NG gemeente Uitsig in Bloemfontein is progay

Kyk ook:

NG gemeente Uitsig in Bloemfontein het, soos Skuilkrans in Pretoria, gewys dat hulle die gayleefstyl wil versoen met die Bybel (alhoewel dit nie moontlik is nie).

In Rigters 6 lees ons dat die Midianiete vir Israel ingeneem het en die lewe vir die Israeliete baie moeilik gemaak het. Hier volg ’n paar verse wat vertel wat daarna gebeur het:

(5)Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. (6)Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp…… (25)Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat ’n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af. (26)Bou dan ’n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.” (27)Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen. (28)Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul ’n brandoffer op die altaar wat gebou is. (29)Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!” (30)Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.” (31)Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy ’n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.”

As ’n mens hierdie gedeelte lees, dan dink jy: Hoe het die Israeliete nou gedink? Hulle het God gevra vir hulp teen die Midianiete (v6), maar steeds vasgehou aan hulle afgodsbeelde. Hulle het tog seer sekerlik geweet dat daardie afgodsbeelde afskuwelik in God se oë was (kyk byvoorbeeld Deuteronomium 7:25-26 en 12:31).

Dit is presies wat Uitsiggemeente nou doen. Hulle weet dat homoseksualiteit ’n afskuwelike sonde voor God is, maar tog gaan hulle voort asof daar niks mee fout is nie. En net soos die Israeliete Gideon se kop geeïs het, konfronteer Uitsiggemeente ander Christene wat hulle daarop wil wys dat hulle op ’n verkeerde pad is.

Die vraag is: Waar is die ringsgemeentes? Wat doen hulle om Uitsiggemeente te wys op hierdie gruwelike ding wat hulle doen?

Waar is die Vrystaatse sinode?

En waar is die Algemene sinode?

Ons ken mos eintlik die vraag op hierdie antwoorde. Die leiers dwaal óf self óf het nie die moed om te staan vir God se saak nie.

Die NG Kerk moenie God se seën verwag nie…

Hier volg twee artikels hieroor met kommentaar in [rooibruin blokhakies].

********

Christen en gay… In die NG Kerk

25 April 2018 | Mias van Jaarsveld

In Bloemfontein het ds Mias van Jaarsveld afgekom op ’n veilige hawe waar mense Christen en gay kan wees. Hy vertel hoe hy dit beleef het.

Kort nadat ek Bloemfontein toe getrek het, het een van my vriende my uitgenooi na ’n selgroep waarheen hy gaan.

“Jy moet saamkom. Jy sal dit geniet.”

alt

Woensdagaand verdwaal ek tot by die NG Gemeente in Uitsig, ’n woonbuurt aan die ander kant van die stad. In die kerksaal is daar ’n klomp rusbanke in ’n kring gepak. Ek herken ds Hein Kotzé van die vorige jaar se sinode. Op die banke sit ongeveer 20 mense, elkeen met ’n koppie koffie in die hand, meeste met ’n Bybel op hul skoot. Die atmosfeer was nie swaar nie, maar ek kon sien dat almal mekaar nog nie ken nie.

Ons open met gebed, en toe begin Hein uit die Bybel lees en gesels oor hoe ons na die Bybel kyk. Party sit en luister aandagtig. Party maak notas. Party vra vrae en party gee antwoorde. Party het meer gepraat as ander. Party het doodstil gebly. Dis maar soos by enige ander Bybelstudie.

Ná die Bybelstudie, word die vloer oopgemaak vir gesprek.

“Ek is kwaad vir die kerk.”

“Dit is my kind – niemand het die reg om haar te veroordeel nie.”

“Ek haat dit om gebrandmerk te word.”

“Ek verstaan nie hoe mense so kortsigtig kan wees nie.”

“My oom dink dis aansteeklik.”

“Ek is lief vir die Here, maar julle kerk sê Hy is nie lief vir my nie.”

[Ware liefde word gewys deur gehoorsaamheid…]

Die mense in hierdie selgroep wissel tussen gay paartjies en gay enkellopendes, gays wat kerklos is en gays wat toegewyde Christene is, ouers van kinders wat gay is en mense wat hul kennis oor die onderwerp wil verbreed. Daar word nie propaganda gepreek, geheime vergaderings gehou, planne beraam om die gaydebat in hul guns te swaai, of namens die kerk gepraat nie. Dit is bloot net ’n veilige ruimte waar gays saam Bybelstudie kan doen, sonder die vrees van verwerping, verguising of vooroordeel.

“Ons is nie ’n gay gemeente nie; ons is ’n vriendelike gemeente met oop arms en ’n oop hart – enigeen is hier welkom,” se Hein.

Na die eerste geleentheid is ek genooi vir ete saam met ’n paar van die manne – iets wat later ’n ritueel sou word. Ek sit saam met hulle om die tafel en gesels oor wie waar vandaan kom, en wat elkeen doen. Voor ete het ons gebid. “Dankie liewe Jesus vir die kos, en dat U vir ons so goed en lief is … ” Aan tafel vra een van die manne: “Sien ons jou volgende week weer, dominee? Of is jy bang vir ons?”

Ek hét die volgende keer gegaan. En die keer daarna. En die keer daarna. By elke byeenkoms kon ek sien dat die groep nie net gemakliker met mekaar word nie, maar ook met hulleself. Uitsig Bloemfontein se byeenkomste op Woensdagaande het ’n ruimte geword waar gay mense hulleself kon wees, en baie mense se opinie oor die kerk het hier verander.

Hiér is ons welkom. Hiér kan ons gay én Christen wees – nie óf-óf soos baie mense dink nie. Hiér vind heling plaas, want wanneer ons omgaan met God se Woord werk die Heilige Gees mos. Hiér kan ons die vrae vra waarmee die dominees ons nie wil help nie.

Ek laat sak my kop in skaamte toe daar gepraat word oor dit wat van preekstoele – met die kanselkleed “So spreek die Here, Here” – verkondig word. Dit ontstel my toe ek hoor wat dominees (party wat ek goed ken) al vir hierdie groep gesê het. 2016 se besluit het ook ter sprake gekom, asook die argumente wat téén gays gebruik word. Hierdie mense se menswaardigheid is aangetas. Ek vra myself: “Hoekom het ek nie vroeër iets gesê nie?”

By die laaste byeenkoms het Hein gepraat oor geloofsekerheid. Geloof in Jesus Christus word die maatstaf van ons saligheid. Ons lees die bekende woorde uit Romeine: Niks kan ons skei van die liefde van Jesus nie. [Nota 1] Daarna het ons saam Nagmaal gebruik. Na die instelling van die tekens, gebruik ’n groep mense – party vir die eerste keer in jare, party vir die eerste keer in hul lewe – die tekens van Jesus se liggaam en bloed wat alle mense saambind tot een, nuwe geloofsfamilie.

[Nota 1: Die Bybel sê ook:

  • Mat 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.
  • Gal 5:24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.
  • Mat 10:37-38 Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.]
altBrand Doubell, Hein Kotzé en Corneil Oberholzer

Jesus se liggaam is vir jou gebreek.

Jesus se bloed het vir jou gevloei.

Dankbaarheid.

Verligting.

Tevredenheid.

’n Heilige oomblik waar die inklusiewe liefde van Jesus Christus tasbaar is.

“Jesus het vir my óók gesterf!”

[Jesus het inderdaad vir almal gesterf, maar daar is ’n voorwaarde – 1 Joh 1:9 Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.]

Dit is moeilik om dieselfde te kyk na die gaydebat noudat ek deel geword het van ’n groep gay gelowiges wat weekliks saam gesels oor die Here, en die mooiste verhale vertel van hoe God in hulle lewe al gewerk het. In twee maande het ek te doen gekry met van die mooiste en mees toegewyde Christene in Bloemfontein. Christene wat gay is. Gays wat in die NG Kerk wil hoort.

Na die tyd gesels ek met een van my nuwe gay vriende: “As kerk maar net só kon wees.”

“Nee, Mias, kerk kán so wees. Kerk móét so wees.”

– Ds Mias van Jaarsveld is ’n tentmakerleraar by die NG gemeente Heuwelsig in Bloemfontein.

NG kerk hou erediens, bring-en-braai vir gays

Deur Kaydene Davids I 23 Mei 2018 0 5:17

Alle gay mense, hul families en alle gelowiges wat hulle goedgesind is, word Sondag na die NG kerk Uitsig in Bloemfontein na ’n gay-erediens uitgenooi.

Dit is die eerste diens van sy soort by die kerk en sal voortaan gereeld plaasvind. ’n Bring-en-braai-geleentheid sal ook na die diens volg.

Ds. Corneil Oberholzer, self gay en ’n predikant by die kerk, sê met die diens skep hulle ’n ruimte vir gay mense en hul families.

“Hulle hoef nie meer te voel hulle word deur die kerk verwerp nie. Daar is ’n veilige hawe by die NG kerk Uitsig.”

alt

Hy sê hulle het lank oor die diens besin en het uiteindelik saam met ds. Hein Kotzé, leraar van die kerk, dr. Brand Doubell, ’n gay predikant, en gemeentelede besluit dat die tyd vir so ’n soort diens aangebreek het.

“Dit is die regte besluit op die regte tyd.”

Volgens Oberholzer wil hulle glad nie ander denominasies of gemeentes se mense afrokkel nie, maar net ’n veilige ruimte skep vir almal om saam te aanbid.

“Ons bedien, dit is waarvoor ons hier is.”

Kotzé sê met die diens wil hulle die boodskap uitstuur dat almal by Uitsig welkom is en ’n plek vir aanbidding het. Die hele gemeente voel so.

“Almal is meer as welkom om die diens Sondag om 18:00 by te woon.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui