Reaksie op Vrystaatse sinode se Belharstemming

Kyk ook:

Die volgende briewe het verskyn na aanleiding van die Belharkwessie.

*************

Interpretasie nie reg

Vrydag 20 Maart 2015 07:00

Reeds voor die stemproses het talle lidmate die Belydenis onderteken sonder dat teen hulle opgetree is. Daardie ruimte het reeds bestaan. Dit was dus onnodig vir beswaardes wat Belhar aanvaar wou hê, om te kla dat daar nie vir hulle ruimte gelaat is nie.

Die moderamen het voor die sinode reeds besluit en dit aan die vergadering voorgelê dat lidmate “ongeag hulle persoonlike standpunt oor die Belharbelydenis en ongeag die uitkoms van die stemproses oor Artikel 1, sonder voorbehoud welkom is in die kerk”. Die ruimte het dus reeds voor die stemming bestaan. Die besluit wat nou geneem is, het hierdie vryheid slegs bevestig.

Daar is geen manier waarop die besluit as ’n middeweg geïnterpreteer kan word nie. Die sinode het met 68% teen die wysiging van Artikel 1 en teen die aanvaarding van Belhar as vierde belydenisskrif besluit. Dit is geen middeweg nie.

Prof. Nelus Niemandt se opmerking dat Artikel 1 se konsep van “ruimte skep” werk, is ’n poging om ’n positiewe aksent op die sinode se besluit te plaas. Die voorgestelde wysiging gaan oor die belydenisgrondslag van die Kerk met Belhar as vierde belydenisskrif. Die toestemming om Belhar te aanvaar of nie, sou niks verander aan die feit dat Belhar ’n vierde belydenisskrif sou word as die wysiging aanvaar is nie.

Daarvoor het die sinode “nee” gesê. Dit was misleidend om te beweer dat die stemming nie oor Belhar gehandel het nie, maar oor die “ruimte skep vir mekaar”.

Dit is jammer dat die versoenende houding by die sinode, waar selfs ondersteuners van Belhar gesê het dat ’n skeuring nie voorsien word nie en dat hulle deur die sinode gehoor is, deur die opmerkings van prof. Niemandt en dr. Dawid Kuyler oorskadu word.

Die Vrystaatse sinode het ’n pad van versoening en samewerking gekies. Die berigte kan die mooi gees waarin ons uitmekaar gegaan het, vertroebel.

Prof. Johan Janse van Rensburg- Bloemfontein.

*************

Leiers mors tyd met Belhar

Vrydag 20 Maart 2015 05:20

Almal weet die stemming gaan oor Belhar en nie oor artikel 1 nie.

Ek sal prof. Nelus Niemandt (moderator van die NG Kerk) nie verantwoordelik hou nie, maar ons leierskorps het ons mense hier liederlik mislei.

Ek is egter gatvol om skuldig te moet voel dat ek onse Here Jesus Christus aanbid in die ruimtes van ’n NG gemeente!

Ek beleef ons VGK-vriende as dat hulle nog altyd net eise stel. Nie eens die Here Jesus self sal hul behoeftes kan bevredig nie.

Hoekom hoor ons nooit uit VGK-geledere ’n dankie vir die jare en jare se meelewing en miljoene rande wat uit NG gemeentes na hul leraars en geboue gevloei het nie?

Glo my maar, ek en ons gemeente het nog altyd wyd uitgereik, maar Belhar slaag daarin om ons te verdeel. Die toets is of ons beloftes en opdragte uitvoer en nie net belydenisse soos gediggies wil opsê nie.

Myns insiens het ons kerk se leierskorps ons weer eens erg verdeel en net daarin geslaag om ons tyd te mors en om die aandag af te trek van kosbare saamdoen-geleenthede tussen kerke. Ons is nou meer vervreemd as ooit vantevore. Mag die Here ons hierin help.

Ek weet mense hou nie daarvan as dominees so praat nie, maar na die hel met mooi praatjies. Ons wil nou vir ’n slag ons werk in gemeentes doen en die Here gaan uitleef op verrassende plekke waarheen Hy ons stuur en lei.

Ds. Johan Raubenheimer

Potchefstroom

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui