Nico van Gijsen: Dink mooi voor jy saambly

*******

Nico van Gijsen: Dink mooi voor jy saambly | Rapport

Nico van Gijsen

Rapport, Sondag 19 Maart 2023

Ek kyk vandag na saambly-verhoudings. Meer spesifiek die finansiële risiko’s wat saam met nuwe liefde kan intrek.

In die ou dae het die kerk – sommiges vandag nog – mense se sekslewens “beheer”. Trou eers, dan mag jy . . .

Diegene wat “oor die tou getrap” het, is onder sensuur geplaas. En hulle moes voor die hele gemeente die vernedering van ’n “belydenis” ervaar as kleinding luidkeels kom aankondig het dat sy ouers vroeër bedrywig was as wat die kerk bepaal.

Ek wonder altyd hoeveel van die tannies, so vroom-sittend in die kerkbanke, se harte het tydens so ’n “belydenis” in die keel geklop. En stil ’n “dankie tog” gesug.

Trou het sy goeie punte. Dit skep ’n wedersydse plig op onderhoud. En daar is regspraak wat dit uitlê en bevestig.

Tye het verander. Nie almal is lus vir hierdie trou-besigheid nie. Mense het hulself losgemaak van die juk van die kerk en trek nou by mekaar in sonder om te trou.

Ons regstelsel het daarby aangepas.

Ons sien byvoorbeeld dat ’n testamentêre bemaking aan ’n langslewende lewensmaat (in ’n verhouding wat bedoel was om permanent te wees) aftrekbaar is vir boedelbelasting kragtens art. 4q van die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955), dieselfde as met ’n gade in ’n formele huwelik.

Daar is vir saamblyers nie ’n egskeidingswet nie, maar daar is sekerlik ’n reg om ’n eis vir onderhoud in te stel. Ek los dié een maar vir die prokureurs en advokate. Hulle wat so lief is om oor alles te wil argumenteer, dat ek soms wonder, het hulle dan niks op universiteit geleer nie.

Ek hou my maar by doodgaan. Dit is makliker om te verstaan as waarom mense skei.

Dit is onmoontlik om met ’n teenargument te kom as Charon jou reeds anderkant die Styx afgelaai het. En dit is waar my probleem lê en waar die risiko vir saamblyers lê.

Ons kyk na twee hofuitsprake (lees ook my rubriek van verlede week, “Maak seker met jou testament”).

In Volks vs. Robinson (2005) het die hof beslis ’n oorlewende lewensmaat in ’n permanente teenoorgestelde-geslag-verhouding kan nie ’n eis instel teen die boedel van die oorlede lewensmaat ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) nie. Die argument was, jy het gekies om nie te trou nie, jy kan nie later die voordele van ’n huwelik kom opeis nie.

Maar toe kom Bwanya vs. die Meester (2022) en verwerp hierdie argument. Die uitgangspunt was permanente lewensmaats verdien beskerming.

Die hof gaan toe verder en bepaal dat die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades voortaan moet lees asof die definisie van ’n “gade” sal insluit ’n persoon in ’n permanente lewensvennootskap waarin die vennote ’n wedersydse plig op onderhoud aangegaan het.

Maar wat is ‘lewenslank verbind’?

Polities korrek. Regverdig teenoor mense wat werklik besluit het op ’n lewenslange verbintenis en wedersydse onderhoud.

Maar nêrens sien ek ’n definisie vir “lewenslange verbintenis” nie.

Is ’n maand lank genoeg? Indien nie, waarom is dit nie? Is dit ses maande? ’n Jaar?

Gaan daar elke keer ’n hofaansoek ingedien moet word om te bepaal of die verhouding met die oorledene bedoel was om lewenslank te wees, of daar ’n wedersydse ooreenkoms vir sorg en onderhoud was?

Soos ek hierbo noem, jy is teen daardie tyd nie meer hier om te kom verduidelik dat hierdie verhouding tydelik was, dat julle geen wedersydse ooreenkoms vir onderhoud had nie.

Kom ons kyk kortliks na die agtergrond juis in die Bwanya-saak.

Me. Bwanya het vir ’n taxi staan en wag om goedere na haar familie in Zimbabwe te stuur.

Die oorledene het haar ’n geleentheid gebied en toe sommer later die aand vir haar na ’n restaurant geneem.

Die twee het toe ’n verhouding begin. Soms het sy by hom oorgeslaap by sy huis in Kampsbaai en ander kere in die werkerskwartiere by die huis waar sy as huiswerkster gewerk het.

Sy het later getuig dat die oorledene haar gevra het om te trou en sy had genoeg getuies om die hof te oortuig dat die bedoeling van hierdie verhouding was om permanent te wees en dat daar ’n plig op onderhoud was.

Die punt van hierdie rubriek

Jong mense trek by mekaar in en trek uit. Hulle het nie veel bates op risiko nie.

Met ouer mense is dinge anders. Sommiges vind nuwe liefde, dit is anders. Maar sommiges trek by mekaar in om die eensaamheid te verdryf.

En dis waar die groot risiko lê. Ingevolge die Bwanya-uitspraak kan jy ’n groot deel van jou boedel moet afstaan aan die persoon wat by jou ingetrek het.

Of jy ’n testament het wat jou goed aan jou kinders bemaak, of nie. Of jy sonder testament gesterf het, of nie.

Eersgenoemde – as jy ’n testament het – is makliker, want die eis is beperk tot “redelike onderhoud”. Onthou net die eis het dieselfde regskrag as die eis van ’n minderjarige kind.

Die tweede – as jy sonder testament sterf – kan ’n yslike probleem wees. Die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) gee aan die langslewende gade (nou ook “lewensmaat”) ’n gelyke deel as vir kinders.

Neem die risiko in ag voordat jy gaan saamwoon.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan nico@finlac.com.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui