Die NG Kerk en grondhervorming

Kyk ook:

Die artikel “Die NG Kerk en grondhervorming” is deur die NG Kerk leierskap uitgereik, maar dit het die risiko om verdere verwydering tussen die moderatuur en lidmate te bring.

Op die 14 Maart 2018 is ’n brief namens die Verkennersbeweging van Suid-Afrika aan die NG kerk se sekretaris gestuur. Die brief volg ná hierdie artikel.

Verdere kommentaar verskyn in [rooi-bruin blokhakies] in die oorspronklike artikel.

**********

Die NG Kerk en grondhervorming

6 Maart 2018

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het die afgelope tyd na aanleiding van politieke ontwikkelinge verskeie navrae gekry oor die NG Kerk se posisie wat betref grondhervorming. Hieronder sit hy dit kortliks uiteen.

INLEIDEND

Die onderwerp van die aarde en die wyse waarop dit as grondgebied bewoon, bewerk en bewaar word deur die nasies, is ’n sentrale tema in die Bybel. Talle verhale in die Ou Testament word oor die belofte en besit van ’n spesifieke grondgebied vertel. Baie keer ook uit die hoek van die verlies daarvan weens politieke, sosiale en geestelike oorwegings. So wentel die oerverhale rondom die vervulling van die opdrag aan die nasies om te vermeerder en die aarde te vul. Die aartsvader-verhale sit die tema voort met die wyse waarop God vir Hom ’n volk uitkies en ’n eie grondgebied belowe. Die vroeë profete vertel van die vervulling van daardie belofte in die tyd van Josua. Die latere profetiese literatuur vertel weer van die verlies van daardie grondgebied aan die hand van hulle gebrek aan ’n Godvererende geestelike, sosiale en maatskaplike bewussyn. Hoekom? Want, die Here word regdeur beskryf as die eintlike Eienaar van die beloofde land (Lev 25), trouens van die hele aarde. Elke stukkie grond van die land word daarom aan die volk gegee nie as eienaars nie, maar as rentmeesters daarvan. God kan daarom ook reg en geregtigheid eis ten opsigte van die benutting van die land. Wanneer land op onbillike wyse van enigiemand weggeneem is, veral van armes, weduwees en vreemdelinge, eis God dat reg en geregtigheid sal geskied met verskillende maniere waarop restitusie gedoen kon word. Hierdie regstelling word beskryf as die sjalom wat God bring, met die inspirerende beeld van mense wat elkeen rustig en ongestoord onder sy eie wingerd en vyeboom sit. Die saak van land/grond, die verblyf daarop en die benutting daarvan was daarom nog altyd ’n belangrike saak vir die NG Kerk en ander godsdienstige gemeenskappe.

[Dit is duidelik dat Gustav Claassen dink dat blankes grond van swartmense op onbillike wyse weggeneem het. Dit is seker so dat daar gevalle is waar dit plaasgevind het, maar vandag word dit heeltemal buite verband geruk. Dit sal hom baat om eers bietjie navorsing te gaan doen, bv:

Verder is daar ook grond van blankes gevat om plek te maak vir die tuislande.]

DIE NG KERK SE POSISIE TEN OPSIGTE VAN GRONDHERVORMING

Die NG Kerk het tydens sy Algemene Sinode van 2002 reeds ’n amptelike standpunt ingeneem oor die saak van grondhervorming: “Grondhervorming moet positief aangepak word as noodsaaklike en integrale deel van die nasionale versoeningsproses. Die situasie in die land vereis dat daar nie volstaan kan word met ’n blote erkenning dat daar in die verlede wat grondbesit betref teen anderskleuriges gediskrimineer is nie. Die onreg van die verlede moet op ’n manier reggestel word.”

[Hoe sê hulle: “Gedane sake het geen keer.” Wat gebeur het, het gebeur. Om ’n verkeerdheid met ’n ander verkeerdheid te probeer regstel, sal die ramp net nog groter maak.]

Grondhervorming vanuit ’n Christelike oortuiging is geregverdig en noodsaaklik. Die aktuele saak vir die NG Kerk was nog nooit net die verdienstelikheid van grondhervorming nie, maar ook die doeltreffende en die billike uitvoering daarvan. Die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika en die wyse waarop die herverdeling daarvan aangepak word, het ’n eties-morele kant, waaroor die kerk, soos oor ander sake, sy profetiese stem wil laat hoor.

Die NG Kerk aanvaar dit as uitgangspunt dat grondhervorming, in ’n Suid-Afrikaanse konteks, vanuit ’n Christelike oortuiging regverdig en noodsaaklik is. [Ek sou graag hierdie redenasie wou hoor. Grondhervorming het ’n uiters swak suksessyfer en ten spyte daarvan hou die NGK vol dat dit noodsaaklik is.] Die kerk het haar bereid verklaar om ’n verantwoordbare proses, wat reg en geregtigheid teenoor almal laat geskied, te ondersteun en te help bevorder. By meer as een geleentheid het die Kerk haarself verbind om haar lidmate op ’n positiewe manier in die verband te begelei en te ondersteun. Ekonomiese stabiliteit is ’n voorvereiste vir vrede, versoening en voorspoed in ons land. Hiervoor is ’n nuwe geslag suksesvolle kommersiële boere, swart en wit boere, nodig om aan die ekonomie ’n sterk onderbou te gee en voedselsekuriteit te waarborg. [As daar nou een ding is waaroor ons moet saamstem is dat grondhervorming nie voedselsekuriteite gaan verbeter nie. Die geskiedenis van grondhervorming het dit oor en oor bewys. Dit is ’n illusie om te dink dat grondhervorming gaan geskied én voedselsekuriteit gaan dieselfde bly.]

DIE PROSES TEN OPSIGTE VAN GRONDHERVORMING TOT NOU

Vanweë die nalatenskap van die koloniale- en apartheidsera en diskriminerende wetgewing wat daarmee gepaardgegaan het, is grondbesit in Suid-Afrika skeefgetrek. In die African National Congress (ANC) se 1994-verkiesingsmanifes (die Heropbou en Ontwikkelingsprogram – HOP) is onderneem dat grondhervorming ’n prioriteit in die postapartheidsbedeling sou wees. Klem sou geplaas word op die verdeling van grond aan individue en gemeenskappe wat ingevolge apartheidswetgewing grond verloor het, of die geleentheid ontsê is om grondeienaars te wees. Die doelwit was dat grondhervorming die wanbalanse in grondeienaarskap, verblyfreg, en vlakke van onderontwikkeling in Suid-Afrika, moes regstel. [As ons onsself ’n nie-rassige Suid-Afrika wil roem, dan moet swart-wit getalle geensins ’n rol in enigiets speel nie. ’n Nie-rassige SA is ’n land waar mense suiwer op meriete en bekwaamheid behandel word. Punt.] Grondhervorming is sedert 1994 beskou as een van die hoekstene van die transformasieproses. Enersyds is die oogmerk van die huidige grondhervormingsbeleid om ’n situasie van volhoubare ontwikkeling te vestig. Andersyds het die beleid ten doel om die nalatenskap van apartheid te neutraliseer. Die grondwet verwys in die aanhef na die doelwit om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, diskriminasie uit te skakel en die lewenskwaliteit van alle landsburgers te verbeter. In afdeling 24 van die grondwet gaan dit spesifiek oor grondhervorming. Artikel 25(2) van die grondwet maak tans voorsiening vir die volgende bepalings waarvolgens die regering grond kan onteien:

  • Enige vorm van onteiening moet in die openbare belang wees; en
  • Onteiening moet gepaardgaan met ’n billike vergoeding aan diegene wat daardeur geaffekteer word.

Die grondhervormingsproses verloop egter nie na verwagting nie. Op 21 November 2017 het voormalige president Kgalema Motlanthe in sy verslag “The Parliamentary High Level Panel on the Assessment of Key Legislation and the Acceleration of Fundamental Change” (the High Level Panel) verskeie redes aangedui vir die stadige vordering met grondhervorming sedert 1994. Die verslag het die effektiwiteit van wetgewing beoordeel om armoede, ongelykheid, werkloosheid en grondhervorming aan te spreek.

Die grondhervormingsproses verloop nie na wense nie as gevolg van die onvermoë, stadige pas, korrupsie en wanadministrasie van amptenare in betrokke staatsdepartmente. Verskeie bevoordeeldes uit grondhervorming en restitusie-aksies het nie private eiendomsreg daarop bekom nie. Nuwe eienaars word derhalwe weerhou van die verkryging van banklenings vir landbouproduksie omdat hulle geen vaste eiendom as kollateraal kan aanbied nie. Die staat se keuse om privaatgrond in trust te hou en nie in privaatbesit te plaas nie, impakteer ook op die waarde van grond. Alhoewel daar talle suksesverhale is, is daar groot kommer waar die oordrag van produktiewe landbougrond tot boerdery-mislukkings en die verlies van werkgeleenthede en voedselsekuriteit gelei het.

Hoe meer die staat misluk hoe meer word drastiese wetgewing en ander maatreëls uit regeringsgeledere geïnisieer. Dit lei ook tot toenemende populisme. Die rol wat onteiening sonder vergoeding gespeel het sedert die ANC-konferensie van 2017 asook die jongste aksie van die EFF en die ANC is voorbeelde hiervan. Die EFF het op 27 Februarie 2018, met die hulp van die ANC, suksesvol gedebatteer dat artikel 25 van die grondwet ondersoek moet word ten einde die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak. Populistiese aksies en uitsprake lei tot hoë verwagtings van landloses aan die een kant en ’n geweldige onsekerheid van landbesitters aan die ander kant. In plaas van om in diens te wees van ’n nasionale versoeningsproses lei die grondhervormingsproses tot die vergroting van nasionale spanning en die verhoging van polarisasie en rassisme.

DIE NG KERK ONDERNEEM:

  • Om vol te hou om sy profetiese verantwoordelikheid na te kom en sy stem rondom sake van sosiale en ekonomiese geregtigheid te laat hoor. Die meerderheid van mense wat op plase woon, is lidmate van ons kerkfamilie.
  • Om op soveel as moontlik vlakke versoening en sinvolle oplossings te bemiddel. Dit sluit gesprek met landbou-organisasies, regeringstrukture en ander belanghebbende partye in.
  • Om ’n moreel-etiese beoordeling te doen oor die implikasies van onteiening sonder vergoeding en wat die impak daarvan is oor die hele sosio-ekonomiese spektrum. [Enige mens met gesonde verstand sal weet dat onteiening sonder vergoeding op ’n totale ramp sal afstuur. Die NGK moet dit uit die staanspoor ten sterkste verwerp.]
  • Om met ekumeniese vennote en die NG Kerkfamilie dringend die saak van grondhervorming met die Nasionale Regering op te neem aan die hand van ’n voorlegging teen Augustus 2018.
  • Te help bou aan ’n gunstige klimaat waarbinne gesprekke en onderhandelings kan plaasvind.
  • Om betrokke te wees by die pastorale begeleiding van individue wat onsekerheid beleef as gevolg van grondeise.
  • Om onvermoeid voorbidding te doen vir die saak van grondhervorming.

DIE NG KERK BEYWER HAAR VIR DIE VOLGENDE:

  • Die praktiese toepassing van die grondhervormingsproses. Dit moet billik en ordelik geskied met die minste ontwrigting van kommersiële landbou.
  • Die voedselsekuriteit van ons land, as ’n voorvereiste vir vrede, stabiliteit en voorspoed. Dit moet nie gekompromitteer word nie. Suid-Afrika is tans die enigste land in Afrika met voedselsekuriteit en dit moet ten alle koste gehandhaaf word.
  • Die voorkoming van armoede. Aangesien 50% van Suid-Afrika se bevolking blootgestel is aan ’n destruktiewe armoedekultuur moet werksgeleenthede van bykans ’n miljoen plaaswerkers, met nagenoeg 6 miljoen afhanklikes, nie deur die kompromittering van kommersiële boerdery vergroot word nie.
  • Die reg tot die privaat besit van eiendom moet ten alle tye beskerm word. Andersins kan dit lei tot ineenstorting van die bankwese en die ekonomie in die geheel. Privaat eiendomsreg is die grondslag van enige suksesvolle ekonomie. Die geslaagde mosie van die EFF raak nie net landbougrond nie, dit raak ook privaat eiendomsreg.

Die spoedige hantering van ’n geloofwaardige grondoudit deur die regering. Aannames word tans, as deel van argumente ten gunste van onteiening sonder vergoeding, op verkeerde statistiek gedoen.

***********

Op 24 April is die volgende kommunikasie ontvang:

Op die 14 Maart 2018 is die volgende brief namens die Verkenners aan die NG kerk se sekretaris gestuur. Ek het nie my asem opgehou vir ’n antwoord nie, maar het hulle tog tyd gegun om een saam te stel. Nodeloos om te sê dat geen antwoord tot op hede ontvang is nie.

Nederduits-Gereformeerde Kerk

Posbus 13528

Hatfield

0028

Geagte Algemene Sekretaris,

INSAKE: DIE NG KERK EN GRONDHERVORMING

14 Maart 2018

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika neem met weersin kennis van u brief “Die NG Kerk en grondhervorming”, soos geplaas op die 6de Maart 2018 deur u algemene sekretaris.

Ons is dit een honderd persent eens dat ons slegs as rentmeester van God aangestel is en dat dit Sy wil is om dit vir ons te gee of van ons weg te neem. Om egter daarna die bewering te maak “wanneer land op onbillike wyse van enige iemand weggeneem is, veral van armes, weduwees en vreemdelinge,” en dit dan op die situasie in Suid-Afrika van toepassing te maak, skreeu ten hemele.

Hiermee word die manier waarop grond op internasionaal aanvaarbare praktyke van daardie tydperke verkry is, totaal geïgnoreer.

Met hierdie stelling verketter u die meeste van u lidmate en die Boer-Afrikaner spesifiek, se voorgeslagte. Terwyl u in u politieke korrektheid stik, wil ek u graag wys op ’n paar geskiedkundige feite:

1. Met Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap, is daar eerste kennis gemaak met die Koi en San.

2. Eers rondom 1775, meer as 120 jaar na Blanke nedersetting, is daar vir die eerste keer grond wat aangrensend was aan Swart stamme in die Groot Visrivier gebied, meer as 800km weg van die Kaap se skiereiland.

3. Geen van die Boererepublieke van destyds, was verkry deur ander mense eerste aan te val nie:

3.1. Republiek van Natalia – Soos per ooreenkoms tussen Potgieter en die BaPedi opperhoof Sekwati, asook per getekende ooreenkoms op 25 Julie 1846 ,met die Swazi koning Mswati II.

3.2. Republiek van Potchefstroom-Winburg – Suidelike deel: soos per ooreenkoms tussen A.H. Potgieter en die Ba-Taung opperhoof Makwana. Noordelike deel: anneksasie na die aanvalle deur Mzilikaze. Noord-oostelike deel: Anneksasie na die oorwinning oor Mzilikaze asook soos per ooreenkoms tussen Potgieter en plaaslike hoofmanne.

3.3. Republiek van Kliprivier – Die gebied was beset na Dingaan se moord op Retief en sy opvolgende nederlaag by Bloedrivier. Dus deur militêre verowering, maar eers nadat hulle deur die Zoeloes aangeval was.

3.4. Republiek van Zoutpansberg – Anneksasie na die veldtog teen Mzilikaze en in die Ooste volgens ’n oordragsooreenkoms met die Venda koning Ramabulana.

3.5. Republiek van Lydenburg – Volgens ’n tweede oordragsooreenkoms in 1855 met Koning Mswati II.

3.6. Zuid-Afrikaansche Republiek – Samevoeging van sommige Republieke soos hierbo reeds beskryf.

3.7. Republiek van die Oranje Vrystaat – Noordelike deel tussen die Vet- en Vaalrivier: Besetting sedert 1836 na ’n ooreenkoms met die BaTaung opperhoof Makwana, wat die grond oorgedra het inruil vir beskerming teen Mzilikaze, asook beeste.

3.8. Republiek van Utrecht – Besetting na die koop van grond vir beeste deur twee verdrae in 1852 en 1854 met die Zoeloe koning Mpande.

3.9. Republiek Het Land Goosen – Verdrag met die Ratlou-Rolong opperhoof Moshwete, waar die grond geruil is vir militêre steun teen die Tshidi-Rolong opperhoof Montshiwa.

3.10. Republiek van Stellaland – Verdrag met die Korana opperhoof Mossweu waar die grond geruil is vir militêre steun teen hoofman Mankurwane van die Tlhaping.

3.11. Nieuwe Republiek van Vryheid – Ooreenkoms deur Kommandant Lucas Meyer en die Zoeloe koning Dinizulu waar grond geruil is vir militêre steun teen die Zoeloe hoofman Zibhebhu.

Verder kan geen Blanke enige grond in Swart trustgebiede besit nie. Dit was die geval gedurende apartheid, maar die huidige regering het nog geen vinger verroer om die saak reg te stel of dan “grondhervorming” hier toe te pas nie.

Indien u verder reken dat daar ekonomiese stabiliteit sal heers met vrede, versoening en voorspoed, is u verskriklik naïef. Rig maar net u oë ten Noorde om die resultaat hiervan te sien.

Om te argumenteer “vanweë die nalatenskap van die koloniale en apartheidsera se diskriminerende wetgewing wat daarmee gepaardgegaan het, is grondbesit in Suid-Afrika skeefgetrek” is om die geskiedenis so eensydig soos die politieke heersers van die dag te bejeën. Om verder die ANC se 1994 verkiesingsmanifes aan te haal, wys dat u as kerk nie meer Geestelike leiding wil gee nie, maar slegs stert tussen die bene die politieke meesters van die dag gedienstig wil wees.

Daar word verder kennis geneem van die punte waarvoor die NGK haar beywer. Daar kan nie op twee stoele gelyk gesit word nie. Een waarin ons die proses wil steun en ’n ander waar ons hoop dat daar geen impak sal wees op kommersiële landbou, voedselsekerheid, armoede en die reg op privaat besit nie. Dis soos om jou hand te laat amputeer en te hoop dat dit geen invloed op jou lewenswyse sal hê nie.

Die stelling “grondhervorming is vanuit ’n Christelike oortuiging geregverdig en noodsaaklik” is u mening alleen. Om alle ander kerk verbande en Christene in die land daarby te wil insleep, is voorbarig. Met gesprekke met van u lidmate ,wat ook lede van ons beweging is, kom ek agter dat die uitsprake vanuit die Sinode en vanuit u kantoor vêr verwyderd is van die menings van ’n magdom van u eie lidmate. Al wat u met die skrywe regkry, is om nog meer mense van u kerk te vervreem.

U word hier graag herinner aan die agste gebod. Om grond te neem sonder vergoeding is diefstal. Met wetgewing is dit gewettigde diefstal, maar diefstal nie te min.

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika teken ten sterkste protes aan teen u uitsprake en sal dit teenstaan sovêr ons moontlik kan. Hierdie skrywe sal dan ook aan al ons lede sowel as ondersteuners uitgestuur word. Dit word as ’n direkte aanval teen ons volk se herkoms en ons verstaan van die Bybel gesien.

Die kerk moet besef dat sy nie soos Pilatus haar hande in onskuld kan was indien die proses wat sy nou steun, nie volgens haar plan verloop nie. Ek kan nou al voorspel dat dit nie die geval sal wees nie.

Die Uwe

Alwyn de Klerk

President: Verkennersbeweging van Suid-Afrika

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui