Wil jy gesond word?

In Johannes 5 lees ons van ‘n man by die bad van Betesda wat 38 jaar lank siek was. Toe Jesus hom sien, vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?”

Op die oog af klink dit na ‘n vreemde vraag. Is die antwoord nie voor die handliggend nie?

Nie noodwendig nie. Genesing sou nuwe verantwoordelikhede bring vir hierdie man. Hy sou moes begin werk vir geld (tot op hede het hy waarskynlik geleef op bydraes van simpatiekes).

Later in vers 14 sê Jesus vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” Dus lyk dit ook of daar dinge in sy lewe is wat hy sou moes verander.

In ‘n monoloog verwys Theo Von ook na hierdie gebeurtenis en erken dat hy met hierdie selfde vraag worstel: Hy smag na ‘n ander lewe, ‘n ander storie, maar hy weet nie of hy kans sien vir die nuwe verantwoordelikhede daarvan nie. Dit gaan moet meebring dat sy lewe sal moet verander.

In die monoloog is Theo Von in werklikheid besig om te besin oor die eise van dissipelskap. In Lukas 14:25-33 vra Jesus: Wie wil ‘n gebou oprig sonder om eers die koste te bereken? Of watter koning wat met ‘n ander koning in ‘n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?

Kyk

Kyk ook

2 thoughts on “Wil jy gesond word?”

  1. Wat beteken die woord geloof en wanneer verander geloof in hoop? Ek ly aan ongelooflik probleme na ‘n bloedingberoerte 9 jaar gelede. Die pyn is absoluut ondraaglik en dokters gooi hulle hande in die lug en die pynsentrums weier om daar aan die brein te raak- met goeie rede. Ek het al verskeie kere hardop met erns gevra om net daar te sterf met die GELOOF dat my gebed verhoor sal word, want my lyding beteken niks vir iemand nie en maak die lewe hel vir my vrou. Dus, ek glo nie meer aan die “positiewe” uitkoms van my gebed nie al sê ek ek glo, want ek glo nie. As ek sou sê, “ek glo”, huigel ek. Ek kan slegs hoop dat HY sal gehoor gee. Terloops, diegene wat teen selfmoord en genadedood is, moet liewer stilbly as jy nie weet waarvan jy praat nie. As pyn jou denke en dade uitwis dat jy neerslaan omdat jy nie kan konsentreer om regop te bly nie en dit neem jou spraak weg, wat dan? Die pynskaal maak nie voorsiening hiervoor nie en dit hou nooit nooit nooit op nie. Dit put jou uit tot teen die grond. 150% sterkte morfien plus 8 ander opioids per dag en die pyn lag daarvoor. Ek weet nie of ek nog glo nie. My gebede word nie verhoor nie, so wat is die sin daarvan? Ek het ernstige vrae.

  2. Uys, baie dankie vir die deel hiervan.

    Ek kan my net indink waardeur jy moet gaan. Ek het heeltemal begrip daarvoor dat jy voel dat dit beter sal wees as daar net ’n einde aan hierdie lyding gemaak word.

    Jy vra: “Wat beteken die woord geloof en wanneer verander geloof in hoop?”

    Persoonlik dink ek dit is verkeerd om te dink dat jy geloof moet hê dat dinge sal verbeter, daardie idee van “lewe spreek“. Dit grens aan voorspoedsteologie.

    Vals hoop kan ook jou moed breek. Kyk The hidden danger of hope (The Stockdale Paradox and The Good Father).

    Jy sê: “my lyding beteken niks vir iemand nie en maak die lewe hel vir my vrou”

    Net God sal werklik weet. Probeer dalk te leef asof jou lyding wel iets vir iemand (kan) beteken.

    Ek dink aan Job. Tydens sy lyding het dit sinneloos gevoel en hy het gewens vir die dood. Op die ou einde het God nie eers vir hom gesê wat die doel met sy lyding was nie. Job moes God vertrou sonder om die rede vir sy lyding te ken.

    Helen Roseveare het midde in haar swaarkry ervaar die Here vra vir haar:

    “Can you thank me for trusting you with this experience, even if I never tell you why?”

    He gave her the strength to say yes and she prayed, “Yes, God. If somehow, somewhere this fits for purposes, I don’t know how, but yes, thank You, God, for trusting me with this.” God did not take away the wickedness, the cruelty, or the pain. It was still there. But He turned her fear into peace.

    Oor gebed: Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat gebed ’n misterie is. Wat ek jou wel met sekerheid oor gebed kan sê is dat dit iets is waardeur ons ons afhanklikheid aan God verklaar en dat die gebede van gelowiges soos wierook opgaan na God (Openbaring 5:8).

    Jy sê jy kan slegs hoop dat Hy gehoor gee. Ek kan jou verseker dat God jou gebede wel hoor. Wat Hy daarmee maak is vir Hom om te besluit. Hy is ten volle in beheer van jou situasie. Hy kan jou vandag gesond maak, maar Hy het sy redes hoekom Hy dit nie doen nie.

    Jy sal dan vra: hoekom moet ek dan nog bid?

    Ek wil jou aanmoedig om Otto Koning se “The weapon of prayer” te luister (MP3). Dit is deel van Otto Koning se pynappelstories. Hy vertel onder andere hoe hulle onophoudelik vir iemand gebid het om tot bekering te kom. Die persoon het egter as ‘n ongelowige gesterf. Later het iemand anders ‘n nabydoodse ondervinding gehad en daarna gesterf. Hulle het nie eers geweet dat die persoon ‘n Christen was nie.

    Jy kan hierdie luister as deel van “Miracles in the Jungle”. Kyk ook Wonderwerke in die oerwoud. Ek sal selfs aanbeveel dat jy al hierdie stories luister. Dit het my uitkyk op my eie swaarkry verander.

    Ons het eenkeer ’n predikant gehad wat kanker gehad het. Hy was geliefd onder die mense en daarom was daar baie mense wat vir hom gebid het en geglo het dat God hom sou genees. Hy het egter die tekens gesien, maar die mense het hom deurmekaar gemaak. Hy het selfs vir my pa raad gevra omdat hy nie meer geweet het hoe om na die saak te kyk nie.

    My pa het hom herinner aan ’n beeld: Wanneer die see jou intrek, is jy magteloos. Dit help nie om teen die stroom te veg nie. Jy moet sterretjie lê – jy moet op jou rug dryf om energie te spaar en toelaat dat die see jou neem waar hy wil. Hy sal jou wel êrens weer uitspoel.

    So is dit soms met die lewe ook: Jy word soms na plekke geneem waarheen jy nie wil gaan nie. Dan is dit die beste om sterretjie te lê – om by God rus te vind en te vertrou dat Hy jou koers verder sal bepaal.

    Verdere leeswerk as jy wil:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui