Moreletapark: ‘Middelgrond sukkel orals’

Kyk ook:

Dit is baie interessant hoe Nelus Niemandt die werklike rede agter Morelexit verdoelsel onder die sogenaamde onvermoë van die Afrikaner om die middelgrond te kry. Die Afrikaners het hulleself verhard. Hulle voel bedreig. Hulle trek laer….

En André Bartlett dink hulle is gefrustreerd met die res van die NG Kerk omdat hulle ’n megakerkmodel volg.

‘n Mens is ietwat teleurgesteld in Dirkie van der Spuy se gebrek aan standpunt. ’n Mens kry steeds die gevoel dat hy op twee stoele wil sit: Aan die een kant Moreletaparkgemeente en aan die ander kant die sinode.

************

Moreletapark: ‘Middelgrond  sukkel orals’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

12 Mei 2019

Rapport

’n Voormalige moderator van die NG Kerk sê nie een van die Moreletapark-gemeente se redes waarom hulle die NG familie wil verlaat maak sin nie.

Prof. Nelus Niemandt, tot 2015 moderator van die algemene sinode, sê die besluit van die gemeente om die NG Kerkverband te verlaat, moet gesien word in die konteks van wat in die res van die land gebeur.

“Hier is iets groter aan die gang en ons het dit die afgelope week in die verkiesing ook gesien. Daar is ’n verharding onder Afrikaners omdat hulle bedreig voel. Hulle trek laer. Die middelgrond sukkel orals – ook in die kerk,” meen Niemandt, ’n dosent aan Tukkies se kweekskool.

Moreletapark se leiers word ook uit ander oorde gekritiseer oor hul “ondeurdagte besluit” om van die NG Kerk weg te breek.

“Hier is iets groter aan die gang en ons het dit in die verkiesing ook gesien. Daar is ’n verharding onder Afrikaners omdat hulle bedreig voel.”

“Die besluit is oorhaastig geneem, waarskynlik weens hul frustrasies wat hulle met die kerk het. Dit handel ook oor die megakerk-model wat hulle gebruik. wat moontlik op lang termyn nie volhoubaar is nie,” meen ds. André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode.

Die gemeente het Donderdag inligting versoek van die regsdiensteraad van die oostelike sinode oor die praktiese implikasies as hulle uit die NGK sou wegbreek.

Volgens ’n bron is daar steeds nie duidelikheid oor presies waaroor die gemeente ongelukkig is nie. “Aan die een kant word gesê hulle besluit het niks met die kerk se beleid oor gay-huwelike te doen nie, maar aan die ander kant sê hulle dit hou verband met verskeie woelinge in die kerk en teologiese strominge. As dit nie die gay-kwessie is nie, watter ander teologiese strominge is dit?”

Nog ’n gemeentelid sê op Facebook “daar was nie eens ’n duisend mense die Sondagoggend in die kerk nie (toe die aankondiging dat hulle die NG familie wil verlaat, gedoen is). Almal wat daar was het beslis nie saamgestem nie.”

Senior kerkleiers kla ook dat interne prosesse nie gevolg word nie en dat hulle nie op die hoogte gehou word of geken word in die manier wat die saak hanteer word nie.

Die Hoëveld-sinode waarsku in ’n amptelike brief dat slegs streeksinodes en ringe binne dié sinodes veronderstel is om direk met gemeentes te werk. Die sinode sê in sy brief dit is ongehoord dat ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, Dinsdag ’n vergadering bygewoon het wat by Moreletapark gehou is.

Hulle is ook besorg oor ds. Dirkie van der Spuy, ondervoorsitter van die algemene sinode, se verbintenis tot eenheid binne die kerk.

Van der Spuy was tot sy aftrede in Februarie nog Moreletapark se leierpredikant. Hy is ook die moderator van die oostelike sinode.

Van der Spuy se posisie as ondervoorsitter van die algemene sinode word bevraagteken en daar word gevrees dat hy nie “die kerk op die hart dra nie”.

Van der Spuy het verlede week aan Rapport gesê hy gaan nie in dié stadium kant kies nie.

Hy het nie die afgelope week Rapport  se navrae beantwoord nie. Hy het egter ná afloop van Dinsdag se vergadering aan Netwerk24 gesê hy het Moreletapark aangeraai om te herbesin oor hul besluit.

Ds. Dewald Niemandt van die Valleisig-gemeente, Moreletapark se buurgemeente, sê dit is algemeen bekend dat Moreletapark uiters ontevrede is met die NG Kerk se besluit om nie te appelleer teen ’n hofbeslissing oor die kerk se weiering om gay mense in die huwelik te bevestig nie.

Volgens hom speel die gemeente se finansies verder ’n groot rol.

“Hul sakemodel vereis dat hulle die heeltyd moet groei om al hul salarisse en instandhoudingskoste te dra en nuwe projekte te loods om die masjien te voed.

“Hulle skuld neem toe en hulle moet nou ander maniere vind om hul inkomste aan te vul. Dis wanneer foefies soos herdoop en in tale praat ter sprake kom,” sê hy.

Volgens hom blameer Moreletapark die NG Kerk dat hulle nie die gemeente beter bygestaan het nie toe hulle in 2017 19 personeellede, insluitende drie van die kerk se 11 leraars, moes afdank weens finansiële probleme. Die kerk het toe gesê sy lidmate het van 10 000 aktiewe lidmate tot tussen 7 000 en 8 000 gekrimp. Lees ook die artikel op bl. 8 van Weekliks.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui