Onderdane wat slaafs is, is taboe

Geskryf deur Adrio König.

Datum: 25 Mei 2011

Oorspronklike artikel in Beeld.

Kyk ook:

**********

Paulus kritiseer sy tyd se manier

Paulus beveel nie die vroue om aan hul mans onderdanig te wees nie, hy kritiseer die vorm van hul onderdanigheid (Ef. 5).

Vroue-onderdanigheid was algemeen in die Joodse en Grieks-Romeinse kultuur.

Dit was regtig onnodig vir Paulus om dit te herbevestig. Die dogters het dit met moedersmelk ingekry.

Maar dit was ’n slaafse onderdanigheid. Die Ou Testament is vol daarvan dat die vrou eintlik die man se eiendom is. Sy verskyn wel boaan die lys van sy besittings in die tiende gebod, maar sy is nog sy besitting. Hy kon wel van haar skei (’n mens kan afsien van jou eiendom), maar nie sy van hom nie (hoe kan jou besitting besluit om nie meer jou besitting te wees nie?).

Sy het omtrent geen regte gehad nie. Haar kinders was weeskinders, al het sy nog geleef, kinders sonder regte.

As haar man dood is, kon ’n skuldeiser haar kinders as slawe kom vat, iets wat onmoontlik was solank die pa nog geleef het (2 Kon 4).

Waarom sou Paulus in so ’n situasie nog die vrou se onderdanigheid wou beklemtoon?

Hy kritiseer dit eerder.

Hy skryf eintlik iets soos: Hou op met julle slaafse onderdanigheid, begin onderdanig wees aan julle mans soos julle aan die Here is en soos julle mans aan julle moet wees.

Om aan die Here onderdanig te wees, is totaal anders as om ’n man se slaaf te wees. Die Here gee ons al die ruimte om ons gawes te ontwikkel. 
Ons is tot alles in staat deur die Here wat ons krag gee (Fil. 4:13).

En boonop het Paulus ’n pragtige opskrif bokant hierdie deel geskryf: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.”

Dit beteken die man moet presies dieselfde onderdanigheid aan sy vrou hê as sy vrou aan hom.

Dit gaan dus om wederkerige onderdanigheid.

Wederkerige onderdanigheid

In 1 Kor. 7:2-5 skryf hy dit net nog duideliker. Daar is absolute weder­kerigheid. Elke ding wat van die een gesê word, word in presies dieselfde woorde van die ander een herhaal.

  • Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom en net so ook die vrou teenoor haar man.
  • Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man. Net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

Daarom kan hulle net met wedersydse toestemming sekere dinge besluit.

Dit is ’n prentjie wat soos dag by nag van die huwelik in die Ou Testament verskil. Dit is bevryding vir die vrou én die man!

Die man se hoofskap

Maar wat dan van die man wat die hoof van die vrou is? (Ef. 5:23) Is Paulus nie ook hier eerder besig om die man se tradisionele hoofskap (baasskap) te kritiseer nie? Hy moet die hoof wees soos Christus, Christus wat die Verlosser is. En wat beteken dit?

Christus het sy lewe vir ons afgelê (5:25-27). Hy wat die Hoof is, het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien (Mark. 10:45) en deur sy diens die kerk skoon en mooi te maak (Ef. 5:25-27). Dis die man se taak as hoof: diens om sy vrou se lewe te versier. Ek speel met die gedagte dat Paulus eintlik hoof in aanhalingstekens sou geskryf het (“hoof”) want hy verwys net na Christus se diens aan ons. Die feit dat die vrou in alles aan haar man onderdanig moet wees (5:24), kanselleer dus nie die opskrif nie. Dit geld ook van die man.

Dit gaan immers oor ’n wederkerige verhouding.

Intussen is dit ook belangrik wat hy die mans beveel: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê” (5:25). Ook dit is kritiek op daardie kultuur toe mans eerder net ’n meisie gesoek het om kinders vir sy pa se nageslag te lewer.

Moet ons nie, mans én vroue, dankie sê dat Paulus hierdie vorm van die huwelik, waar die man beheer oor die vrou gehad het, radikaal hersien het nie en ons die ruimte vir liefdeshuwelike gegee het?

Hierdie wedersydse onderdanigheid is ook nie vreemd aan die gewone verhoudings tussen Christene nie.

“In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (Fil. 2:2).

Natuurlik kan ek my vrou se belange bo myne ag en sy kan op haar beurt myne bo hare ag. Miskien is dit nie eens spesifiek Christelik nie, maar net goed opgevoed.

’n Moeiliker, maar opwindender huwelik

Dit is wel waar dat ’n huwelik waar die een die sê het en die ander een net moet inval, minder ruimte gee vir verskille en spanning (natuurlik net indien die “onderste” een dit aanvaar). Maar dis ook ’n huwelik met min ruimte vir ontwikkeling, verrassings en opwinding.

Daarteenoor is ’n “wederkerige” huwelik wel meer oop vir verskille en spanning, maar dis ’n huwelik waarin daar plek is vir heerlike nuwighede, verrassings en opgewondenheid.

Dis ’n huwelik wat kan ontwikkel, waarin pligte kan skuif van die een na die ander, waarin veral die vrou haar volle potensiaal kan ontwikkel, waarin twee mense ná ’n paar dekades se saamwees byna nie meer kan onthou hoe hul oorspronklike verhouding gelyk het nie, waarin jou troudag nie die gelukkigste dag van jou ­lewe is nie!

– Prof. König is afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui