Drie briewe aan die “By”- Willem van Heerden

“By” het ’n aparte redaktrise wat haar eie ding moet doen. “By” het bestaan uit drie vou-blaaie, dus 12 bladsye. Op een bladsy was daar gewoonlik briewe geplaas.

My derde brief is nie geplaas nie, want die Saterdag toe dit geplaas sou kon word (8 Feb), dws die Saterdag na die kleitablet artikel (waarop my brief onmiddellik geantwoord het), is die hele bladsy waarop die briewe gewoonlik verskyn net nie in “By” nie. “By” het toe bestaan uit net twee vou blaaie. Van toe af is daar nie meer briewe in “By” nie.

Brief 1: Dis nie meer dieselfde storie nie

Aanleidende brief/artikel

Margot Huysamer-Shaw het op 16 November 2013 in ‘Daar’s te veel met die mense gemors’ geskryf dat sy gedink het sy het al alles gelees toe ontdek sy Ayn Rand. Rand glo nie in erfsonde nie. Sy skryf toe dat al die probleme van vandag is dat kinders geïndoktrineer word met die ou storie (Bybel). Daarop antwoord my brief.

Antwoord: Kerkvaders van ouds heers nie uit grafte nie, hulle word gebruik as slaansakke

Na aanleiding van Margot Huysamer-Shaw se brief (“Daar’s te veel met die mense gemors”) in By van Saterdag 16 November 2013 die volgende:

Sy kan tog sekerlik nie bedoel dat die Christen-leerstelling van erfsonde kinders skade aandoen nie? Geen kind kan so iets verstaan nie.

Dit is vir volwassenes en veral vir gelowiges om te verstaan. Natuurlik kan ’n besef dat sekere dinge wat sondig of verkeerd is, aan kinders oorgedra word. Selfs ongelowiges sal kinders verbied om verkeerde dinge te doen en dit is nodig. As dit op ’n verdraaide manier gedoen word, is dit die ouers se skuld, nie wat sy die “ou storie” noem se skuld nie.

Dit is ook verkeerd om te beweer die kerkvaders van ouds heers uit hul grafte. Al waarvoor hulle dalk gebruik word, is as slaansakke.

Die huidige samelewing is sekulêr. Net 4% van die mense in Nederland woon gereeld kerkdienste by. In die res van Europa is dit seker maar dieselfde! In ons land sal die aantal Christene seker hoër wees, maar hier is baie net nominale Christene. Mense ken nie hul Bybels nie, weet in baie opsigte nie eens hoe om volgens die Bybel op te tree nie, of om hul kinders daarvolgens op te voed nie.

Dan praat ek nie eens van die nie-Christene nie. Margot kan tog nie alles wat verkeerd is op die “ou storie” blameer nie.

Miskien is die fout eerder dalk die gebrek daaraan?

Wat Ayn Rand betref: Sy is ’n merkwaardige, intelligente vrou, wat goed kan skryf en ’n eie filosofie-stelsel opgebou het met ’n klompie volgelinge.

Nog ’n vrou, Margot, wat jy gerus kan ontdek, is Nancy Pearcey, in haar boek Total Truth. Sy kan goed skryf en het ’n wye agtergrond kennis.

Of dalk kan jy begin met die besonderse boek wat sy en Charles Colson geskryf het, How Now Shall We Live?

Willem van Heerden

Brief 2: Die kerk sal bly staan

Aanleidende artikel: Kruis óf munt ewe sleg vir die kerk

Bertus het geskryf van die liberale teologiese dinge wat hulle aan universiteit geleer het. Ook dat die getalle lidmate drasties verminder. Verder dat sekere mense nog sekere dinge glo en selfs dat Jona in die vis was! (Die dele in rooi hieronder is geskrap en het nie in die “By” verskyn nie.)

Antwoord

Na aanleiding van Bertus van Niekerk se stuk in “By” van 18 Januarie 2014, “Kruis of munt, ewe sleg vir die kerk”, onderstaande aanmerkings.

Eerstens, wat basies is vir die Christen geloof, is die aanvaarding dat die Bybel God se openbaring aan mense is. Dit is vas en onveranderlik—die absolute waarheid. Wat ’n Pous dus sou kon sê, of een of ander nuwe teoloog, maak geen verskil aan die waarheid nie. So ’n persoon kan óf die waarheid raak vertolk, óf hy kan foutiewe uitsprake maak. So ook kan gewone mense by die waarheid uitkom of dit nie raaksien nie.

Nou, omdat baie mense betrokke is en was, in die suster- en ander kerke, ook in sektes, kan mens wel baie soorte vertolkings verwag, soos wat Bertus melding van maak. Dit is ook te verstane dat teoloë in SA beïnvloed sal word deur populêre teologiese neigings en filosofiese uitsprake in die res van die wêreld. Baie daarvan verwar gewone “kerkmense” nog verder, veral as hulle nie werklike gelowiges is wat hul nek voor Christus gebuig het nie. Dis egter gerusstellend dat al hierdie gebeure in werklikheid niks aan die absolute waarheid verander nie(?).

Deur alles heen, in alle tye, was daar wel mense wat die werklike waarheid redelik goed vertolk het en daarvolgens gelewe het. So is dit ook vandag. Hulle is in baie kerk verbande. Hulle is die werklike kerk van Christus wat deur al die eeue staande gebly het en ook staande sal bly, omdat God dit beskik. Soos in enige groep is hier ook diegene wat graag lees, wat studeer, wat van alle wêreld beskouings weet en wat nie saamstem met sommige nuwe teologiese uitsprake nie. Dit is dus nie soos wat dit lyk uit Bertus se artikel, dat gebrek aan kontak met die buitewêreld beter insigte verhoed het nie. Maar daar is natuurlik ook ander wat vir hul godsdiens beoefening net die Bybel lees en ooglopende dwaalleer kan raaksien en verwerp.

Die vraag van Bertus oor hoe die kerk staande gaan bly, is dus eerder van toepassing op die formele kerk verbande en wat die maghebbers in daardie verbande gaan maak.

Terloops, oor Jona in die maag van die vis: dis tog makliker vir God om ’n vis beskikbaar te stel om Jona in te sluk waarin hy drie dae kon bly, as wat dit is om die heelal te skep met al die lewende wesens op die aarde!

Willem van Heerden

Brief 3: Kleitablet dui op die waarheid van die Bybel

Aanleidende artikel

Leopold het die artikel Woord van mense óór God geskryf van die nuut ontdekte kleitablet wat vertel van die vloed. Dr Irving Finkel van die Britse museum is dan aan die woord. Hy verduidelik hoe die vloedstorie van Babel waarskynlik gebruik is om die vloedstorie in die Bybel saam te stel. Dan gaan hy verder, soos ’n liberale teoloog, om te vertel dat die Bybel nie God se openbaring is nie, maar woorde van mense oor God.

Antwoord

Na aanleiding van die artikel van Leopold Scholtz “Woord van mense oor God” in “By” van 1 Februarie 2014, die volgende aanmerkings:

Die kleitablet wat gevind is, is baie interessant. Maar dis nie die enigste nie. Soos in die artikel ook gesê word, was daar vele in Mesopotamië. In werklikheid was daar honderde vloed stories in gemeenskappe oor die hele wêreld.[1]

Die tablet wat Finkel vertaal het verwys na ’n vloed en ’n sirkelvormige ark soos ’n mandjie. Wat baie interessant is van die tablet is die verwysing na diere (wat in die ark sou gaan): “Twee (diere) elk, twee vir twee” net soos in die Bybel beskryf word.

Al die volke met vloedstories in ver uiteenlopende plekke soos Amerika, Australië en Sjina, het nie kontak met mekaar gehad nie. Tog het almal elemente gehad van die werklike gebeure wat in die Bybel opgeteken was. Die enigste vertolking hiervan kan wees dat volke dit van die werklike gebeure moes gekry het.

Die oorspronklike verkryging van vloedinligting begin by Noag en sy seuns. Na die toring van Babel[2], toe die mense oor die wêreld versprei is, was die geweldige katastrofiese gebeurtenis van die sondvloed aanvanklik nog vars in die geheue van almal in gebrand. Dit is in elke volk oorvertel aan die kinders, en die kinders aan die kindskinders, so van geslag tot geslag oor honderde jare. Met die tyd het dit vloedmites geword wat vandag oral aangetref word.

Moses het hierdie werklike vloed in die Bybel beskryf. Daar kan ’n mens al die baie besonderhede lees van Noag, die vloed en die ark—’n ark van praktiese grootte en stabiele vorm wat vandag nog as die mees stabiele gereken word. Die Israeliete het dus nie eers 900 jaar later, tydens die ballingskap, die gebrekkige inligting van die sondvloed in Mesopotamië gekry en in die Bybel ingeskryf nie![3] Dan sou ons nooit geweet het wat die werklike omvang van die vloed gewees het nie en ook nie hoe die werklike ark gelyk het nie—ons sou maar net die uitgerafelde en aangedikte mite-inligting daarvan gehad het.

Verder, anders as wat die artikel beweer, dat die Bybel “woorde van mense oor God” is, is die Bybel in werklikheid die geïnspireerde “Woord van God” wat deur Bybelskrywers volgens hul eie styl neergeskrywe is. Die Bybel is die werklike vertelling van die handelinge van God met die mens, geanker in die geskiedenis. Dis geskiedkundig korrek. Dit bevat die openbaring van God aan die mens en is die algehele waarheid vir die mensdom.

Willem van Heerden

Voetnotas

[1] Kyk Noah’s Flood and the Gilgamesh Epic en Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?.

[2] Kyk Waar kom die tale van die wêreld vandaan?.

[3] Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui