Beskrywingspunt: Ring van Louis Trichardt 2022

Die Ring van Louis Trichardt het die volgende behoudende beskrywingspunt aan die Noordelike Sinode voorgelê tydens die Sinodesitting van 2022. In kort kom hulle argument op die volgende neer:

  1. Die NG Kerk aanvaar die Bybel as gesaghebbend.
  2. Die wil van God word in die Bybel aan ons bekend gemaak.
  3. Die 2019-besluit oor SGV is teenstrydig met die Bybel en daarom teen die wil van God.
  4. Die besluit is daarom onuitvoerbaar.

Die probleem is dat die Algemene Sinode besluit het dat die 2019-besluit NIE teenstrydig is met die Bybel nie.

Die sinode het hierdie voorstel verwerp.

*******

Die Ring van Louis Trichardt

26.07.2022

Die Noordelike Sinode Die Direkteur

Beskrywingspunt vir die agenda van die Sinodesitting

Beste Paul [Grobler]

Hiermee gee ons as Ring die beskrywingspunt van die Ring waaroor ons julle as Moderatuur op 30 Maart 2022 in ons Pietersburg byeenkoms ingelig het deur vir opname in die agenda van die komende sinodesitting in Oktober maand.

Vriendelike groete

Petrus Kriel

*******

Beskrywingspunt van die Ring van Louis Trichardt aan die Noordelike sinode.

Aanbeveling: die Sinode erken die onuitvoerbaarheid (non possibullium est) van die Algemene Sinode se 2019 besluit met betrekking tot Selfdegeslag verhoudings waarin die teenstrydige geloofsoortuigings van gemeentes wat SGV burgerlike verbintenisse aanvaar en bedien, en gemeentes wat SGV burgerlike verbintenisse as sonde beskou, en nie bedien nie, beide as reg aanvaar word.

1. Die regsbeginsel van onuitvoerbaarheid.

1. Die regsbeginsel van die onuitvoerbaarheid van instellings se besluite (non possibullium est) hou in dat die onuitvoerbaarheid van ʼn besluit ʼn totale verweer is teen die verbintenis aan en geldigheid van so besluit.

2. Geen instansie kan ʼn besluit neem waarin ʼn plig op ʼn instelling, of persoon wat aan hierdie instansie verbonde is, geplaas kan word wat onuitvoerbaar is nie.

3. So ʼn tipe besluit is van meet af aan (van die oomblik wat die besluit geneem is) ongeldig.

4. Geen rede kan aangevoer word wat as motivering kan dien wat ʼn onuitvoerbare besluit geldig maak nie.

2. Die instelling van twee teenstrydige geloofsoortuigings en bedienings oor die huwelik en burgerlike verbintenisse in die NG Kerk deur die AS.

2.1 Die Ring van Louis Trichardt het in 2019 ʼn standpunt ingeneem dat die besluit van die AS oor die huwelik en burgerlike verbintenisse onuitvoerbaar is. Die Ring het die standpunt en motivering aan die SDR van Noordelike Sinode deurgegee om aan die ASM vir bespreking deur te gee. Die ASM het geweier om die Ring se standpunt te behandel. Hierop het die SDR van Noordelike Sinode goedgekeur dat die Moderatuur van Noordelike Sinode en die Ring van Louis Trichardt oor die standpunt van die Ring gesprek sal voer. Hierdie gesprek het op 30 Maart 2022 in Pietersburg/Polokwane plaasgevind. Die Ring het na hierdie gesprek op die laaste SDR vergadering van 22 Junie 2022 deur sy Ringskommissie die onuitvoerbaarheid van die AS besluit weer vir bespreking voorgelê en ook die regsbeginsel van onuitvoerbaarheid (non possibullium est) aan die SDR vergadering gestel.

2.2 In die gesprek van 30.03.2022 het die moderatuur van Noordelike Sinode en die Ring met mekaar bevestig dat die volgende weergawe van die Ring oor die werking van die AS se besluit ʼn billike weergawe is.

1. Homoseksuele aangetrokkenheid tot mekaar is ʼn gawe van die Here en nie sondige neigings nie. 1. Homoseksuele aangetrokkenheid tot mekaar is ʼn sondige neiging en om hierdie neiging as liefde te glo, is deel van die oordeel van God.
2. Die Here verenig net twee mans of net twee vroue in ʼn lewenslange verhouding van wedersydse liefde en trou, waarin daar geen plek vir ʼn ander vrou of man is nie. Hierdie vereniging as band van die Here mag nie verbreek word nie, want wat die Here saamgevoeg het, mag die mens nie skei nie. 2. God verenig net een man en vrou in die huwelik as ʼn instelling van God.
3. ʼn SGV is ʼn instelling van die Here vir mense wat homoseksueel is. 3. God seën nie homoseksuele verhoudings en burgerlike verbintenisse nie. Dit staan onder sy oordeel.
4. Die intimiteit van twee mans of twee vroue met mekaar in hierdie vereniging deur die Here in ʼn SGV, is ʼn verseëling en viering van hulle verbintenis deur die Here. Daarom is seks buite hierdie verbintenis in ʼn selfde geslag verhouding deur die Here, losbandigheid. Dit is sonde teen die Here. 4. Intimiteit tussen twee mans of twee vroue is teen die wil van die Here. Homoseksuele seksuele gemeenskap is losbandigheid. Daarom mag leraars nie SGV of as burgerlike verbintenisse of as huwelike bevestig nie.
5. Onder die seën van die Here kan hulle ʼn gesin opbou tot eer van die Here en kinders van die Here ontvang en opvoed en lei om die Here te ken. 5. Die reg wat die AS toestaan om SGV nie te bevestig nie, is om ruimte te gee vir die geloofsoortuigings waarmee leraars en kerkrade nie SGV erken as volgens God se Woord nie.
6. Mans en vrouens in ʼn SGV kan seker wees van die Here se beskerming en seën in hierdie verbintenis. 6. Hiermee gee die AS ook aan leraars en kerkrade die reg om dit binne die gemeente volgens hulle geloofsoortuigings te hanteer en daarom teen persone wat in sulke verhoudings leef of in burgerlike verbintenisse bevestig is met kerklike tug te kan optree.
7. Persone in ʼn SGV mag egter nooit glo dat hulle verbintenis die vereniging is wat God skep as ʼn huwelik nie. Die Here verenig twee mans of twee vroue nooit soos in ʼn huwelik waarin God ʼn man en vrou een maak nie. God verbind hulle net met mekaar. Hy verenig hulle nie om een te wees nie soos in ʼn huwelik nie.
8. Daarom mag SGV deur leraars van die NG Kerk as burgerlike verbintenisse bevestig en ingeseën word in die Naam van die Here Jesus Christus, maar nie as ʼn huwelik bevestig word nie. Dit is teen God se wil.
9. Leraars en gemeentes wat nog nie God se liefde in SGV begryp nie moet met geduld hanteer en begelei word om tot volle kennis van God se liefde te kom.

2.3 Die Ring van Louis Trichardt het met hierdie ontmoeting van 30.03.2022 dit weer gestel dat hierdie twee teenstrydige geloofsoortuigings en bedienings binne een kerkverband onuitvoerbaar is. Dit is ook weer met die SDR van 22.06.2022 bevestig.

3. Die onuitvoerbaarheid van die AS besluit.

3.1 Volgens die AS se besluit mag NG leraars SGV burgerlik inseën uit die geloofsoortuiging dat homoseksuele aangetrokkenheid liefde is wat deur die Here as gawe gegee is én dat NG leraars mag weier om dit burgerlik in te seën uit die geloofsoortuiging dat dit sonde teen die wil van die Here is.

3.2 Volgens die AS se besluit mag geen predikant persone in selfde geslag verbintenisse in die huwelik bevestig nie, want dit sou teen die bedoeling van God met die huwelik wees. Dit beteken dat dit sonde sou wees.

3.3 Volgens die AS sou die inseëning van heteroseksuele persone in ʼn burgerlike verbintenis ook teen die bedoeling van God wees want hulle moet in ʼn huwelik verbind wees.

3.4 Die AS kan nie geloofsoortuigings en die optrede uit hierdie geloofsoortuigings oor die huwelik, SVG en burgerlike verbintenisse, net tot leraars en hulle optrede as kommissarisse van ede beperk nie. Hulle besluit het hierdie reg tot teenstrydige geloofsoortuigings en handeling volgens hulle gewete ook die reg van Lidmate, Kerkraadslede, Kerkrade en Ringe gemaak.

3.5 So kan lidmate, kerkraadslede, kerkrade en Ringe nou of glo dat SGV en hul burgerlike inseëning volgens die wil van God is of dat dit sonde is. So kan hulle dan ook hulle geloofsoortuiging en handeling volgens hulle gewete, persoonlike besluite, Kerkraadsbesluite of Ringsbesluite maak.

3.6 Binne die presbiteriale verband van die NG Kerk beteken dit dat leraars of SGV burgerlik kan inseën of kan weier om dit te doen. Net so kan kerkrade besluit of dit liefde volgens God se wil is, en lidmate wat dit nie aanvaar onder die kerklike oordeel plaas dat hulle nog nie die liefde van God werklik glo en aanvaar nie, en met geduld tot hierdie erkenning van God se liefde gelei sal word, of kerkrade kan dit as sonde sien en as sonde hanteer.

Beide handelinge, geduldige begeleiding om tot die aanvaarding van God se liefde te kom en die hantering van SGV en burgerlike verbintenisse is, tughandelinge. Dit beteken dat die AS ʼn orde geskep het waar NG leraars, kerkraadslede, kerkrade en Ringe oor dieselfde saak mekaar kan tug. In een gemeente kan persone in ʼn SVG burgerlik ingeseën word en in ʼn ander daarvoor onder tug geplaas word, en beide handel volgens die besluit van die AS. In een gemeente kan homoseksuelepersone geweier word om in burgerlike verbintenisse bevestig te word, terwyl ander gemeentes dan daardie gemeentes kan sien as gelowiges wat nog nie die ware liefde van die Here ken nie, en beide hierdie gemeentes tree volgens die AS se besluit op.

3.7 Die wet op burgerlike verbintenisse gee homoseksuele persone die reg om of in burgerlike verbintenisse of in huwelike bevestig te kan word. Dit is een wet, nie twee verskillende wette nie. (“Civil Union Act” van 2007)

Die AS het die reg vir die NG Kerk verkry om binne hierdie wet op te tree. Die AS kan nie die wet van die land selektief aanvaar nie. Volgens sy aansoek binne die wet kan mense in SGV self besluit of hulle in ʼn huwelik of burgerlike verbintenis bevestig wil word.

Die AS maak asof hy kon aansoek doen dat predikante binne die wet op die huwelike en burgerlike verbintenisse kan optree, maar as kerk teenoor die landswet kan besluit dat hulle net een deel van die wet kan toepas, en nie die ander deel van die landswet mag toepas nie.

Hierdeur plaas hulle alle predikante binne die teenstrydigheid dat hulle binne die wet van beide die huwelik en burgerlike verbintenisse vir SVG toestaan, net burgerlike verbintenisse mag inseën maar die huwelik moet weerhou as teen die wil van God. Dit plaas leraars in konflik met die wet waarvoor die NG Kerk goedkeuring vir toepassing gekry het.

Die AS se besluit is binne die presbiteriale kerkverband sowel as binne die gemenereg onuitvoerbaar. Die besluit van die AS is non possibullium est.

4. Die NG Kerk kan nie ʼn onuitvoerbare besluit geldig maak nie.

Die onuitvoerbaarheid van ʼn besluit is ʼn totale verweer. Dit beteken dat geen lidmaat, predikant, kerkraadslid, gemeente, ring of sinode aan hierdie besluit verbind is of kan word nie. Die besluit van die AS is van die oomblik wat dit geneem is ongeldig en vir hierdie onuitvoerbare besluit kan daar geen rede aangevoer word wat die besluit van die AS geldig kan maak of geldigheid kan gee nie.

Dit is soos wanneer ʼn ingenieursfirma sou besluit dat sy ingenieurs nie swaartekrag mag verreken in hulle ontwerpe nie of wanneer die kerk sou besluit dat dit predikante se plig is om wonderwerke te doen soos wat Jesus wonderwerke gedoen het. Só ʼn besluit is van die oomblik wat dit geneem is ongeldig en sonder enige regskrag. Net die feit van onuitvoerbaarheid is ʼn totale verweer wat beteken geen ander rede nie as net uitvoerbaarheid maak die besluit nietig.

Daarom kan die volgende redes ook nie aangevoer word dat instellings, amptenare, kerkraadslede of lidmate van die NG Kerk verbind is om die Algemene Sinode se besluit te moet aanvaar nie. Die onuitvoerbaarheid maak dit ʼn nietige besluit in sig self.

4.1 Geen meerdere gesag kan die AS besluit geldigheid gee nie.

Vir ʼn onuitvoerbare besluit kan die feit dat ʼn vergadering met meerdere gesag as ander vergaderings of persone die besluit geneem het, nie geldigheid aan die besluit gee nie. Onuitvoerbaarheid is ʼn totale verweer, ook teen meerdere gesag.

4.2 Geen griewe- of appèlprosedures kan die AS besluit geldigheid gee nie.

Daarom kan ʼn onuitvoerbare besluit ook nie geldig wees tot en met die griewe of appélprosedures van ʼn instelling gevolg is nie. Onuitvoerbaarheid is ʼn totale verweer ook teen bestaande griewe of appèlprosedures. Sonder enige griewe of appèlprosedures is so ʼn besluit in sig self ongeldig.

4.3 Geen morele beginsels kan die AS besluit geldigheid gee nie.

Die Kerk kan nie vir ʼn onuitvoerbare besluit morele redes aanvoer om dit geldig te maak nie. Morele waardes soos verdraagsaamheid, liefde, vreedsaamheid, inskiklikheid, die aanvaarding van verskille en diversiteit, om ruimte vir mekaar te maak en ʼn openheid teenoor mekaar te hê, kan nie ʼn onuitvoerbare besluit uitvoerbaar maak of geldigheid aan ʼn onuitvoerbare besluit gee nie.

4.4 Geen geloofsoortuiging kan die AS besluit geldigheid gee nie.

Die Kerk kan ook nie geloof in en eerbied vir God, of die persoon en natuur van God, aanvoer vir die geldigheid van ʼn onuitvoerbare besluit wat ʼn kerklike vergadering geneem het nie. God se liefde, sy wondermag en almag kan nie dien as die geldigheid vir ʼn onuitvoerbare besluit van ʼn vergadering nie. Ook nie Jesus se diversiteit, insluitende genade en openheid vir die wêreld kan redes wees om ʼn onuitvoerbare kerklike besluit geldig te maak nie. Dit is eerder die misbruik van God se Naam as redes om jou aan ʼn onuitvoerbare kerklike besluit te onderwerp.

4.5 Geen onbevoegdheid kan die AS besluit geldigheid gee nie.

Onbevoegdheid om jou mandaat as vergadering uit te voer, kan ook nie ʼn onuitvoerbare besluit van ʼn vergadering geldig laat wees nie. Om as AS te besluit dat jy nie jou mandaat as beleidmakende sinode kan uitvoer om volgens die Woord van God te kan besluit nie, jou vasgelopenheid in jou mandaat te verklaar, en hierdie onbevoegdheid dan aan te voer as rede vir die geldigheid van ʼn besluit wat jy neem, is onbehoorlik. Net so kan die onvermoë om weens die ingewikkeldheid en verskille binne teologie om besluite volgens God se Woord te neem nie, allermins geldigheid gee aan ʼn onuitvoerbare besluit van ʼn vergadering.

4.6 Geen gewoontereg kan die AS besluit geldigheid gee nie.

Die feit dat baie ander instellings onuitvoerbare besluite geneem het en voorgee dat dit geldig sou wees, of dat dit al ʼn gebruik is dat ander vergaderinge onuitvoerbare besluite as geldige besluite neem, soos die kerk met ekumeniese besluite aanvoer, maak nie ʼn onuitvoerbare besluit geldig nie.

4.7 Die eie aard van die kerk en sy selfstandigheid teenoor die owerheid kan nie die AS besluit geldigheid gee nie.

Die feit dat die kerk sy eie aard as gemeenskapsinstelling het en in sy aard en bediening teenoor die gemeenskap selfstandig is, maak nie dat die kerk onuitvoerbare besluite as geldig kan verklaar nie. Die Bybel en die kerk se belydenisskrifte gee die kerk nie ʼn geestelike karakter wat onuitvoerbare besluite binne die gemeenskapskarakter van die kerk geldig maak nie.

4.8 Geen Skrifgesag kan aangevoer word om die AS se besluit geldigheid te gee nie.

Die enigste Skrifgronde wat nou vir hierdie onuitvoerbare besluit voorgehou word, is Romeine 14: die onderskeid tussen middelmatige en koninkryksake. (Rom. 14:17) Die middelmatige sake in Rom. 14 gaan oor die seremonies van kos, drank en feesdae in die OT. Toegepas sluit dit sake in soos kossoorte, dranksoorte, musieksoorte, kleredrag, grimering en dans. Die vaste beginsel in Rom. 14 is dat solank as wat lidmate vashou aan die geloof in die evangelie en aan die gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie, daar geen spesifieke Christelike reël oor hierdie sake is nie. Lidmate is in middelmatige sake vry om dit binne hul gebondenheid aan die wet en evangelie na goeddunke te gebruik of nie te gebruik nie. Koninkryksake is egter nooit middelmatige sake nie. Hierin is elkeen gebind. Die huwelik en seksualiteit was in die kerklike geskiedenis tot en met hierdie besluit van die AS nog nooit middelmatige sake nie. Dit is koninkryksake volgens Rom. 14:7. Om van die huwelik en geslagtelikheid ʼn middelmatige saak te maak met ʼn nuwe mensgemaakte instelling van ʼn burgerlike verbintenis wat ook Christelik is, en beide na goeddunke reg is, is ontering van God en minagting van God se koninkryk sake. Dit is die sonde om menslike wette op te maak waarmee God se wet geminag word. (Mat. 15:9)

Die Woord van God kan nie gebruik word om onuitvoerbare besluite van kerklike vergaderinge te regverdig nie.

Daarom versoek die Ring van Louis Trichardt dat die Noordelike Sinode die onuitvoerbaarheid van die AS se besluit erken.

Die Ring van Louis Trichardt.

23.07.2022

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui