Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
’n Laaste brief: Al my pogings om kerk op regte pad te kry, het misluk | Rapport
Lesersbrief
Rapport
Sondag, 4 Oktober 2026
Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein, skryf:
Vir die digter was Oktobermaand die mooiste, mooiste maand. Vir my is dit Hervormingsmaand.
Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellings teen die heersende kerkleer aan die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker.
Hierdie daad van reformasie word elke jaar deur die kerk herdenk. Waarom, vra ek?
Wat Luther gedoen het, het ek as voorbeeld nagevolg.
- Luther (en ek) het die Skrif as enigste norm vir die kerk en sy lewe aanvaar.
- Luther het sy beswaar teen die kerk nie verswyg nie, maar dit na die kerk geneem. Met verskeie handelinge het ek oor dekades met die kerk oor afwykings van die Skrif en Belydenis in gesprek getree.
- Luther het sy beswaar aan die kerkdeur vasgespyker vir almal om te lees. Ek het ’n boek geskryf om afwykings van Skrif en belydenis met bewys te boekstaaf, sodat lidmate ’n ingeligte mening oor hul kerk se leer kan vorm. Hierdie boek is op verskeie maniere verdag gemaak, amper soos ’n pornografiese boek.
- Martin Luther het ook nie uit die kerk bedank toe hy vervolg is nie. Ek het deur dekades van kritiek, verwyt en vernedering nie die kerk verlaat nie. Inteendeel, ek het my tot die laaste aan die kerklike toesig en tug onderwerp. Tóg is ek nog onlangs gedreig om nie met my apologetiese taak voort te gaan nie. Ek is selfs by verskeie geleenthede in die openbaar van leuens beskuldig.
Waarom vier die kerk nog Martin Luther se Hervorming terwyl kerklike besluite teen die Skrif en kerkordelike belydenis gerelativeer word?
Met hierdie skrywe wend ek my die laaste keer tot die openbare media om die hervorming van Oktobermaand met hart en mond toe te juig.
Ek het alle weë gevolg en tٕóg bevind ek my tans in ’n doodloopstraat. Al my geloofs- en akademiese pogings om die kerk aan die Skrif te hou, is afgewys. Ek het die ouderdom bereik waarvan die Skrif sê dat dit die laaste fase is (Ps. 90:10).
In die gees van die Hervorming roep ek daarom uit: “Ecclesia reformata, semper reformanda secundum Verbum Dei!”
(Die gereformeerde kerk is altyd besig om hervorm te word ooreenkomstig die Woord van God)
Kommentaar
Daniel Louw
Prof Johan, ook hierdie skrywe sal nie help nie. Op ‘n stadium moet ‘n mens die NG Kerk oorgee aan haar “skandelike drifte” (Romeine 1:26)