‘As jy hier ook waai, toyi-toyi ons’

Kyk ook:

Kerkbode het die volgende artikel geplaas oor Gert Duursema wat hom aan die werksaamhede van die algemene sinode onttrek het omdat die NG Kerk leierskap besluit het om nie die 2019 hofuitspraak oor selfdegeslagverhoudings te beveg nie. Onderaan hierdie artikel is die woorde wat hy ingestuur het aan Kerkbode.

*****************

‘As jy hier ook waai, toyi-toyi ons’ | Kerkbode

13 Mei 2019, Conette le Roux

Dr Gert Duursema het hom aan die werksaamhede van die algemene sinode onttrek. Hy het voorheen as ver­teen­woor­diger van Noord-Kaapland opgetree.

“Om alle moontlike misverstand uit die weg te ruim: dit gaan geheel en al glad nie om “die gay-kwessie” óf om hetsy die 2015– of die 2016-besluite as so­da­nig nie. Dit gaan daaroor dat gesprek oor hierdie saak nie meer in die lig van die Woord van God gevoer kan word nie,” het hy per e-pos aan Kerkbode gesê.

“Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, het onderstaande gesirkuleer: ‘Die ASM het besluit om nie verder met regsprosesse voort te gaan en die uitspraak van die hoë hof van 8 Maart teen te staan nie. Die kerklike gesprek oor die selfdegeslag­verhoudings sal voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak.’

“Na my mening staan of val die kerk as kerk op hier­die punt. As ons nie die godsdiensvryheid het om self te besluit wat ons hoor die Here in sy Woord vir ons sê nie, het ons ons bestaansreg as kerk verloor. Vir my gaan dit by oorweging van ’n appèl nié om selfdegeslagverhoudinge nie, maar om die Sola Scriptura; die reg om na die Skrif alleen te luister, die reg om teenoor die staat – en selfs teenoor die grond­wet te staan en te sê: ‘So spreek die Here …’ Dit is veelseggend dat die sogenaamde ‘kerklike gesprek’ voortgesit word ‘met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak’. Géén woord word gerep oor gesprek wat voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die Skrif nie. Die Skrif word hierdeur onder­geskik gestel aan die uitspraak van die hof. Daar is géén sprake meer dat die NG Kerk uniek, eiesoortig, sui generis, met Christus alleen as Hoof, Meester en Koning daarvan is nie.”

Oor die pad vorentoe sê Duursema: “Ek is ’n lidmaat van en bedienaar van die Woord van die NG gemeente Kimberley Bet-El – ’n klein gemeente bruin mense. Toe ek die kerkraad en die gemeente van my besluit ingelig het, wou hulle uiteraard weet hoe dit hulle raak. Ek het aangebied om hulle te bly bedien solank as wat hulle my daartoe roep. Hulle antwoord was: ‘Dominee, as jy loop, sal jy sien hoe toyi-toyi ons daar voor jou huis!’ Die kerkraad en ge­meente steun my en ek sal die kudde van die Here nie in die steek laat nie.”

*************

Beste me. le Roux

Baie dankie vir u navraag.  Ek antwoord graag en het u stellings/vrae/ens. in rooi gekopieer en antwoord daaronder.

Ek het op netwerk24 gelees dat u uit die algemene sinode bedank het.

Graag wil ek net ’n regstelling maak aangaande u vraag/stelling.  Die berig begin: “Een van die mees senior dominees van die NG Kerk het hom aan die werksaamhede van die algemene sinode onttrek …” (Ek kursiveer en die laaste woord is onderstreep sodat dit duidelik onderskei kan word.)”

Woorde het betekenis.  Ek het hierdie woorde sorgvuldig oorweeg.  Dit is in ’n e-pos gebruik wat ek aan 24 persone wat aan die werksaamhede van die algemene sinode deelneem, gestuur het en wat ek volledig hierby vir u aanheg.  Dit is klaarblyklik deur een van hierdie 24 aan die media gelek.  Die berig in Rapport is ’n redelik (weliswaar nie 100% nie) korrekte weergawe van die e-pos.

  1. Ek is nie ’n lid van die algemene sinode nie.  Nie mense nie en selfs nie gemeentes is lede van die algemene sinode nie.  Die algemene sinode word saamgestel/gekonstitueer deur die sinodes (deur sommige verkeerdelik streeksinodes genoem).  Net sinodes kan “uit die algemene sinodale verband tree” (Kerkorde artikel 37).  Hulle kan ook nie “bedank” nie, maar wel “uittree”. Ek kan dus allermins nie “uit die algemene sinode bedank” nie.
  2. Die werksaamhede van die algemene sinode word deur taakspanne verrig. Ek onttrek my aan daardie werksaamhede.  Ek het nie “bedank” nie.
  3. Ek gebruik die woord “bedank” nêrens in dié e-pos nie. “Bedank” is nie kerktaal nie.  Die Bybels-teologiese trajek waarop ek beweeg, gebruik die term “afskei” (sien Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 28 en 29).  In die eerste sin van my e-pos gebruik ek doelbewus dáárdie spesifieke woord: “… dat ek my afskei van alle werksaamhede van die algemene sinode …” en in die laaste sin, gebruik ek die woord “onttrek”.

Hierdie begripsonderskeiding is van kritiese belang en onderliggend aan bykans al u vrae.

Nie oor die gay-kwessie nie, maar eerder daaroor dat die saak nie meer in die lig van die Woord van God gevoer word nie, as ek reg verstaan?

U verstaan inderdaad reg.  Ek haal uit my e-pos onderstaande volledig aan:

“Om alle moontlike misverstand uit die weg te ruim:  dit gaan geheel en al glad nie om “die gay-kwessie” óf om hetsy die 2015 of die 2016 besluite as sodanig nie.  Dit gaan daaroor dat gesprek oor hierdie saak nie meer in die lig van die Woord van God gevoer kan word nie.  Dr. Gustav Claassen het onderstaande gesirkuleer:

‘Die ASM het besluit om nie verder met regsprosesse voor te gaan en die uitspraak van die hoë hof van 8 Maart teen te staan nie.

Die kerklike gesprek oor die selfdegeslagverhoudings sal voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak.’

Na my mening staan of val die kerk as kerk op hierdie punt.  As ons nie die godsdiensvryheid het om self te besluit wat ons hoor die Here in sy Woord vir ons sê nie, het ons ons bestaansreg as kerk verloor.  Vir my gaan dit by oorweging van ’n appèl nié om selfdegeslag verhoudinge nie, maar om die Sola Scriptura; die reg om na die Skrif alleen te luister, die reg om teenoor die staat – en selfs teenoor die grondwet te staan en te sê:  “So Spreek die Here Here…”.  Dit is veelseggend dat die sogenaamde “kerklike gesprek” voorgesit word “met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak.”  Géén woord word gerep oor gesprek wat voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die Skrif nie.  Die Skrif word hierdeur ondergeskik gestel aan die uitspraak van die hof.  Daar is géén sprake meer dat die Ned. Geref. kerk uniek, eiesoortig, sui generis, met Christus alleen as Hoof, Meester en Koning daarvan is nie.”

Omdat ek aanneem dat nie almal die berig gelees het nie, sal u asb vir my sê waarom het u uit die ASM bedank het?

U sal nêrens in my e-pos die woord ASM vind nie.  Ek volstaan met wat ek reeds hierbo by die eerste punt gesê het.

Mag ek vra waarom u slegs uit die ASM bedank, maar steeds deel wil bly van die NG Kerk?

Dié vraag gaan van twee foutiewe premisse uit. Die eerste, dat ek uit die ASM bedank.  Ek het dit reeds hierbo aangespreek.

Ek vermoed dat dit vir u eintlik gaan oor die laaste deel van u vraag nl. die “steeds deel wil bly van die NG Kerk”.  Maar ook dan gaan dit van ’n foutiewe (tweede) premis uit. Laat my toe om te verduidelik.

Wie of wat is “die NG Kerk”?

  1. Die algemene sinode is nié “die NG Kerk” nie.  Die algemene sinode is alleen maar ’n vergadering van afgevaardigdes van sinodes. As sodanig kan dit hoogstens as een van die gestaltes van die NG Kerk beskou word – en dit is nie noodwendig die belangrikste gestalte nie en beslis nie die “hoogste” nie. Nie die algemene sinode nie, nie sinodes nie en ook nie ringe doop lidmate of laat hulle belydenis van geloof aflê nie.  As ’n mens nie lid van ’n gemeente is nie, is jy nie ’n lidmaat van die kerk nie.  Die plaaslike gemeente is dus die primêre en belangrikste gestalte van die kerk en volgens sommige, die enigste gestalte.
  2. Ek is ’n lidmaat van en bedienaar van die Woord van die Ned. Geref. Gemeente Kimberley Bet-El – ’n klein gemeente bruin (kleurling) mense.  Toe ek die kerkraad en die gemeente van my besluit ingelig het, wou hulle uiteraard weet hoe dit hulle raak.  Ek het aangebied om hulle te bly bedien solank as wat hulle my daartoe roep.  Hulle antwoord was: “Dominee, as jy loop, sal jy sien hoe toi-toi ons daar voor jou huis!” Die kerkraad en gemeente steun my en ek sal die kudde van die Here nie in die steek laat nie. Wat die toekoms vir die gemeente inhou, sal net die tyd ons leer.
  3. Die gemeente Kimberley Bet-El staan in ’n verband met die sinode van Noord-Kaapland.  In hierdie kerkverband dien ek ook op ’n aantal wyses.  Dié sinode het dit aan my opgedra om aan die werksaamhede van die algemene sinode deel te neem.

U sal voorts opmerk dat ek my e-pos só begin: “Na lang nadenke en konsultasies met my broers, maak ek aan u bekend dat ek my afskei …” Ek het nie impulsief en op die ingewing van die oomblik my besluit aan die 24 persone by die algemene sinodale taakspanne gekommunikeer nie.  Ek het doelbewus eers met hulle wat my die opdrag gegee het, konsulteer.  Hulle sou my wel kon oortuig om dit nie te doen nie – indien dit op prinsipiële gronde berus.  Ons het by twee geleenthede indringende gesprek hieroor gevoer.

Let wel:  ek het nie hulle toestemming gevra of gekry nie.  Dit is mý besluitDaar kan hoogstens gesê word dat hulle by my besluit berus.

Wat die toekoms vir die sinode van Noord-Kaapland inhou, sal net die sinode self oor beslis en dan net as die sinode in sitting is. Dit hang geheel en al nie van my af nie.

Is dit bloot toevallig dat u op dieselfde dag bedank het as Moreletapark?

Ek glo glad nie aan “blote toeval” nie.  Die Nederlandse geloofsbelydenis, artikel 13 sê “Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat daar in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”

Dit gesê, moet ek beklemtoon hulle besluit en my besluit het niks met mekaar gemeen nie.  Ons was nie met mekaar in gesprek en het nooit mekaar gekonsulteer of enige iets dergeliks nie. Buitendien, teologies verteenwoordig ek en Moreletapark twee teenoorgestelde pole.

Ek korrespondeer reeds sedert 20 Maart 2019 (om 11:02 vm. het ek ’n e-pos gestuur) met my broers en susters in Noord-Kaapland waarin ek my ongemak uitgespreek het.  Ek het my e-pos aan die 24 persone betrokke by werksaamhede van die algemene sinode op 2 Mei versend omdat my laaste gesprek met my broers op 30 April plaasgevind het.  Ek het reeds op 24 April aan me. Ester Steyn per WhatsApp laat weet dat ek eers op 2 Mei sou bevestig of sy reisreëlings kan tref vir vergaderings van taakspanne van die algemene sinode.

Waarom die Here dit so beskik het dat my en Moreletapark se besluite op dieselfde tydstip in die ope gebring moet word, weet ek nie.  Ek kan u net die versekering gee dat ek dit nie so beplan of bedink het nie. Dalk wil die Here iets aan die Ned. Geref. Kerk sê dat daar vanuit twee oorde dieselfde boodskap gehoor word.

U het genoem kerkeenheid is vir u baie belangrik. Waarom is dit vir u belangrik en hoe kan lidmate/leraars in dié moeilike tyd kerkeenheid bevorder?

Die eenheid van die kerk is my diepste oortuiging en belydenis.  My proefskrif dra dié titel:  Communio Sanctorum: Gereformeerde kerkreg versus kerklike geskeidenheid.

Ek bely met passie: “’n enige (in die oorspronklike Frans: “une seule – letterlik vertaal: één enigste) katolieke of algemene kerk (Frans: “universelle”), ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees… Hierdie heilige kerk is … met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.”

En verder “… dat niemand … hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal—as lede van een en dieselfde liggaam—aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien.  En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by die vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die doodstraf of lyfstraf oplê.  Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God..”

Ook “…dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is … en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.”

Weereens my proefskrif:  Communio Sanctorum – die gemeenskap van die heiliges.  Dus: “Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat ’n mens die liggaam en gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle kerk is.”  Immers – 2 Kor. 6:14 “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap het die geregtigheid kan daar wees tussen reg en onreg?  Of watter verband kan daar wees tussen lig en duisternis?”

Wat is u droom vir die NG Kerk?

Dit wat ek hierbo van die kerk bely.

Naskrif: ter wille van deursigtigheid stuur ek die antwoorde ook aan my broers en susters.

Vriendelike groete

Dr. G J Duursema

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui