Oor die identiteit van ‘n gemeente

Kyk ook:

Anton Knoetze

22 Augustus 2026

Wanneer ons oor die identiteit van ‘n gemeente praat, dink ons dikwels aan geskiedenis, geboue of atmosfeer. Identiteit bou nie net op die verlede nie. Dit leef in die stories wat lidmate vertel. Dit is deur verhale dat mense sin maak van omstandighede, verliese, vreugdes en hul verwagtings. ʼn Gemeente word geken wanneer mense hulleself as deel van dieselfde verhaal begin beleef. Só ontstaan ʼn gevoel van verbondenheid. Gesinne aanbid saam en beleef ook saam. Hul stories word gesprekke aan etenstafels, verwysings by die werk en herinneringe wat dekades later steeds met warmte vertel word. Vandag, in ʼn wêreld van tegnologiese hulpmiddels en persoonlike algoritmes, het mense ‘n dieper behoefte om geestelike sin te beleef. Gedeelde ervarings skep ʼn gevoel van identiteit en verbondenheid. Mense wil nie net hoor nie, hulle wil deel word van dieselfde gesprek.

‘n Gemeente se primêre taak sentreer rondom twee gebooie, nl liefde vir God en jou naaste. Daarom wil gemeentelike byeenkomste nie bloot ‘n byeenkoms wees nie. – it is ‘n geleentheid waar lidmate gevorm word oor hoe om oor die opdragte te dink. Wat gebeur beïnvloed wat lidmate as normaal, wenslik of betekenisvol beskou. Wanneer mense hul oortuigings hoor, herken en in hul eie lewenswêreld weerspieël sien, ervaar hulle iets van tuiskoms. Hulle ontdek dat hul ervarings nie uniek of onbelangrik is nie, maar deel vorm van ʼn groter verhaal. ʼn Lied, ʼn skrifgedeelte, ʼn gebed kan emosies wakker maak wat jare lank stil gelê het. Skielik onthou iemand sy ouers, die huis waarin hy grootgeword het, sy eerste Pinkster. Daarom is die waarde van ‘n gemeente se identiteit nooit net in die byeenkoms nie. Dit was bloot die venster. Dit is die Evangelie, die ontdekking van heilswaarhede en diensbaarheid wat daaruit vloei wat mense verbind.

Die godsdienstige wêreld met al die verskillende voorkeure het ʼn interessante paradoks geskep waarin daar groter toegang tot meer inhoud as ooit tevore is. Maar ons doen dit al hoe minder saam. Waar troues voorheen in die gemeente plaasgevind het word dit al meer ‘n klein geslote geleentheid vir uitgesoekte vriende. Dit is tekenend dat elkeen binne sy eie algoritme leef. Dit beteken nie dat die tydsgewrig omgekeer kan word nie – elke tyd bring sy eie geleenthede. Maar dit herinner ons daaraan dat ʼn gemeente meer nodig het as net individue. Gedeelde verhale is nodig wat mense weer met mekaar laat praat. Mense soek na egtheid, na vars en relevante getuienisse. Mense wat sonder vrees kan vertel van worsteling met verlies, depressie, identiteit, geloof, verslawing, familie en vergifnis. Die verhale is vol gebrek, maar juis daarom geloofwaardig. Hulle herinner dat Christenskap op afhanklikheid gebou is en dat hoop dikwels in gebrokenheid ontdek word. ʼn Gemeente wat oor homself kan praat, is dikwels ook beter toegerus om eerlik na homself te kyk. Wanneer ek na ons gemeente kyk sien ek mense wat ʼn behoefte het om hul getuienisse op ‘n nuwe manier te vertel. Die vrae en uitdagings het moeiliker geword,maar die Gees-gewerkte behoefte om ons vrese, ons liefde, ons geloof en ons hoop in stories raak te sien, het nie verander nie. Miskien is dit uiteindelik die ware maatstaf waarna mense soek om hul gemeente sinvol te beleef. Nie hoe die geboue lyk nie, maar vars getuienisse wat mense help om hulself en mekaar beter te verstaan. Lidmate leef van betekenis. En betekenis word van een geslag na die volgende deur verhale oorgedra. In ʼn land en spesifiek ‘n dorp wat deur groot politieke, maatskaplike en kulturele veranderinge gegaan het, kan ‘n gemeente vir baie mense ʼn gevoel van kontinuïteit en identiteit bied. Dit het nie antwoorde op elke uitdaging nie, maar bevestig dat gewone mense se lewens, hul verhoudings en hul ervarings deur Christus in Sy hand gehou word en dit maak dit die moeite werd om vertel te word.

3 thoughts on “Oor die identiteit van ‘n gemeente”

  1. Dr Dr Knoetze dis ‘n baie waar en leersame artikel. Doen so voort. Verseker iets om weer te lees en aan te dink.

  2. Dié skrywe laat my nogal dink aan Openbaring 2 tot 3, waar GOD aan die 7 gemeentes hul onderskeie gesplete persoonlikhede van IDENTITEIT aan hul voorhou wat hul nooit gemeen het, hul eens besit nie.
    Vanuit ‘n moderne verband, sou die Diagnostiese-en-statistiese-handleiding-van-geestesversteurings (‘’Diagnostic and statistical manual of mental disorders‘‘) soos deur die Amerikaanse psigiatriese vereniging uitgegee – sou mens die klok kon terugdraai 2000 jaar gelede – nooit aan hul eie voordeure gehang kón word nie – aldus hul eie beskouing aangaande hulself, en veel eerder aan ander se voordeure gehang behoort te word. Ook natuurlik vanuit hul eie (-gedrewe of -geskrewe) beskouinge oor ander vanuit hul eie verhewe denke sfere.
    Sodanige denkpatroon, hou van ‘SELF BESKOUING’.
    Sneeuwitjie se sprokie waarin die bose stiefma vir die towerspieël aan die muur vra: “Spieëltjie, spieëltjie in die hand, wie is die skoonste in die hele land?” , klink so uit die bloute uit só intiem bekend en toepaslik in hierdie verband.
    Die HERE openbaar die IDENTIEIT nie aan een enkele leraar in daardie gemeentes direk nie, maar deur die Skrywe van Johannes Sy Getroue dienskneg. Met ander woorde, mens kan die afleiding maak, dat die meeste het waarlik NIE God se oor gehad nie, en die baie min wat gemeen het GOD hoor hul nie, het Hy tog wel gehoor.
    Die probleem was (en is nog steeds) dat meeste denke ‘by default’ hulself insluit binne-in die sfeer van die heelwat kleiner groepering van getroues wat deur geweldige vervolging gegaan het. ‘Vervolging’ het ook maar ‘n woord geword met veel minder betekenis en gewig teenoor wat dit destyds beteken het.
    Dit is verstommend hoe selfs ‘behoudendes’ in hedendaagse tye, so maklik gryp na meganismes van menslike oorsprong en poog om hul eie identiteit te definieer in Suid-Afrika, die VSA, ensovoorts, maar die HERE Self is blykbaar net nie goed en groot genoeg om te glo en te raadpleeg nie.
    Mens kan 20 Bybels, vele konkordansies, woordeboeke, 1000+ geestelike boeke van welbekende teoloë en die Puriteine besit, en self PhD-grade behaal. Maar die vraag bly: hoe MIN is hedendaagse leraars/pastore bereid om te word soos ‘n Getroue Dienskneg? En wat beteken dit?
    In Openbaring is daar waarlik net Een Getroue en Waaragtige Getuie en dit is Christus Homself.
    Hedendaagse leraars/pastore ‘aanbid’ hul eie ‘logos’ ver meer as die LOGOS as Persoon, Christus Homself, en wis dit nie. Hul eie woorde het ‘n wapen van ‘mass destruction’ geword.
    Slegs belydenis kan die huidige trajek stop, en dit vereis ‘n baie, baie groot sprong vanaf die stoel van die hoogmoedige self.
    Openbaring 2 tot 3 eggo telkens : “EK kén jou…”. Die woorde impliseer allesbehalwe wat die hedendaagse kerke dink dit beteken. GOD ken ook alle demone en bose magte, en dit opsigself, impliseer allesbehalwe dat die hemel hul woonplek is.
    Die kerke stuur mense hel toe.
    Veral die NG Kerk. Die leraars ken nie hul eie lidmate nie, en eerlikwaar, stel ook nie waarlik belang om hul ten diepste te wil leer ken nie.
    Ondersoek gerus menige lidmate se ‘eiesoortige verhale’ in hul eie werksomgewings, waar die BYBEL maar diep, diep weggesteek word om die geweldige kompromie en leuenagtige aard van die ‘eie hand’ daarin verberg word, of erger nog, oor stilgebly word waar wesenlike probleme ontstaan in die werksplek. Ruggraatlose manne en vroue het Suid-Afrika se mentors geword wat sal kla oor korrupsie in die land, maar die korrupsie in eie omgewing, is blykbaar ‘bedek onder Christus se Bloed’. Wonder waar woon Satan in Suid-Afrika. Die kerke se sitplekke het sy slaapkussing geword.
    Die Madlanga-Kommissie spreek duidelik dat Suid-Afrika ‘n groot, groot probleem het, en dit is allesbehalwe beperk tot die SAPS. Wat van ander Staatsdepartemente/sfere? Stadsrade/Dorpsrade? Die Privaatsektor? Die STAALSEKTOR? Die MYNSEKTOR? JSE? Ens..
    Ek het al dikwels gewonder oor die een strofe van DIE STEM :
    “Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
    Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika”
    Streng tegnies gesproke, staan dit natuurlik heeltemal téénoor die Bybel. ROEPSTEM, OFFER, LEWE, STERWE is ten diepste verweef met CHRISTUS en nie met ‘n land nie.
    Ons voorouers het maar bitter min GOD se Hart waarlik geken. En veel het dit nog steeds nie verander nie. Is Suid-Afrika waarlik anders as 3000 se Israeliete? Beslis nie. Net so goddelooslik, maar hul dink hul lied en bybels sal hul red.
    NET Christus se Bloed het die vermoë om te red en geen ander enkel meganisme van redding kan daarmee vergelyk word nie.
    Die Afrikaanse strofe(s) van die volkslied word menigmaal met volle bors gesing – veral in Rugby Stadions – maar waar daar gesing word oor GOD en Christus, is dit so binnesmonds en dikvellig soos ‘n arrogante stoute 5-jarige seuntjie.
    Suid-Afrika het baie, baie ver afgedwaal van GOD se Hart af, en nie van gister af nie. Ons voorouers was allesbehalwe soet engeltjies en hul hedendaagse nageslag, nog minder.

  3. Daar bestaan nie ‘n meganisme om mens se skrywe te “edit’’ in hierdie kommentare nie, so mens sal net graag die volgende meer duideliker redigering wil doen in bogenoemde, synde
    “verberg word” te vervang met “te verberg” en
    “3000” met “3000 jaar gelede”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui