NG Doornkloof en Algemene Sinode oor homoseksualiteit

Kyk ook:

Hierdie artikel beskryf die standpunt van die NG gemeente Doornkloof ten opsigte van homoseksualiteit (soos gestel in 2005), asook heel onderaan die Algemene Sinode se standpunte in 2004 en 2007.

Ons sit vandag met die situasie dat persone van dieselfde geslag met mekaar in die “huwelik” tree, erkende homoseksuele persone in die kerklike ampte bevestig word en dat Christene beskuldig word van liefdeloosheid teenoor homoseksuele persone. Menseregtegroepe wil die Bybelse uitsprake teen homoseksualiteit as haatspraak kriminaliseer. Dit is egter nie ’n hedendaagse probleem nie, ons lees hiervan reeds in die Bybel. Wat is ons standpunt dus in die verband? Soos met enige ander saak behoort ons eerstens te kyk wat al die relevante Bybelse uitsprake is.

So wat sê die Bybel oor homoseksualiteit?

  • Levitikus 18:22 : “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.”
  • Levitikus 20:13 : “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”
  • Genesis 19 vertel die verhaal van Sodom wat die Here vernietig het omdat die mense baie sondig was. Ons lees dat hulle (jonk en oud) homoseksuele dade gepleeg het. Die uiteinde was dat God die stad verdelg het.
  • 1 Korintiërs 6:9 & 10 : “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”
  • 1 Timoteus 1:8 tot 10 : “Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit op die regte manier gebruik. ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan die wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.”
  • Lees gerus Romeine 1:20 tot 32 oor die sonde en die straf. Verse 26 tot 32 word ondertoe gegee.

Ons kry dus verskeie dele in die Bybel waar homoseksualiteit nie net verbied word nie maar selfs as ’n afstootlike sonde geag word, ons kan sê dit is ’n besonder slegte sonde. Dit word ook baie duidelik en onomwonde gestel dat die sonde gestraf sal word, ’n bewys hiervan is die verdelging van Sodom en van al die mense behalwe Lot, aanvanklik sy vrou, en sy dogters.

Hedendaagse homoseksuele drukgroepe argumenteer dat mense wat die Bybel aanhaal om homoseksualiteit as sonde te verklaar ook self nie sonder sonde is nie en daagliks ook sonde doen. Uit die bogenoemde dele van 1 Korintiërs en 1 Timoteus is dit duidelik dat ander sonde in dieselfde lig gesien word en kan dus nie as argument gebruik word om homoseksualiteit te verontskuldig nie. Soos homoseksualiteit, moet mense hulle ander sondes ook bely en hulle daarvan bekeer. Die feit dat alle mense sondaars is, kan tog nooit die sondige aard van ’n optrede soos bepaal deur die Bybel, tot niet maak nie. Soms argumenteer homoseksuele drukgroepe ook dat ’n homoseksuele verhouding tussen twee wat getrou is aan mekaar, niemand skade aandoen nie, en daarom nie sonde is nie. Die probleem met so ’n stelling is dat sonde nie bepaal word deur die mate van skade aan ander mense nie, maar wat God sê. So as God in die Bybel verklaar dat iets sonde is, dan is dit – die mens kan nie dit bepaal nie. Kyk ook na 1 Tes. 4:8 net hieronder. Die eerste sonde van die mens was juis dat Adam en Eva self wou besluit wat goed en wat kwaad is, of te wel wat reg en wat verkeerd is (Gen. 2:17, 3:6).

Daar is sterk uitsprake in die Bybel teen alle vorme van seksuele losbandigheid:

  • 1 Kor. 6:18-20 : “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”
  • 1 Tes. 4:3-8 : “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ’n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.”

Seksuele uitlewing is dus slegs aanvaarbaar in God se oë binne die huwelik tussen een man en een vrou.

En dan is dit belangrik dat die mens sal besef ons is nie slagoffers van ons seksualiteit nie, want seksuele gemeenskap kan opgeoffer word ter wille van die koninkryk van God (vgl. Matteus 19). Die hoogste roeping van elke mens is diensbaarheid aan God in Christus.

Wat is die oorsprong van homoseksualiteit?

Enkele wetenskaplike studies is al gedoen om die oorsaak te probeer plaas op breinverskille, genetiese oorerwing of selfs op verskille in die gene self. Geen werklik bruikbare verwantskap is al gevind nie. Selfs al sou so ’n verwantskap in die toekoms bepaal word, sal dit steeds nie die Bybelse verklaring vir homoseksualiteit en ander sondes se oorsprong kan wegneem nie, naamlik dat die oorsprong lê in die sondige aard van die mens se hart:

  • Markus 7:21-23 : “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”
  • Rom. 1:26-32 : “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.”

Psigologiese verwantskappe is wel al tot ’n mate bepaal, soos byvoorbeeld:

  • Homoseksuele persone het gewoonlik ’n swak verhouding gehad, of het steeds, met hul ouer van dieselfde geslag.
  • Homoseksuele persone was dikwels as kinders homoseksueel gemolesteer of verkrag deur ouer persone.

’n Siening van die ontwikkeling van homoseksualiteit, wat klop met die Bybelse gegewens, is die volgende:

  • Die primêre oorsaak is die mens se sondige hart.
  • Sekondêre invloede is dinge soos genetika, homoseksuele vriende, eksperimentering, swak familieverhoudings, seksuele aanranding deur ouer persone ensovoorts.
  • Uiteindelik lei dit tot homoseksuele dade en neigings.

Is daar dan hoop vir die homoseksuele persoon? Toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het was dit om vir ons sondes te boet – dit is waarom sy bloed vir ons gestort is. Johannes 3:16 verklaar: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” God belowe om al die ou dinge weg te neem en alles nuut te maak, as jy jou volkome aan Hom gee – dit beteken om jou sondes in ware berou te bely, daarvan weg te draai en Hom te volg.

Homoseksuele persone is welkom om in te skakel by die NG Kerk Doornkloof maar met dien verstande dat hulle hulp en berading behoort te ontvang volgens die volgende basiese riglyne:

  • (Ds. Emile Rademeyer, onder wie ’n groep beraders val, of enige predikant in ons gemeente kan gekontak word.)
  • Hulle sal met begrip hanteer word net soos enige ander wat worstel met ’n gewoontesonde.
  • Geloofsekerheid, volkome gegrond op Christus se kruisdood, moet bevestig of vir die eerste keer verkry word.
  • Hul sondes, insluitende hul homoseksuele dade en/of neigings moet teenoor God erken en in berou bely word. Om enige sonde met berou te bely, beteken dat dit saamgaan met die besluit om dit te laat staan.
  • God moet, op grond van hul geloof in Christus, in gebed gevra word om hierdie sondes van hulle te vergewe.
  • Ander mense wat hulle te na gekom het, of selfs bydraend die oorsaak is van hulle homoseksualiteit, moet deur hulle vergewe en geseën word.
  • God moet in volkome afhanklikheid gevra word om hul verlossing te skenk van hul homoseksualiteit op die diepste vlak sodat hulle waarlik vry daarvan kan wees. Die Bybel verklaar duidelik dat dit moontlik is:
    1 Kor. 6:10,11 : “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
    En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”

Deur in die waarheid te wandel kan Christus se Kerk egter nie toelaat dat persone wat volhard om homoseksuele dade te pleeg toegelaat word om ampsdraers in die kerk te wees of selfs uiteindelik, na die pad van tug met hulle gestap is soos beskryf in die Bybel (verwys na Mat. 18:5-7 en Hebreërs 12:4-29), lidmate daarvan te wees nie. Dit beteken egter nie dat ons homoseksuele mense veroordeel en tot die helse vuur verdoem asof hulle nooit tot bekering kan kom nie; ons veroordeel wel hul dade in ooreenstemming met die Bybel en dit is ons plig en ons diepste begeerte om hulle in liefde te begelei tot inkeer, sodat ons uiteindelik soos 1Kor. 6:11 kan sê: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”


Die besluit van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit is hieronder. NG Doornkloof se kommentare is tussenin [vetdruk]. Die redes vir die kommentare is grotendeels te vinde in bogenoemde paragrawe.

BESLUIT VAN DIE ALGEMENE SINODE OOR HOMOSEKSUALITEIT
(soos ontvang deur die Adviesspan van NG Doornkloof op 11 Maart 2005)

  • Dit is die roeping van die kerk om die Evangelie van Jesus Christus in alle omstandighede en aan alle mense te bring. Daarom is dit die Kerk se taak om die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val, sodat die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus ook met betrekking tot hierdie aspek van die lewe tuisgebring kan word. [Hou in gedagte dat seksuele uitlewing binne die huwelik tussen man en vrou deur God aan die mens geskenk is, en dus nie oor dieselfde kam geskeer kan word as die bevryding wat nodig is van ander seksuele uitlewings nie. Kyk onder andere na 1Tes. 4:4 waar spesifiek gesê word dat elkeen sy eie vrou moet kry.]
  • Dit is ook die roeping van die Kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebrokenheid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. [Dit moet baie duidelik gestel word dat die Kerk nie skuldig is aan vooroordeel as sy haar lidmate aanspreek oor duidelike sondes volgens die Bybel nie.] In die lig hiervan vra die Algemene Sinode verskoning aan alle homoseksueles en hulle families, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die Kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seergemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die Kerk se optrede raakgesien kan word nie. [NG Kerk Doornkloof vra om verskoning as haar lidmate nie homoseksueles in liefde gewys het op die nodigheid van bekering van hierdie spesifieke sonde nie, en hulle nie probeer help het om daarvan verlos te word nie.]
  • Die Algemene Sinode is diep geraak deur die pyn en lyding, verwerping en eensaamheid van persone wat op een of ander wyse met die werklikheid van homoseksualiteit gekonfronteer is. Daarom onderneem ons om met mekaar saam op weg te gaan, deur:
    • In liefde mense te ondersteun op persoonlike vlak en die nodige ondersteuningsisteme daar te stel op alle vlakke.
    • Met die middele tot ons beskikking die nodige pastorale begeleiding te verskaf, as daar ’n behoefte is. [Pastorale hulp en begeleiding behoort in die grootste liefde te geskied maar kan uiteindelik tug ook insluit wat kan lei tot uitsetting uit die Kerk volgens die Bybel. Uitsetting sal hopelik nooit die uiteindelike resultaat wees nie – dit is ons diepste wens dat verandering sal plaasvind. “as daar ’n behoefte is” mag nie beteken dat die homoseksuele persoon maar mag voortgaan met sy lewenswyse nie.]
    • Saam te besin oor wat ’n Bybels-gefundeerde pastorale model is om homoseksuele persone te versorg. [en te bevry.]
  • Die Algemene Sinode erken dat daar in die Kerk verskillende vertolkings is van die beskikbare Skrifgegewens oor homoseksualiteit. [NG Doornkloof aanvaar dat daar net een ware vertolking van die Skrif is oor homoseksualiteit, naamlik dat die uitlewing daarvan sonde voor God is. Die neiging daartoe is egter ook sonde want sonde voor God is nie net wat ons doen nie, maar ook wat in ons harte aangaan. Die redenasie van verskillende moontlike vertolkings is onaanvaarbaar want gemeet daaraan kan ons ook nie glo dat Jesus God is nie, gegewe die uitsprake van baie moderne hoogsgeleerde teoloë wat Jesus se Godheid verwerp.] Ons onderneem om die gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit met die oog daarop om die Kerk en ons lidmate op die mees verantwoordelike manier te dien. [Ons glo dat die Bybel baie duidelik oor hierdie saak is alhoewel die presiese wyse van hulpverlening en berading sekerlik kan verbeter in alle afhanklikheid van die Here.]
  • Volgens ons verstaan van die Skrif kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou word. (Handelinge, Algemene Sinode 2002: bladsy 624, 12:11, punt 2.) [Laat ons hoop en bid dat die Algemene Sinode die Skrif nie in die toekoms anders gaan verstaan nie. Hierdie punt kort die verklaring dat seksuele uitlewing slegs toelaatbaar is binne die huwelik. Dit is nodig om te stel want alleen dan is dit duidelik dat homoseksuele uitlewing ontoelaatbaar is.]
  • In aansluiting by die Algemene Sinode van 2002 bevestig die Algemene Sinode 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word. [Enige homoseksuele uitlewing – nie net promiskuïteit – is sonde voor God en moet dus veroordeel word. Kyk na die Skrifgedeeltes in Levitikus soos hierbo genoem. Daar is wel goeie Bybelse redes om die doodstraf nie meer in die Nuwe Testamentiese tyd daarvoor toe te pas nie, maar sekerlik verander dit nie die sondigheid van homoseksuele uitlewing voor God nie.]
  • Die Algemene Sinode is daarvan oortuig dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en dat hulle op grond van hulle doop as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar behoort te word. [Geen mens wat volhard in die sondes wat pertinent in die Bybel uitgespel word, sonder die voorneme om daarmee te breek, behoort uiteindelik na die pad van tug in liefde deurloop is, ’n lidmaat van die kerk te bly nie.] Dit is ons oortuiging dat ons alle mense se getuienis oor hulle geloof en toewyding, sowel as hulle seksuele oriëntasie, ernstig moet opneem en hulle integriteit moet aanvaar. [Enige mens wie se getuienis oor hulle geloof en toewyding strydig is met hulle optrede soos gemeet aan die Skrif, se integriteit kan nie aanvaar word nie.]

Verwysings:

  • “Homosexuality – Speaking the Truth in Love” deur Edward T. Welch
  • Uit Stephan Joubert se aanbieding by die seminaar “Die Bybel en seksualiteit”.
  • Lewensverrykingseminare se Christelike beradingsriglyne

——————————————

Op 8 Junie 2007 reik die NG Kerk sy nuutste verklaring oor homoseksualiteit uit. Die kommentaar in [vetletters] hieronder is aangehaal uit die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme:

Die Algemene Sinode besluit soos volg:

  1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
  5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse/huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
  7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
  8. Die AS erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte oor homoseksualiteit as ’n eenheid aan die Sinode gestel is en dat hierdie besluit as ’n eenheid gelees en verstaan moet word.

[Dit is ’n verwarrende verklaring: As homoseksualiteit veroordeel word, dan is dit nie nodig om te sê dat homoseksuele promiskuïteit veroordeel word as sonde nie (punt 5). Party kan dit vertolk dat dit beteken dat homoseksualiteit nie verkeerd is nie, maar wel homoseksuele promiskuïteit, want nêrens in die verklaring word gesê dat homoseksualiteit as sonde veroordeel word nie. Punt 6 doen dit nie – dit verklaar slegs dat dit nie ’n alternatief vir die huwelik is nie. En wat beteken punt 6 prakties? In die lig daarvan dat die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers vroeër aan die Suid-Afrikaanse Regering voorgestel het dat homoseksuele huwelike gewettig word, wat moet die Kerk met sulke huwelike doen as dit nie ’n alternatief vir ’n huwelik tussen ’n man en vrou is nie? Veronderstel twee ongelowige mense wat in ’n homoseksuele huwelik is kom tot bekering, hoe moet die Kerk dít hanteer? Gaan daar van hulle verwag word om te skei? Dit sou baie eenvoudiger gewees het indien die Kerk duidelik verklaar het dat hulle homoseksuele verbintenisse nie erken nie.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui