk gevoel dat die taakspan reeds tot ’n besluit gekom het en dat hierdie maar net ’n kosmetiese oefening is.

As ons oor die etiese en juridiese aspek van homoseksualiteit moet praat, neem ek aan dit gaan oor die daarstel van riglyne vir die uitleef van ’n wettige homoseksuele leefstyl sodat dit in ooreenstemming is met die Bybel.

Ek is tans besig met die skryf van ’n boek oor die onderwerp. Met spesifieke verwysing na die Christen wat op verskillende terreine by homoseksualiteit betrokke is. Ek is al ’n paar jaar besig met BAIE opleeswerk en gesprekke. Die meer as 50 boeke en talle artikels wat ek al hieroor opgelees het dek die hele spektrum. Ek het van die mees behoudende anti-gay tot die godslasterlikste liberale progay se geskrifte, getuienisse, Bybelverklarings en navorsing gelees. Ek poog om met my navorsing te verstaan hoe die homoseksuele christen self oor sy oriëntasie dink en hoe hy dit ervaar. Dit gaan ook oor die ervaring en belewenis van die mense na aan hom. Maar dit gaan ook oor die verskillende opinies van heteroseksuele mense rakende die aangeleentheid. Uiteraard is dit ook vir my uiters belangrik om te weet wat die navorsing bevind het. Veral omdat baie mense hulle op die wetenskap verlaat. As pastorale berader is dit natuurlik ook vir my belangrik om uit te vind of daar enige getuienis is van mense wat verander het. En natuurlik is dit vir my as kind van God uiters belangrik om te verstaan wat die Here hieroor sê. My boek fokus veral op die belewenis van die homoseksuele christen, en daarom is die rol van die kerk natuurlik ook vir my van uiterste belang.

Voordat ek kortliks ’n paar punte van belang noem, laat my asb toe om by u te pleit om net gou tyd te maak om 2Kon 17 te lees. Dit het my tydens my stiltetyd vanoggend getref hoe maklik mens van die pad van die Here kan wegdraai. Dit vra net een klein treetjie op ’n slag. Dit het my ook opgeval hoe die Here keer op keer mense stuur om te waarsku. Maar die ergste….dit het my in besonder getref dat die Here se genade een of ander tyd gaan beteken dat Hy drasties sal moet optree.

My smeekgebed is dat u die genade sal ontvang om onderstaande sonder vooroodeel te lees. Dat die Here ten minste een van u sal oprig om die waarheid in te sien. Dat Hy ten minste een van u sal honger maak om uit te vind of daar nie tog hoop is vir die persoon wat sukkel met seksuele aangetrokkenheid tot dieselfde geslag nie.

En as u nie lus voel om deur die hele skrywe te werk nie, gaan kyk asb dan net na hierdie video:

Joseph Davis provides an overview of recent studies in genetics whose findings do not support the self-reporting deterministic claims in homosexuality. Rather, they provide evidence that there is no gene that exclusively determines homosexual sexual identity.

Ek deel graag met u ’n paar sake. Ek hou dit so kort as moontlik.

1. Wat is die kerk se plig?

  • Elke gelowige maar veral die kerkleiers, het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Hierdie verantwoordelikheid behels volgens Eseg 34:1-10 dat die leiers die gemeentelede met verantwoordelikheid sal lei volgens die wil van God, anders gaan God self teen die leiers optree.
  • Dit behels volgens Gal 6:1,2 dat ons mekaar in ’n Gees van sagmoedigheid moet reghelp as iemand in sonde val. Met ’n nederige besef dat ons ook reghelp nodig mag kry wanneer ons sondig. Eintlik behoort ons ’n begeerte te hê dat iemand ons op die regte pad sal wys as ons sou afdwaal.
  • Die kerkleiers moet ’n opregte omgee openbaar vir die siele van die mense met wie hulle werk. Daarom behoort hulle opreg te soek na wat God, en God alleen, se wil is vir die mense wat aan hulle sorg toevertrou is. En daardie soeke se begin en einde is eerstens by die Woord en nie by die wetenskap of die mens nie.

2. Wat is die kerk se dilemma?

  • Die Bybel se veroordeling van homoseksualiteit bots met die pro-homoseksueles se siening.
  • Die kerk kan nie ’n enkele Skrifgedeelte aanvoer wat homoseksuele verbintenisse goedkeur nie. Enige vers wat aangehaal word ter goedkeuring van ’n homoseksuele verbintenis moet noodwendig die ander sondes wat in dieselfde vers genoem word ook insluit. En dit raak ongemaklik as daar van egbreuk en moord ens. gepraat word.
  • Dit bring groot konflik in die harte van baie geestelike leiers want hulle kan nie die uitsprake van die Woord versoen kry met die saggeaarde homoseksuele persoon in die kerkbank nie.
  • Die kerk is uitgelewer aan hoorsê oor die wetenskap omdat daar nie tyd is vir leraars om self die navorsing te ondersoek wat oor die oderwerp gedoen is nie.
  • Die kerk is nie toegerus met kennis om mense wat om hulp kom aanklop te begelei nie.
  • Die kerk word beskuldig van homofobie en liefdeloosheid as hulle sou standpunt inneem ten gunste van die Bybel. Dus word die kerk “gedwing” om meer akkommoderend te wees.
  • Op etiese vlak bots die praktiese uitleef van die seksuele verbintenis tussen mense van dieselfde geslag direk met die uitsprake van God. Anale penetrasie veroorsaak fisiese skade wat tot die dood kan lei.

3. Hoe hanteer die kerk die dilemma

  • Die kerk probeer die verstaan van die Bybel herinterpreteer om hulle verstaan van die probleem met die Bybel te versoen. Soms word verse anders verstaan of soms net totaal verwerp as ontoepaslik vir vandag.
  • Omdat die kerk die wetenskap glo dat homoseksualitiet geneties is, en skynbaar glo dat verandering daarom nie moontlik is nie, is daar feitlik geen poging om mense wat om hulp kom aanklop te help om te verander nie.
  • Die kerk probeer om eerder lidmate wat teen homoseksualiteit is se denke te verander deur programme aan te bied wat die gemeentes moet oortuig dat homoseksualiteit ’n natuurlike uitlewing van seks is.
  • Die kerk gebruik artikels in die Kerkbode, soos die van ds Elmarie Derckson van Bloubergstrand, om ’n beeld van ’n natuurlike gebalanseerde gesin te skep.

4. Wat is dit wat die kerkleiers skynbaar nie weet nie?

  • Baie teoloë besef skynbaar nie wat regtig in navorsing gevind is nie. Baie baseer uitsprake op studies wat jare gelede al verwerp is op grond van onwetenskaplike prosesse.
  • Teoloë is meestal onbewus dat huidige navorsing baie sterk dui op omgewingsfaktore as oorwegende oorsaak van homoseksualiteit.
  • Baie besef nie dat die “10%” syfer van Alfred Kinsley se studie al jare gelede as verkeerdelik veralgemeen verklaar is nie. Die nuutste syfer wat telkens in talle studies na vore kom is rondom 2% wat eksklusief gay is en ongeveer 5% wat bi-seksueel is.
  • Baie is onbewus van die feit dat daar wel mense is wat, selfs na baie jare van ’n homoseksuele leefstyl , tog verander het om heteroseksueel te leef.
  • Baie is onbewus van die feit dat die oorsaak van die probleem gesoek moet word op die terrein van emosionele letsels in die vroeë kinderjare.
  • Ek vermoed die kerk is tot ’n groot mate onbewus van die glyplank effek van die goedpraat van homoseksuele dade. Is die kerk bewus van die absolute godslasterlike verbintenisse wat liberale gay leraars en pastore maak met gaywees en die nagmaal en die kruisiging van Jesus? Weet u dat daar selfs mense is wat ’n gay verhouding tussen Jesus en Johannes propageer? En daar is nog vele meer stellings in hierdie verband. (Sears Alan & Osten Craig The Homosexual Agenda Exposing the Thread to Religious Freedom Today. Broadman & Holman Publishers, Tennesee, 2003. ; Goss Robert Jesus Acted Up. A Gay and Lesbian Manifesto HarperCollins Publishers, New York, 1993.)

5. Hoe moet die sinode met hierdie saak verder gaan?

  • Ek wil graag glo dat die kerkleiers opreg na die regte antwoorde soek. Ek glo dat die probleem basies gesetel is in onkunde oor die ware oorsake van homoseksualiteit. Sou kerkleiers besef het dat verandering wel moontlik is, wil ek graag glo dat hulle meer bereid sou wees om die wat vasgevang is daarin te help. Nie almal wil gehelp word nie, maar baie wil, begin dan tog daar.
  • Die kerk moet homoseksuele met onselfsugtige liefde liefhê. Die soort liefde wat Jesus gehad het. Liefde wat met sondaars ’n pad stap. Nie om hulle verkeerde dade goed te praat nie, maar om hulle te ondersteun op die pad van “Gaan en sondig nie meer nie.”
  • Die kerk moet hulle heteroseksuele mense inlig en toerus om ware vriende vir homoseksueles te wees. Hulle het nodig om hulle manwees en vrouwees bevestig te kry in gesonde vriendskapsverhoudings met mense van dieselfde geslag.
  • Ek wil graag glo dat kerkleiers bereid sou wou wees om ook die ander kant van die saak te ondersoek en nie net blindelings te luister na aktiviste nie.
  • Indien kerkleiers kon verstaan hoe die pad na homoseksualiteit loop, sou hulle met insig die verhale van gays, wat glo dat hulle nog altyd so was, kon beoordeel. Enige boek van Richard Cohen of Nicolosi of Joe Dallas kan help met hierdie verstaan en begrip,
  • Luister met openhartigheid na die getuienisse van mense wat verander het. Gaan kyk gerus by www.learntolove.co.za
  • Doen moeite om uit te vind wat die wetenskap regtig sê. Gaan daarvoor na www.mygenes.co.nz. Die webwerf bly op datum met al die nuutste navorsing in die verband.
  • Die volgende video gee baie insig in die verstaan van die navorsing wat gedoen is: ‘2014 Faith & Science conference – Joseph Davis – Are people born gay? Genetic and epigenetic determinism in homosexuality
  • Hier is ’n baie verkorte lys van artikels wat ondersoek kan word.

6. Ten slotte

Ek wil ernstig pleit dat die kerkleiers ten eerste sal seker maak wat moderne navorsing regtig hieroor te sê het. Moenie sommer koerantberigte glo nie. Sou u nie genoeg tyd hê om dit na te vors nie, praat gerus en dan probeer ek help.

Ek wil dit ook baie sterk beklemtoon dat dit nie gaan help om allerhande mooi voorskrifte neer te pen vir hoe ’n seksuele verhouding tussen mense van dieselfde geslag moet lyk nie. Dit kan nooit ooit eties geregverdig word om mense anale seks met mekaar te laat hê nie. En die wat redeneer dat dit nie oor seks gaan nie maar oor die verhouding, beklemtoon inderdaad dat so ’n verhouding nie natuurlik is nie. ’n Heteroseksuele huwelik het natuurlik ’n onderbou van begrip en respek en kameraadskap en vriendskap. Maar seks maak ’n baie groot deel uit van die gelukkigheid en eenheid van daardie verhouding. Dit is immers ook ’n opdrag van God dat die man en vrou een sal word. Ook fisies.

Dit is ook belangrik om te besef dat die kerk ’n groot verantwoordelikheid het teenoor homoseksuele mense. Nooit mag ons hulle afskryf of minag nie. Ons moet onthou dat die kern van hulle probleem ’n gebrek aan aanvaarding en erkenning is van iemand van dieselfde geslag. Hulle eintlike behoefte is die liefde en aanvaarding van iemand van dieselfde geslag omdat hulle manlikheid of vroulikheid nooit in hulle kinderjare bevestig is nie. En die kerk se heteroseksuele manne kan daardie rol vervul.

Indien die kerk eties korrek wil optree sal hulle programme ondersteun wat homoseksuele mense wil ondersteun in die genesing van emosionele seer uit hulle kinderdae.

Ten slotte wil ek dit net baie duidelik stel dat die probleem en oorsaak van homoseksualiteit veel komplekser is as wat die paar bladsye my toelaat om te skryf. Verstaan asb. ook dat die oplossing intense toewyding en liefde vra. En baie tyd.

Die vraag is dus ten diepste of ons kerkleiding bereid is ondersteuning te gee om daardie veeleisende pad van ware liefde te loop?

Of gaan die kerkleiers die oppervlakkige skyn van liefde ondersteun wat die wêreld vra?

Ellison Mouton (BTh Pastorale Berading)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui