Oos-Kerk se Viam Dei – Die pad na God?

Kyk ook:

Dr Marina Strydom is ’n leraar van die bekende Oos-Kerk in Pretoria. Haar rol in die gemeente is spiritualiteitsontwikkeling. Sy het prominent opgetree by die Algemene Sinode van 2015 toe die Sinode daar nagmaal gehou het.

In die Kerkbode van 16 Januarie 2017 berig Neels Jackson van Marina se Viam Dei bediening. Die berig is hieronder ingesluit. Hoe meer ek oor die bediening van Marina in die Kerkbode gelees het, hoe meer het ek onder die indruk gekom van die buite-Bybelse invloede waarvan sy gebruik maak. Wat bedoel ek?

Barnie sê hy vind nie vreugde in sy gewone Bybellees, gebed en kerkgang nie. Dit bring nie verdieping in sy verhouding met God nie.

Marina Strydom sê sy het ’n bediening wat mense help op ’n reis met God. Op die reis word afstand gedoen van ’n rasionele verhouding met God om op ’n dieper vlak met God om te gaan. Sy noem dit Viam Dei. Met Viam Dei wil sy mense help om ’n brug oor te steek van ’n “kliniese spiritualiteit” na wat sy noem ’n “heel en geïntegreerde spiritualiteit”. Haar bediening fokus op kontemplasie, groepwerk, boekbesprekings en retreates.

Die terminologie waarmee Viam Dei werk, is bv kontemplatiewe gebed, innerlike transformasie, geïntegreerde spiritualiteit, spirituele bewussyn, lewensverandering, hoe ek as mens tussen ander mense lewe en om jouself beter te verstaan.

As mens op die internet gaan soek na die soort terminologie is jy spoedig kniediep in die misleiding van die Oosterse godsdienste en New Age groeperinge. Gaan google maar self bv “inner spirituality”.

Barnie sê deur Viam Dei het hy die dieper verhouding met God gevind waarna hy gesmag het. “Ek het ongelooflik rustiger geword,” sê hy.

Die vraag wat ons ons egter moet afvra is: Hoe wil God Hom laat ken? Hoe tree ek in ’n verhouding met God? Ek wil ’n paar aanwysers gee.

  1. Ons godsdiens gaan beslis oor ons rede. Die sogenaamde kontemplasie en Lectio Divina benadering tot Bybellees vra dat jy jou verstand eers moet parkeer om op nuwe maniere met God om te gaan. Is dit werklik ’n Bybelse benadering vir geloofsgroei as mens die volgende teksgedeeltes in gedagte hou?
  • Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou siel en met jou verstand (Mat 22:37).
  • Paulus praat van ons redelike (logikos) godsdiens (Rom 12:1).
  • Die woord nugter word 11 keer deur die apostels gebruik bv: 1Pet 5:8: Wees nugter, wees wakker!
  • Jesus het Hom van jongs af toegelê op die bestudering van die Skrif (Luk 2:46).
  • Die Woord is die swaard van die Gees (Ef 6:17).
  1. Ons kan alleen deur die gelóóf in ’n verhouding met God staan. Daar is nie ’n plaasvervanger vir geloof nie.
  • Heb 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
  • Heb 11:6 As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
  • 1Pe 1:8 Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie.
  1. Alle geloofsgroei en sentreer rondom ons verhouding met Christus. Marina praat van verandering in geloofsidentiteit sonder om eenkeer die naam van Christus te noem. Sy praat net van God. Ek wil nie ontken dat Christus in haar teologie figureer nie, maar om te praat van geloofsidentiteit sonder om dit met Christus in verband te bring is nie die regte pad nie:
  • Joh 15:5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
  • Ef 3:16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
  • Kol 3:3 Julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Lees nou asb self die berig verder en beoordeel self wat ek waargeneem het:

‘n Reis op God se pad

16 Januarie 2017, Neels Jackson, Artikels

By die Ooskerk in Pretoria neem dr. Marina Strydom gelowiges op Viam Dei, die pad van God. Dis ’n reis wat ’n mens verander, maar dis ’n lonende reis, want dis ’n reis na ’n dieper verhouding met God toe. NEELS JACKSON berig.

Banie Lundie (56) is ’n man met ’n gesin, ’n siviele ingenieur met sy eie besigheid en ’n aantal werknemers. Hy is ook ’n gelowige wat nog altyd gevoel het dat hy ’n dieper verhouding met God wou he, maar dat die kerk se gewone manier van doen horn nie help nie.

“Ek het opgehou Bybel lees en bid,” vertel hy, “want ek het gevoel dit maak geen verskil nie.” Op ’n punt in sy geloofsreis het hy gebid: “Here, is daar ook ’n plek vir my?”

Dis vir mense soos Banie dat dr Marina Strydom, predikant van die NG gemeente Pretoria-Oos, vyf jaar gelede begin het met Viam Dei, ’n bediening waardeur sy gewone gelowiges wil help om ’n dieper verhouding met God te hê op elke vlak van hulle lewe.

“Ek het begin agterkom mense beleef hulle verhouding met God baie rasioneel,” sê sy. “Dit gebeur in hulle kop. Hulle hoor dit en dink daaroor.”

Barnie verduidelik sy belewenis so: Vroeer sou hy ’n goeie Pinksterreeks bywoon. Dan het hy gevoel daar word met hom gepraat. Dit was vir hom ’n hoogtepunt, maar na ’n week of wat taan dit. Dan is hy weer waar hy was.

Met Viam Dei wil Marina mense help om ’n brug oor te steek van ’n kliniese spiritualiteit na ’n heel en geïntegreerde spiritualiteit. Dit beteken dat iemand se godsdiens nie net ’n kopding moet wees nie, maar dat dit ook die hart en hande moet betrek.

‘n Mens skryf in vir Viam Dei, soos vir ’n jaarkursus. Dit kos R2 000 per jaar wat in kwartaallikse paaiemente van R500 betaal kan word. Dan verbind jy jouself tot een sessie van twee uur per week, op ’n Maandagaand, Dinsdagoggend of Donderdagaand.

Nog ’n been gaan oor geestelike groei, oor “hoe ek as mens tussen ander mense lewe”. Dit behels ’n mens se verhoudings met ander mense. Dit streef daarna om al meer na buite te leef, om ’n hart vir die gemeenskap te ontwikkel. “Hoe meer ek God se hart verstaan, hoe nader kom ek aan die pad wat God wil hê ek moet loop,” sê Marina.

Die ander been is innerlike transformasie. Dit behels dat ’n mens jouself beter verstaan en beter verstaan hoe God jou gemaak het. Dit help ’n mens om insig te kry in jou eie optrede en om te sien wat die effek daarvan op ander mense is. Viam Dei wil mense help om te sien dat God elkeen met spesifieke gawes gemaak het wat God in die wêreld wil aanwend.

Om God se pad te leer stap is egter nie iets wat ’n mens in ’n jaarkursus afhandel nie. Daarom wil die meeste mense na die eerste jaar daarmee voortgaan. Banie stap die pad nou al vier jaar lank.

Van die tweede jaar af verander die patroon egter. Dan word mense in klein groepe opgedeel en daar werk hulle saam die materiaal deur wat hulle van Marina kry. Hulle bespreek boeke, worstel saam met lewensvrae, stap saam op God se pad. Vir Marina sien hulle een maal per kwartaal in ’n groot groep.

Saam met Viam Dei word daar ook verskillende retreats deur die jaar aangebied, en Sondagaande is daar ’n kontemplatiewe Laudate-diens in die kerk.

Net minder as 400 mense het Viam Dei die afgelope vyf jaar deurloop. En ’n mens hoef nie by Pretoria-Oos in te skakel om dit te doen nie. Daar is selfs ’n aanlynopsie om dit van elders af te doen.

Vir Banie het Viam Dei ’n lewensverandering gebring. In ’n onvolmaakte wereld, sê hy, is dit so na as moontlik aan ’n volmaakte plek om antwoorde te soek. As jy daar sit, kom jy agter die lewe is nie so eenvoudig nie, en jy is nie al een wat sukkel nie. Jy hoef ook nie skaam of skuldig te voel oor jou vrae nie.

Hy het homself en sy agtergrond beter leer verstaan. By die werk het hy die jonger ouens beter verstaan en kon hy hulle beter akkommodeer. Hy kon sy gesinsverhoudings beterhanteer. “Ek het ongelooflik rustiger geword,” sê hy.

Daarby het hy baie meer empatie met mense in nood. Vroeër sou hy afkondigings oor die kerk se uitreikaksies gehoor het en net kennis geneem het daarvan. Nou is hy self betrokke. “Jesus het hom maar met die randfigure geïdentifiseer,” merk hy op.

Deur Viam Dei het hy die dieper verhouding met God gevind waarna hy gesmag het.

* Mense wat meer wil weet; kan vir Marina e-pos by marina@ooskerk.org.za of www.viamdei.com besoek.

1 thought on “Oos-Kerk se Viam Dei – Die pad na God?”

  1. Hierdie is maar nog een van die dwalings wat hul oorsprong het uit ;n groepie dwaalleraars in die Wes-Kaap Sinodale gebied. Interessant dat dit ‘n groepie “teoloë” is wat saam studente was toe hulle met hul voorgraadse studies aan die universiteit was. Ek verwys byvoorbeeld by name na die huidige moderator van die NGK, Nelis Janse van Rensburg en Dr. Frederik Marais. Daar is natuurlik ander ook.
    Nelis was seker man wat verantwoordelik was om die kerk op die dwaalweg van homoseksualiteit te ontspoor. Dr Frederik Marais is tans die voorstaander en verkondiger van die valsheid van meditasie ,wat niks anders is van Oosterse-meditaiese. Hull
    Mense in die kerk wat geestelik dood voel is heel waarlikskynlik geestelik dood. En jy gaan hulle nie uit hierdie doodsheid opwek met aanvaarding van hul sondige lyfstyl, meditasie en die aansteek van 1000 kerse vir geliefdes in die graf nie. Ons word nie opgeroep om ons geliefdes te vier nie, maar die lewende, heilige God, ons here Jesus Christus.
    Al die dwaalleraars in die NGK sal die noodwendige gevolge van hul misleiding van een van die grootste gemeenskappe van God in SA dra. Die oordeel van God begin by die huis van God. Beide hierdie manne en ander dwaalleraars in die NGK se Soteriogie is uit die hel self aangevuur en die NGK het in hul valse leer verstrengel geraak,

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui