Israel: Hulpkreet op sinode se lys

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Israel: Hulpkreet op sinode se lys | Netwerk24

Magdel Louw

Rapport, 15 Oktober 2023

“ ’n Uitroep om hulp van die Christen-gemeenskap in Palestina” is op die agenda van die NG Kerk se algemene sinode wat vandag met sy sitting in Boksburg begin.

Die Wes-Kaaplandse sinode het in Mei vanjaar besluit om dié gesprekspunt na die algemene sinode te verwys, sê ds. Heerden van Niekerk, voorsitter van dié sinode se taakspan vir leer en aktuele sake.

Die taakspan is gevra om “ ’n teologiese studie oor die teologiese regverdiging van Sionisme” te doen en vandeesweek voorstelle in dié verband aan die algemene sinode te bied.

“Die sinode van Wes-Kaapland betreur die voortgaande geweld en onreg wat tussen Israel en Palestina plaasvind en verklaar dat die situasie dringend om aksie en standpunt-inname roep,” lui die besluit.

Die sinode neem “met besorgdheid kennis van die uitroep om hulp van die Christen-gemeenskap in Palestina”.

Hulle neem ook kennis van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se besluit hieroor.

Dié gemeenskap se algemene vergadering het in 2017 besluit die integriteit van die Christen-geloof is op die spel as die Bybel gebruik word om die onderdrukking van die Palestyne te regverdig. Enkele dae voordat Hamas Israel verlede Saterdag binnegeval het, het die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika Israel tot “apartheidstaat” verklaar.

“Ons is nie teen die Joodse mense nie, maar teen die beleide van Israel se regering, wat ál meer ekstreem word,” skryf die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, in sy blog.

“Ons harte pyn vir ons Christen-broers en -susters in Palestina. Mense van alle gelowe in Suid-Afrika het ’n diep begrip van wat dit is om onder onderdrukking gebuk te gaan.

“Wanneer swart Suid-Afrikaners wat onder apartheid gely het Israel besoek, is die ooreenkomste met apartheid onmoontlik om te ignoreer. As ons hieroor stilbly, is ons aandadig aan die onderdrukking van die Palestyne.”

In reaksie op Rapport se navraag oor die verwikkelinge die afgelope week het Makgoba gesê: “Ek veroordeel alle geweld, of dit nou die gruwelike aanvalle op Israeli’s is wat aan die Europese pogroms van die verlede herinner, of die onoordeelkundige bombardering van Palestynse burgers. Albei is oortredings van die internasionale humanitêre reg.”

Kommentaar

Daniel Louw

Let op die definisie van sionisme:

Sionisme is ‘n nasionalistiese beweging wat in die 19de eeu ontstaan het om steun te bepleit vir die vestiging van ‘n tuisland vir die Joodse volk in Palestina, ‘n streek wat rofweg ooreenstem met die Land van Israel in die Joodse tradisie.

Die vraag is: wat het sionisme enigsins te doen met die hele kwessie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui