NG gemeente Constantiakruin se (flou) standpunt oor SGVs

Kyk ook:

Hieronder volg NG Gemeente Constantiakruin se standpunt oor selfdegeslagverhoudings (SGV).

Ek het dit gelees, maar dit het my geïrriteer. Dit is vol van die gewone ou clichés wat liberales tipies gebruik: “biddende afhanklikheid”, “gehoorsaamheid aan Jesus”, “Sy Woord regtig ernstig opneem”, “Jesus Christus sentraal staan”, “eenheid … ’n opdrag”, “hartseer en jammer … mense … seergekry … te nagekom … nie gehoor is nie”, “vra opreg verskoning en vergifnis.” Dit is alles mooi woorde, maar dan draai hulle om en doen net wat hulle wil.

Die kwessie is: is homoseksualiteit sonde of nie? Constantiakruin se “standpunt” raak nie eers daaraan nie. Dit is vol holklinkende woorde en dan word die veilige weg gekies: hulle besluit dat leraars nie selfdegeslagverhoudings sal bevestig nie.

Die 2019-besluit oor SGV sê onder andere: “10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.”

Wat is Constantiakruin se opinie daaroor dat die kerk waaraan hulle behoort, homoseksuele huwelike gaan bevestig?

Dit is ’n flou standpunt vanuit geen oortuiging nie. Nêrens word gesê wat die Bybel oor die saak sê nie, seker omdat almal “verskillend oor Skrifgesag dink” en ons wil darem nie op tone trap nie.

Terwyl heelwat NG gemeentes tans doleer en/of sterk standpunt ingeneem het, het Constantiakruin besluit om soveel as moontlik mense tevrede te hou.

Ek kan nie help om te dink aan Openbaring 3:15-16: (15)Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! (16)Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

Hier volg die “standpunt”. Ek lewer verder kommentaar in blokhakies.

************

Standpunt van Constantiakruin gemeente insake selfdegeslagverhoudings

H/v Liebenberg Straat en Yolande Rylaan
Posbus 5008, Weltevredenpark 1715
info@constantiakruin.co.za

Die nadenke oor selfdegeslagverhoudings het die afgelope paar jaar verdeeldheid gebring, wantroue geskep, talle gesprekke veroorsaak, mense ontstel en ook mense seergemaak. Soveel so, dat lidmate dit selfs oorweeg het om die gemeente en die NG Kerk te verlaat. Die grootste rede hiervoor is dat mense verskillend oor Skrifgesag en Skrifhantering dink, en dit bring mense in twee groepe teenoor mekaar.

Die Gemeenteraad wil na verskeie gesprekke, twee spesiale Goudland Sinodesittings en die inwin van Constantiakruin Gemeente se mening hieroor, graag die volgende standpunt deel. Die Gemeenteraad doen dit in biddende afhanklikheid en gehoorsaamheid aan Jesus, die Here van sy kerk.

[Kommentaar: “Gehoorsaamheid”. Wat beteken dit prakties in die konteks van selfdegeslagverhoudings? Dit word nooit gesê nie.]

  1. Dat ons, op grond van ons onwrikbare geloof in die Drie-Enige God, Sy Woord regtig ernstig opneem, dat Jesus Christus sentraal staan in ons totale lewe en bedoeling en daarom nooi die Heilige Gees alle mense ongeag van hul seksuele oriëntasie, ras of sosiale status uit om deel van die Koninkryk van God te word.

[Kommentaar: “Sy Woord ernstig opneem”. Wat beteken dit prakties in die konteks van selfdegeslagverhoudings? Dit word nooit gesê nie. Saam met ras erken hulle mense se verskillende seksuele oriëntasies. Aan jou ras kan jy niks verander nie. Glo Constantiakruin dus ook dat jy niks aan jou seksuele oriëntasie kan doen nie? Ten spyte daarvan dat alle aanduidings daarop dui dat jy nie so gebore word nie en ten spyte van soveel getuienisse van mense wat daaruit gekom het?]

  1. Dat ons die huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou volgens die Skrif bely.

[Kommentaar: Hierdie stelling sê niks oor die sondige aard van homoseksualteit nie.]

  1. Dat ons die eenheid binne die gemeente as ’n opdrag en ’n gawe van God beskou en alhoewel ons van mekaar mag verskil tov selfdegeslagverhoudings, ons nog steeds mekaar se familie in Christus in en so in liefde, saam met mekaar soek na God se wil in hierdie saak.

[Kommentaar: Eenheid is in ’n sekere konteks wel ’n Bybelse opdrag, maar dit word heeltemal oordryf. Daar kan nooit eenheid wees as ’n sekere groep lidmate homoseksualiteit wil ontsondig nie.]

  1. Dat ons Constantiakruin Gemeente se mening oor selfdegeslagverhoudings honoreer, wat beteken dat die leraars nie selfdegeslagverhoudings sal bevestig nie.

[Kommentaar: Hoekom? Om pandemonium in die gemeente te verhoed, of omdat die Bybel so sê?]

  1. Dat ons hartseer en jammer is dat mense, aan alle kante van die selfdegeslagverhoudings nadenke, seergekry het, te nagekom is of selfs nie gehoor is nie. Daarvoor vra ons opreg verskoning en vergifnis.

[Kommentaar: Ek wil amper sê: spaar my dit! Dit klink soos diegene wat nie kan ophou jammer sê oor apartheid nie. Kyk hier en hier en hier.]

Constantiakruin Gemeente gaan voort om haar visie van gestuurdes na verwondes, uit te leef en ons bid dat die Here vir ons wysheid, leiding en liefde sal gee, sodat die Drie-Enige God in alles, verheerlik sal word.

[Kommentaar: “Leiding”. Waar dink julle om dit te kry? Sou dit nie lekker wees om Jesus hier op aarde te gehad het om vir ons antwoorde te gee nie? Ek is egter nie so seker of Hy wel antwoorde sou gee nie. Oor homoseksualiteit sou Hy waarskynlik gesê het: “Wat staan in die Skrif geskryf?” (Soos byvoorbeeld Lukas 10:25-26)]

Constantiakruin Gemeenteraad

28 Januarie 2020

2 thoughts on “NG gemeente Constantiakruin se (flou) standpunt oor SGVs”

  1. Twee sake. Eerstens kan jy maar probeer soos jy wil maar nie jy of enige ander persoon sal my in die hemel kry nie. Dis ‘n saak oor God se groot genade (saved by grace only) soos in die Bybel (the bible only) deur die werking van die Heilige Gees en geen mens nie. Tweedens moet mense asseblief die Bybel lees en die hele Bybel glo. Ons kan nié van God ‘n afgod maak nie, Hy sal nie daarvoor val nie en wie dit probeer is ‘n afgode dienaar en net soos homoseksuele, moordenaars, diewe en egbrekers sal hulle nié die Koningkryk van God binnegaan tensy hulle hulself bekeer en wegdraai van die sonde af TERWYL hulle nog hier op aarde asemhaal nie. Is hierdie bloot ‘n poging van leraars om te kan oorleef tot aftee ouderdom?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui