Goeie bedoelings, dodelike einde

Die volgende skrywe herinner aan die tydsgees van die dag: sommige laat dinge dalk toe met goeie bedoelings, maar dit het dodelike gevolge wanneer dit nie in lyn is met God se voorskrifte nie.

1 Korintiërs 6: (9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

***********

Goeie bedoelings, dodelike einde

Skriftuur: “Maar toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit gegryp, omdat die osse struikel. Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref weens die ongeoorloofde daad, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.” (2 Samuel 6:6-7)

(Die verhaal word ook in 1 Kronieke 13:9-10 beskryf.)

In die verhaal van Ussa en die ark skyn God darem baie kras opgetree het om Ussa met die dood te straf. Waarom het God Ussa gestraf? Kom ons kyk na die atergrond van die verhaal. God is ‘n heilige God van orde. As ons God respekteer en liefhet, sal ons sy Gebooie onderhou. (Johannes 14:15)

God het baie spesifieke opdragte gegee oor hoe om die ark te vervoer. Die belangrike agtergrond is dat God uitdruklik bepaal het hoe die verbondsark vervoer moes word. Dit was nie bloot ‘n gewone voorwerp nie; dit was heilig omdat dit die teenwoordigheid van God onder sy volk gesimboliseer het.

  • Die ark moes deur die Leviete op hulle skouers gedra word (Numeri 7:9)
  • Dit moes met draaghoute vervoer word (Eksodus 25:14-15)
  • Niemand mog aan die heilige voorwerpe raak nie (Numeri 4:15)

1. Die ark moes op die skouers gedra word. God het bepaal dat die Kohatiete, ‘n familie uit die stam van Levi, verantwoordelik was vir die vervoer van die heilige voorwerpe en nie Abinadab nie:

“Maar aan die kinders van Kehat het hy niks gegee nie, omdat hulle die diens van die heiligdom moes waarneem: op die skouers moes hulle dit dra.” (Numeri 7:9)

2. Die ark moes met draaghoute vervoer word en nie op ‘n wa gelaai gewees het nie. God het beveel dat draaghoute deur die ringe aan die kante van die ark gesteek moes word. Die draaghoute moes in die ringe bly en mag nie verwyder word nie. (Eksodus 25:14-15)

3. Niemand mog aan die ark raak nie. Die Kohatiete mog nie aan die heilige voorwerpe raak nie, anders sou hulle sterf. Die ark moes ook eers deur Aäron en sy seuns bedek word voordat die Kohatiete dit kon vervoer. (Numeri 4:15)

4. Wat het Dawid verkeerd gedoen? Lees gerus 1 Kronieke 13:7-10. Dawid het die ark op ‘n nuwe wa laat vervoer, getrek deur osse. Dit was ‘n metode wat aan die Filistyne herinner het toe hulle die ark teruggestuur het. (1 Samuel 6:7-12)

Dawid het dus ‘n vervoermetode gebruik wat God nie voorgeskryf het nie.

Die verhaal van Ussa leer ons iets baie belangriks: God se werk moet op God se manier gedoen word. Opregte bedoelings is nie ‘n plaasvervanger vir gehoorsaamheid aan God se uitdruklike Woord nie.
Daar is ‘n groot verskil tussen om God te dien soos óns dink dit behoort te gebeur en om Hom te dien soos Hy in sy Woord voorgeskryf het.

Ussa se bedoeling was moontlik goed, maar God se heiligheid en sy Woord kon nie ligtelik behandel word nie.

“Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers net soveel as in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Samuel 15:22)

God soek nie bloot ons offers, godsdienstige handelinge of goeie bedoelings nie. Hy verlang ‘n hart wat Hom liefhet en gewillig is om sy Woord te gehoorsaam.

Bid saam. Hemelse Vader, gee aan ons asseblief die besef van U heiligheid en vereistes. Mag ons u in alle opregtdheid dien maar ook stiptelik volgende u vereistes. In Jesus se Naam. Amen.

Skrywer: Pieter Swanepoel (Oggend-Gedagtes)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui