Die groot wanbegrip oor kerkskeuring

Baie belangrike punt:

Skeurmakers is dus mense wat volhardend valse lering versprei. Skeurmakers is nie diegene wat hulle onttrek aan die valses nie.

******

Die groot wanbegrip oor kerkskeuring

Deur Pieter (PJG) Prinsloo, Kroonstad-Wes

6 Maart 2020

Daar bestaan die wanpersepsie dat Kerkskeuring plaasvind indien gemeentes of Sinodes bande met die stukture van die Algemene Sinode sou losmaak. Hierdie wanpersepsie is die gevolg van ’n swak Kerkbegrip. Die gevolg is dat mense valslik skeurmakers genoem word indien hulle bande met die Algemene Sinode wil losmaak. Dit is daarom belangrik om na te dink oor die volgende sake: Waar is die Kerk van Christus? Hoe word die Kerk van Christus geskeur?

Waar is die Kerk? Die Bybel leer ons twee belangrike dinge oor die Kerk. Eerstens leer die Bybel ons dat die Kerk nie vasgevang is in ’n mensgemaakte struktuur nie. Die Kerk van Christus is daarom eerstens onsigbaar en bestaan uit alle mense van alle tye en alle wêrelddele wat bely dat Jesus die Christus is. Hulle vorm die een Kerk van Christus en word nie deur strukture aan mekaar gebind nie. Daarom vorm ware gelowiges uit alle kerkverbande saam die een, heilige algemene Christelike Kerk.

Die Bybel leer ons egter ook dat die Kerk ’n sigbare identiteit het in die plaaslike gemeente waar die gemeenskap van die heiliges uitgeleef word. Die briewe van Paulus is byvoorbeeld gerig aan plaaslike gemeentes (in Rome, Korinthe ens) waar Kerkwees sigbaar word. Ons kan dus sê dat die onsigbare Kerk bestaan uit alle gelowiges; die Heilige Gees bring hierdie gelowiges saam in ’n plaaslike gemeente waar hulle saam die een liggaam van Christus vorm wat die gemeenskap van die heiliges uitleef. Binne die plaaslike gemeente dien hierdie gelowiges mekaar met hulle gawes en leef hulle vanuit die belydenis dat Christus hulle een liggaam gemaak het, asook dat hulle deel van die een, heilige, algemene, Christelike Kerk van alle eeue in die wêreld is.

Hoe word die Kerk dan geskeur? Die Bybel leer dat kerkskeuring plaasvind wanneer valse leer partyskappe veroorsaak in gemeentes asook in die Kerk. Dit is belangrik om dit te herhaal: Kerkskeuring is ’n gegewene die oomblik wat valse leraars partyskappe veroorsaak deur ’n valse leer te bly verkondig wat lei tot partyskappe oor hoe die evangelie verstaan moet word (Rom 16:17-18; Tit 3:10). Skeurmaking is dus nie ’n uiterlike daad waar ’n mensgemaakte struktuur opgehef word nie. Die ophef van so ’n struktuur is soms die noodsaaklike gevolg van ’n skeurmaking wat reeds deur die valse leraars veroorsaak is. Paulus beveel daarom gelowiges om hulle te onttrek van iemand wat partyskappe veroorsaak na ernstige pogings om hierdie persoon se valse lering te korrigeer (Tit 3:10). Skeurmakers is dus mense wat volhardend valse lering versprei. Skeurmakers is nie diegene wat hulle onttrek aan die valses nie.

Dit is daarom vreemd aan die Bybel om te “veg” vir ’n eenheid van Sinodale asook kerkverbandstrukture, terwyl kerkskeuring en partyskappe weens valse lering reeds ’n voldonge feit is. Sulke strukture is beslis nie die soort eenheidsband waarvoor ons Here Jesus in Joh 17 gebid het nie, asook waartoe Hy ons beveel nie.

Ware trou aan Christus en ’n erns oor die eenheid van Sy Kerk word sigbaar in die strewe om jou te beywer vir die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente, asook ’n erns om die kerklike tug te gebruik teen onder ander die sonde van skeurmaking wat die eenheid in waarheid ondermyn.

Die veg vir strukturele eenheid ten koste van eenheid in waarheid kom daarom eintlik neer daarop dat bygedra word tot die beskerming van diegene wat skeurmakers teen die waarheid is.

Vir meer diepgaande besinning oor Kerkwees lees NGB 27-32

2 thoughts on “Die groot wanbegrip oor kerkskeuring”

  1. Baie dankie vir hierdie duidelike uiteensetting van die probleem wat tans in die kerk ondervind word. Dus is kerklike tug ook ’n moontlikheid om teen skeurmakers te oorweeg? Sou dit beteken dat die moderator van die Algemene Sinode onder kerklike tug geplaas kan word as verteenwoordiger van die hele groep wat hierdie valse Evangelie verkondig? Ek hoor graag van u. Baie dankie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui