NG Kerk sê ja vir seksleerplan

Kyk ook:

Volgens berigte (hieronder) steun die NG Kerk die nuwe seksleerplan (Comprehensive Sexuality Education (CSE)) vir skole en is die huidige bohaai daaroor onnodig.

Dit is nie so erg soos dit klink nie, maar die NG Kerk is nie vrygeskeld nie.

Dit is nie die NG Kerk wat die nuwe omvattende seksvoorligting (OSV) leerplan ondersteun nie, maar Badisa:

  • Badisa het begin as ’n welsynsorganisasie vir die NG Kerk in die Weskaap en die VGK (Verenigde Gereformeerde Kerk). Intussen het Badisa uitgebrei en lewer dienste aan onder andere die plaaslike en provinsiale regering.
  • Nioma Venter, die ondervoorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinode, is tans op die bestuursraad van Badisa.

Dus is die NG Kerk heelwat betrokke by Badisa.

Wat weet ons van hierdie nuwe omvattende seksvoorligting leerplan:

FORSA (Freedom of religion South Africa) is baie uitgesproke oor die gevare hiervan. Hier volg nog artikels:

OSV in Suid-Afrika is waarskynlik nie so omvattend soos in ander lande nie, maar om ’n idee te gee wat in ander lande gebeur, kyk die volgende:

The War on Children: The Comprehensive Sexuality Education Agenda

Kyk ook die webblad Stop CSE.

Hier volg die artikels wat beweer dat die NG Kerk die nuwe seksleerplan ondersteun.

***********

NG groep: Bohaai oor seksonderrigplan onnodig | Netwerk24

Deur Johan Eybers

09 Februarie 2020 02:12

Badisa, ’n geloofsgegronde welsynsorganisasie van die NG Kerk, glo die herrie oor die departement van basiese onderwys se plan vir seksvoorligting op skool is ’n bohaai oor niks.

Badisa het bevind die departement se seksvoorligting-kurrikulum (CSE) is “wetenskaplik akkuraat” en die materiaal “is in die meeste gevalle ouderdomsgepas”. Die kurrikulum vorm deel van die vak lewensoriëntering en sal na verwagting van gr. 4 tot gr. 12 geïmplementeer word.

Badisa sê in sy verslag dat drie van sy kinderbeskermingspesialiste die hele CSE-kurrikulum bestudeer het en bevind het dat dit kinders die nodige inligting gee om hulself toe te rus om goeie besluite te neem en die gevolge van hul besluite te verstaan.

Badisa wys daarop dat die doel van lewensoriëntering is om te keer dat leerlinge misleidende inligting kry oor seks, seksualiteit en verhoudings.

“Ons span het bevind dat die kurrikulum wetenskaplik akkuraat is en kinders leer om die korrekte terminologie te gebruik. Dit is uiters belangrik, want seksuele misbruik gaan gereeld ongesiens verby omdat kinders nie weet hoe om te praat oor wat met hulle gebeur het nie.

“In die meeste gevalle is die materiaal ouderdomsgepas en dit hanteer kritieke scenario’s waarin kinders die geleentheid het om te oefen om positiewe keuses te maak en begrip te ontwikkel vir die gevolge van hul keuses,” lui die verslag.

Badisa meld verder dat baie kinders blootgestel word aan ongepaste materiaal, omdat hul toegang tot slimfone, die internet en TV nie gemonitor word nie.

Badisa raai ouers aan om die CSE-kurrikulum self te lees wat op die departement van basiese onderwys se webwerf beskikbaar is “en tot hul eie gevolgtrekkings te kom”.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê onderwysers stem glad nie saam met Badisa se interpretasie van die kurrikulum nie.

“Al wat ek vir Badisa wil sê, is skoenmaker, hou jou by jou lees. Die kerk moet hom hou by die Bybel soos wat ons ons hou by onderwys.

“Ons probleem is met die leermateriaal wat die departement op ons lede wil afdruk. Onderwysers, waarvan baie lidmate is van die NG Kerk, vind die materiaal kru, eksplisiet en grof onsensitief. 95% van skoolhoofde met wie ons gepraat het, sê hulle is nie gemaklik met die inhoud van die lesse nie en dat dit nie ouderdomsgepas is nie.”

Daniela Ellerbeck van Freedom of Religion SA (For SA) sê hulle verskil ook van Badisa.

“Ons beskou die kurrikulum as sagte pornografie en dat dit nie ouderdomsgepas is nie. Die feit is dat die departement van basiese onderwys se kurrikulum in ooreenstemming gebring is met die internasionale standaarde van Unesco, wat kinders op ’n vroeë ouderdom seksualiseer, aborsie bevorder en gesins- en etiese waardes ondermyn.”

********

Seksualiteitsopvoeding: Departement beveg ‘fopnuus’ oor plan | Kerkbode

4 Februarie 2020

Aneleh Fourie-Le Roux

“Seksopvoeding” het te doen met die fisieke aspekte van hoe om seks te hê en word nie in Suid-Afrikaanse skole aangebied nie. “Seksualiteitsopvoeding”, daarenteen, fokus op verhoudings, ontwikkeling en ouderdomsgepaste inligting en is wel deel van die leerplan.

Die bogenoemde onderskeid is een van die kernpunte wat leiers in die Departement van Basiese Onderwys vanjaar met hernieude ywer probeer duidelik maak sedert hulle in die spervuur beland het oor omvattende seksualiteitsonderrig in skole, of soos amptelik na verwys word: Comprehensive Sexuality Education (CSE).

Die department het in Januarie ’n reeks “konsultasies” gereël om, in hulle eie beskrywing, misleidende inligting, “fopnuus” en wanopvattings op te klaar. Op 23 Januarie was dit geestelike en tradisionele leiers se beurt om in Pretoria aan die gesprek deel te neem. Dr Granville Whittle, die adjunk-direkteurgeneraal: versorging en ondersteuningsdienste van die Departement van Basiese Onderwys, het geestelike leiers uitgedaag: “You cannot object to CSE if you did not read the curriculum. So read it and let’s have an informed discussion. This does not have to be the end of the conversation.”

Ds Nioma Venter, PSD Diaconia en ondervoorsitter van die Algemene Sinode, meen die kerk word uitgedaag om in die lig van Suid-Afrikaanse realiteite rondom seksuele geweld, MIV-syfers en tienerswangerskappe toenemend by waardevorming betrokke te raak en in die besonder jong kinders hierin te begelei. “As waarnemer (by die konsultasie) was dit vir my duidelik dat die aanvanklike reaksie baie emosioneel was, met geen of baie min insae in die inhoud van die kurrikulum, hoe dit aangebied word en ’n klomp mites of mistastings oor sekere temas van CSE,” aldus Venter.

CSE was reeds sedert 2000 ingesluit in die vakke Lewensorïentering en Lewensvaardighede van die CAPS-kurrikulum. Wat intussen verander het, is dat die Departement in 2015 uitgewerkte lesplanne ontwikkel het om opvoeders en leerders te help om hierdie belangrike onderwerpe op ’n sistematiese manier te dek.

Badisa is ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaap) en die VGKSA (Kaapland) wat fokus op maatskaplike nood. In hulle kapasiteit as geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie wat verbind is tot die beste belang van die kind, het drie van hulle kinderbeskermingspesialiste gevra om die hele CSE-kurrikulum te bestudeer en daaroor terugvoer te gee. Hierdie terugvoer sluit in:

  • Die kurrikulum is wetenskaplik akkuraat en leer kinders om korrekte terminologie te gebruik. Dit is van kritieke belang aangesien seksuele misbruik so gereeld ongesiens verbygaan en kinders nie weet hoe om te praat oor wat met hulle gebeur nie.
  • In die meeste gevalle is die materiaal ouderdomsgepas en dit spreek kritieke scenario’s aan waarin kinders die geleentheid het om te oefen om positiewe keuses te maak en begrip te ontwikkel vir die gevolge van hulle keuses.

Me Buyiswa Mpini, Nasionale Programbeampte van UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization), het in haar voorlegging klem gelê op die doelwit van CSE as synde om:

  • Seksuele misbruik te kan identifiseer en aanmeld.
  • Nie met MIV geïnfekteer word nie, en indien reeds MIV-positief is, op behandeling sal bly.
  • Swangerskap te kan voorkom.
  • Die afknouery van boelies en negatiewe portuurdruk te kan hanteer.
  • Te weet waar om hulp te vind in die geval van verkragting, TB, antiretrovirale medikasie, voorbehoeding en alkohol- en dwelmmisbruik.
  • Graad 12 te voltooi.

WAT IS CSE?

Volgens die Departement van Basiese Onderwys is dit ’n kurrikulum-gebaseerde proses van onderrig en die aanleer van die kognitiewe, emosionele, fisiese en sosiale aspekte van seksualiteit.

Dit poog om kinders en die jeug te bemagtig met kennis, vaardighede, gesindhede en waardes om hulle te help sin maak en veilig deur die oorgang van kinderjare na volwassenheid te beweeg sodat hulle:

  • hulle eie gesondheid, welstand en waardigheid kan laat realiseer;
  • respekvolle sosiale en seksuele verhoudings ontwikkel;
  • nadink oor hoe hulle keuses, hulle eie welstand en dié van ander, beïnvloed; en,
  • te laat verstaan en te verseker dat hulle regte regdeur hulle lewe, beskerm word.

BRON: Departement van Basiese Onderwysinligtingstuk.

3 thoughts on “NG Kerk sê ja vir seksleerplan”

  1. Is daar nie fotos beskikbaar oor wat in die lesmateriaal voorkom nie. Wat ek gesien het lyk nie goed nie en is is inteendeel sorgwekkend!

  2. BAIE dankie vir hierdie volledige plasing Daniel. Hierdie is geweldig belangrik want kinders is geweldig beinvloedbaar. Jesus spreek Hom ook sterk uit teen enigeen wat “een van hierdie kleintjies” tot struikeling bring – dat so ’n persoon liewer ’n meulsteen om sy/haar nek moet sit in die water spring. Waar is Badisa se ondersteuning van die Bybelse manier van kinders opvoeding (indien hulle dan sulke sterk wortels met die NGK en VGK het) ten opsigte van die seksuele, soos reinheid en wag vir die huwelik, en ons liggame is ’n tempel van die Heilige Gees? Ja Jan ek stem saam, plaas asb van die foto’s wat baie grafies is. Daar is van die lesmateriaal wat ook eksplisiete beskrywings het. Dit tas die heiligheid van die Christelike huwelik aan. UNESCO het allerhande mooi doelwitte vir Suidelike Afrika, wat Badisa uitspreek. Die doel heilig NIE die middelle (metodes) nie!!! Indien die Bybelse opvoedingsmetodes gevolg was sou hierdie nie nodig gewees het nie. Laat Christelike skole met ’n Christelike etos hul eie keuse maak ten opsigte van hierdie saak. Per slot van rekening is onderwysers “in loco parentis” (in die plek van die ouer) vir die ure wat kinders in hulle sorg is.

  3. Gaan op #LeaveOurKidsAlone op FB alles is daar. Dit is ongelooflik dat die NG Kerk daarmee saamstem

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui