Oostelike Sinode: Verklaring oor vergadering (17 en 18 November 2021)

Die Oostelike Sinode het op 17 en 18 November 2021 vergader om te besluit oor Artikel 37. Artikel 37 maak dit moontlik vir ’n streeksinode om weg te breek van die AS (algemene sinode) van die NG Kerk, soos dit voor 1962 daarna uitgesien het.

Oostelike Sinode (Ferdie Mulder, 30 Nov 2021)

Hier volg ’n persverklaring van die gebeure.

Kyk ook aan die onderkant vir kommentaar hierop.

*******

Oostelike Sinode: Verklaring oor vergadering (17 en 18 November 2021) | Kerkbode

Kerkbode

19 November 2021

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie ’n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

1. Meer as 200 afgevaardigdes van die 84 gemeentes van oor Mpumalanga en die ooste van Pretoria het te midde van die Covid-regulasies in die kerkgebou van die NG Kerk Skuilkrans vir twee dae vergader op versoek van twee ringe en ’n beskrywingspunt van Burgersfort gemeente.

2. Die eerste deel van die sinodesitting is gewy aan die impak van die pandemie op ons gemeentes en ook op elkeen van ons se persoonlike lewe. Daar is ook vanuit die Bybel stilgestaan by God se bemoediging en vertroosting in ’n tyd soos hierdie. Daar is ook op ’n gepaste wyse hulde betoon aan 16 leraars en emeriti wat sedert Oktober 2018 gesterf het.

3. Hierna het die beskrywingspunt van Burgersfort gedien wat reeds net na 2019 se Algemene Sinode besluit oor selfdegeslag-verbintenisse geformuleer is, maar as gevolg van die inperking en grendeltyd eers nou in die sinode hanteer kon word.

4. Na ’n lang en baie openhartige bespreking het die Oostelike Sinode besluit dat die Algemene Sinode se besluit van 2019 oor selfdegeslag-verbintenisse ’n verdeeldheid gebring het in die NG Kerk. Die verskille in Skrifinterpretasie het tot ’n vasgelooptheid en groot ongelukkigheid gelei onder sommige gemeentes en leraars in die sinode.

5. Die sinode het ook sy vorige besluit van 2016 bevestig naamlik dat “slegs die huweliksverbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele huweliksverbintenis/-verhouding nie aan Christelike huweliksriglyne voldoen nie.”

6. Die Oostelike Sinode het besluit om nie uit die verband met die Algemene Sinode te tree nie.

7. Die sinode het egter ook besluit dat gemeentes wat op grond van hulle oortuiging nie langer tuis voel om deel van die Algemene Sinode te wees nie, met leiding bedien sal word oor wyses waarop hulle wel uit verband met die Algemene Sinode kan tree. Daar sal kerkordelike weë gesoek word om ruimte vir sulke gemeentes te skep waar hulle tuis kan voel.

8. Ons het as familie mekaar se hart gehoor en besluit om mekaar vas te hou. Ons is na die sinodesitting huise en gemeentes toe met ’n roeping om nou met nuwe passie en gehoorsaamheid te fokus op die groot opdrag van Jesus om dissipels vir Hom te maak.

Verklaring uitgereik deur Francois Retief, Uitvoerende Amptenaar: NG Kerk Oostelike Sinode

Kommentaar

Hier volg kommentaar oor sommige van die punte:

Punt 4: Vasgelooptheid oor 2019-besluit bring verdeeldheid

In ’n groot mate is dit ’n niksseggende besluit. Reeds in 2019 is erken dat daar ’n vasgelooptheid in die NG Kerk ontstaan het, wat impliseer dat daar nie saamgestem kan word oor die feit dat daar ruimte gemaak word vir selfdegeslagsverhoudings (SGV) in die NG Kerk nie. Die woord “vasgelooptheid” verskyn selfs in die amptelike besluit oor homoseksualiteit. Dit is egter insiggewend dat een van die sinodegangers na die tyd die woorde gebruik het: “…dit ‘n onherstelbare breuk in die kerk gebring het.” As dit akkuraat is, kan dit hierdie besluit meer betekenisvol maak, want dan kan dit daarop dui dat die sinode erken dat ’n skeuring in die NG Kerk waarskynlik sal plaasvind.

Punt 5: Huwelik = verbintenis tussen een man en een vrou

Hierdie besluit sê in effek dat SGVs “nie aan Christelike huweliksriglyne voldoen nie.” ’n Mens wonder egter hoe liberales hierna kyk: sou hulle steeds kon argumenteer dat dit wel nie aan Bybelse riglyne voeldoen nie, maar dat dit nie noodwendig sonde is nie. Hoe dit ookal sy, hierdie besluit gaan nie voorstaanders van SGVs in die Oostelike Sinode verhoed om dit steeds in hulle gemeentes te promoveer nie. Hulle sal hulleself bloot beroep op die besluit van die Algemene Sinode wat wel ruimte daarvoor maak.

Punt 6: Aanvaar nie artikel 37 nie

Dit is onseker wat ’n mens hieruit moet aflei. Dit kan die volgende beteken:

  1. Die meerderheid in die Oostelike Sinode is gemaklik met die 2019-besluit. Maar indien dit so is, hoekom sou hulle punt 5 besluit het?
  2. Die meerderheid is nie gemaklik nie, maar voel nie sterk genoeg oor die dwaling in die kerk dat hulle hulself van die Algemene Sinode wil onttrek nie. Met ander woorde, kerkeenheid is vir hulle belangriker as die dwaalleer wat in die NG Kerk heers.

Punt 7: Skep ruimte vir gemeentes om uit AS te tree

Slegs tyd sal leer wat met hierdie besluit gaan gebeur. Dit is onwaarskynlik dat ’n streeksinode vir gemeentes toestemming kan gee om hulle eie sinode te stig. Die Algemene Sinode sal dit moontlik moet doen. Indien ’n 11de sinode wel gestig word, dan kan hierdie nuwe sinode besluit om ’n artikel 37 uit te voer en hulleself so losmaak van die Algemene Sinode. Die vraag is nog altyd: Wat dan? Gaan so ’n sinode bloot funksioneer as ’n aparte kerk? Indien wel, is daar enige sin om dan nog deel te wees van die NG Kerk familie? Wil behoudendes gesien word as deel van die NG Kerk familie?

Punt 8: Besluit om mekaar vas te hou

Tot ’n mate wil ’n mens voel dat punt 8 teenstrydig is met punt 7, maar dit is seker streng gesproke korrek dat die Oostelike Sinode wel besluit het om ’n familie te bly.

Addisionele besluit

Volgens een van die sinodegangers was daar ook besluit dat alle kerkrade in die Oostelike Sinode amptelik moet besluit of hulle gemaklik is met die 2019-besluit oor SGVs. ’n Mens neem aan dat hierdie inligting dan gerapporteer sal word tydens die volgende Oostelike sinodesitting vroeg in 2022.

Dit sal interessant wees as die meerheid kerkrade besluit dat hulle nie gemaklik is met die 2019-besluit nie. Die vraag is net: wat sal ’n mens doen met hierdie inligting?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui