Rondekerk oor Hoëveld Sinode 2026

Die volgende woorde is op 28 Oktober 2026 Rondekerk se Facebookblad geplaas:

SAAM OP PAD — MET OOP OË, LUISTERENDE HARTE EN NUWE HOOP!

Die 24ste sitting van die Hoëveld Sinode, wat van 25 tot 28 Oktober by Weesgerus plaasgevind het, het ons opnuut herinner dat Rondekerk deel is van ’n veel groter geloofsfamilie waarin God op talle plekke en deur baie verskillende mense besig is om Sy koninkryk te laat kom. Ons is opreg dankbaar teenoor Ds Etienne, Ds Henry, Ronel van Zyl, Niki Schneider, Almari Strydom, Jacob Malgas en Jaco Willemse wat die tyd, energie en opoffering gemaak het om Rondekerk daar te verteenwoordig. Onder die tema “Saam op pad: Kyk, luister, getuig” het die verhaal van die Emmausgangers ons opnuut laat besef dat Jesus dikwels nader is as wat ons besef — ook wanneer die pad onseker is, ons verskil en ons nog nie al die antwoorde het nie. Ons hoef nie oor alles dieselfde te dink om saam aan Christus te behoort nie; ons word juis geroep om met respek na mekaar te luister, by mekaar te leer en saam met geloof en liefde te getuig. ‘n Spesiale gelukwensing aan Jacob Malgas, wat verkies is as kerkraadslid op die Sinodale Dienskommissie — ons bid hom die Here se wysheid en seén toe in hierdie verantwoordelikheid. Ons keer terug met dankbaarheid vir die kerk waarvan ons deel is, met eerlike erkenning van die uitdagings wat voorlé en met nuwe moed vir die roeping wat steeds op ons wag. Want kerkwees gaan nie net oor wat binne ons eie gemeente gebeur nie, maar oor hoe ons saam, oor gemeentegrense heen, God se liefde sighaar maak. Rondekerk is saam op pad — met Christus as ons middelpunt, hoop in ons harteen ons hande gereed om te dien.

Ek het Rondekerk nog nooit opgesom as ‘n gemeente wat vreeslik opgewonde raak oor sinodes nie. Nou skielik. Ek wonder hoekom…

Die woorde van James Fahy in sy boek Crescent Moon, kom by my op:

“Nothing unites humans like a common enemy.”

“Niks verenig mense soos ’n gemeenskaplike vyand nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui