Oor verskillende Bybelvertalings

Inleiding

Die oorspronklike Bybel is geskryf in Hebreeus (Ou Testament) en Grieks (Nuwe Testament).

In 500 vC is die Ou Testament vasgestel in Hebreeus. In 200 vC is die Ou Testament reeds in Grieks vertaal.

Die oudste afskrifte van die Nuwe Testament wat vandag bestaan, is:

  • Codex Alexandrius
  • Codex Sinaiticus in die Britse Museumbiblioteek in Londen
  • Codex Vaticanus in die Vatikaan

Hulle dateer terug na ongeveer die 300’s nC.

Doel van vertalings

Die doel van verskillende Bybelvertalings is om die Woord van die Here effektief by mense uit te bring. Vertalings probeer om vir mense vandag oor te dra wat in die oudste geskrifte van die Bybel vir ons opgeteken is.

Twee verskillende benaderings

Daar word onderskei tussen twee soorte Bybelvertalings:

  1. Direkte vertaling: Die vertalers probeer om woorde so direk as moontlik te vertaal. Byvoorbeeld, as daar “slang” in die oorspronklike teks staan, sal dit met “slang” vertaal word.
  2. Vry vertaling: Die vertalers probeer die bedoeling van die destydse Bybelskrywers oor te dra in hedendaagse taal en uitdrukkings.

Probleem

Dit mag lyk of ’n direkte vertaling ’n beter opsie sou wees om te bepaal wat die oorspronklike geskrifte wou oordra. Dit is nie noodwendig so nie.

Vry vertalings

Vry vertalings is maklik om te lees en te verstaan. Die probleem is dat jy grootliks aan die vertaler se interpretasie uitgelewer is.

Direkte vertalings

Direkte vertalings mag dalk meer direk wees, maar:

Watter vertaling?

Ek is ’n groot voorstaander van die lees van veelvuldige vertalings. Soms gee verskillende vertalings verskillende perspektiewe oor ’n saak en is dit baie dieselfde as om verskillende Bybelkommentare te lees.

Persoonlik het ek groot geword met die Afrikaans 1983 vertaling, dus ken ek dit redelik. Op ’n stadium het ek die Nuwe Lewende vertaling gelees. Dit was vir my ’n baie verrykende ervaring. Dit het my nuwe insigte gegee oor sommige verse omdat ’n gedeelte anders gestel is. Ek stem egter nie met al die interpretasies in die Nuwe Lewende vertaling saam nie.

Ek is nie oortuig dat dit krities belangrik is om “die regte” Bybel te lees nie. Ek dink nie daar is enige van die hoofstroom Bybels wat ’n totaal skewe Evangelie verkondig nie.

Dit is veel belangriker dat jy iemand is wat die waarheid met opregtheid soek. Dan gaan dit jou soms dwing om te gaan kyk wat ander vertalings en kommentare oor ’n gedeelte sê.

As ek twyfel oor ’n gedeelte, gaan kyk ek gewoonlik wat die volgende vertalings daaroor sê:

  • Afrikaans 1983
  • Afrikaans 1953
  • Nuwe Lewende vertaling
  • King James
  • English Standard Version (ESV)

En ’n mens sou selfs die New International Version (NIV) kon byvoeg.

Wat van Die Boodskap Bybel (The Message Bible)?

Die Boodskap Bybel is ietwat kontroversieel omdat dit uit en uit ’n vry vertaling is.

Christene sal nie hulle geloof verloor indien hulle Die Boodskap Bybel lees nie. Dit kan mens selfs nuwe insigte bring oor sekere gedeeltes, maar ek sal dit glad nie aanbeveel as jou primêre Bybel nie. Indien jy dit lees, is dit belangrik om dit te toets teen ander vertalings. Ek sou dit hoogstens een keer deurlees, en dan weer ‘n ander Bybel my primêre Bybel maak.

Voorbeeld

Ek vergelyk Spreuke 1:7 hieronder as voorbeeld:

  • 1983: Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.
  • 1953: DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
  • NLV: Kennis begin met eerbied vir die HERE, net dwase verag wysheid en dissipline.
  • KJV: The fear of the LORD is the beginning of knowledge: But fools despise wisdom and instruction.
  • ESV: The fear of the LORD is the beginning of knowledge; fools despise wisdom and instruction.

My kommentaar

  • 1983: Hier word afgewyk van die woord “vrees”, wat ek glo van sy betekenis verloor.
  • 1953: Dit is argaïes en moeilik om te verstaan, veral vir kinders.
  • NLV: Ek hou baie van die woord “eerbied”. Spreuke 23:17 gebruik die woord “ontsag” wat ek glo ook ’n goeie woord is.
  • KJV: Geen kommentaar.
  • ESV: Geen kommentaar.

Kyk ook

1 thought on “Oor verskillende Bybelvertalings”

  1. Die 1933/53 vertaling se ou taal gee in baie gevalle ’n voller betekenis. Bv lankmoedig beteken vir my meer as geduldig. Ook byvoorbeeld in Psalm 82 is die Ou Vertaling meer akkuraat as meeste vertalings (ook Engelse vertalings). Dit is eers die nuwer letterlike vertalings soos die ESV wat dit soortgelyk vertaal. Die ESV is ’n baie goeie vertaling, want dit is letterlik, maar gebaseer op meer getroue grondtekse wat die getuienis vd dooie see rolle in ag neem. Vgl ESV Deut 32:8-9 wat Ef 3 ’n voller betekenis gee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui