Mogoeng Mogoeng en die politiek van die kerk

xxx

*******

Mogoeng Mogoeng en die politiek van die kerk | Netwerk24

Dirk Kotzé

Rapport, Sondag 23 Oktober 2022

Waarom meng Suid-Afrikaners nie hul godsdiens en politiek nie, wonder Dirk Kotzé.

Die nuwe All African Alliance Movement (AAAM) het pas aangekondig dat oudhoofregter Mogoeng Mogoeng hulle presidentskandidaat vir die nasionale verkiesing in 2024 gaan wees.

Hierdie beweging of party se plan is klaarblyklik om onafhanklike kerke en inheemse godsdienstige groepe saam te bring in ’n nuwe groepering wat die politieke probleme van vandag moet oplos. Een daarvan is die posisie van buitelanders in Suid-Afrika.

Die AAAM is – in hul eie woorde – nie xenofobies nie, maar buitelanders moet gedokumenteer wees. Dit is ’n interessante opmerking wat beteken dat dit vir hulle belangrik is om dit spesifiek te noem.

[Kommentaar: Wat impliseer Dirk Kotzé? In my opinie moes die AAAM bloot gesê het: “Dit is belangrik om buitelanders te dokumenteer.” Om te noem dat hulle nie xenofobies is nie, was totaal onnodig.]

Wat is die kanse dat hierdie party wel ’n party met trekkrag in die 2024-verkiesing gaan word? Of nog meer, dat ’n gewese hoofregter ’n president kan word? In albei gevalle is die kanse feitlik nul.

Om dit te kan verduidelik, sal dit nodig wees om eerstens te kyk wat die prestasie is van partye met ’n spesifiek godsdienstige of kerklike fokus. Die huidige openbare sentiment teenoor partye in die algemeen is ook relevant vir so ’n verduideliking.

Sedert die verkiesing in 1994 het die African Christian Democratic Party (ACDP) van eerw. Kenneth Meshoe, die United Christian Democratic Party (UCDP) van die ou Bophuthatswana se pres. Lucas Mangope, en sedert 2019 die African Transformation Movement (ATM) die ruimte vir partye met ’n sterk fokus op geloof gevul.

Oor tyd het ’n aantal kleiner Moslem-partye ook gekom en gegaan, met Al Jama-ah, wat in 2007 deur Ganief Hendricks gestig is, wat op die oomblik verteenwoordiging geniet.

Die ACDP neem sedert 1994 aan die meeste verkiesings deel. Op die oomblik het die party vier parlementslede (uit die totaal van 400) en het in die 2019-verkiesing 0,84% van die totale stemme gekry. Hulle het ook een verteenwoordiger elk in die provinsiale wetgewer van die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal. Mangope se UCDP was hoofsaaklik aktief in Noordwes, maar bestaan nie meer nie.

Die ATM word deur die South African Council of Messianic Churches in Christ ondersteun en is in 2017 in KwaZulu-Natal gevorm om die faksie van oudpres. Jacob Zuma te ondersteun. Sy woordvoerder, Mzwanele Manyi, is een van die leidende figure in die party. In 2019 het hulle twee setels (0,44% van die stemme) in die Nasionale Vergadering gekry en een setel elk in die provinsiale wetgewers in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Al Jama-ah het aan die laaste drie nasionale en provinsiale verkiesings deelgeneem. Hul steun het gewissel tussen 0,14% en 0,18%. In die Wes-Kaap doen hulle die beste met 0,86% steun en een verteenwoordiger in die provinsiale wetgewer. Op plaaslike vlak is hulle deel van die ANC se koalisie in Johannesburg.

Dit beteken dat die partye wat hulself in religieuse terme definieer nog nie daarin kon slaag om meer as 1% steun in enige van die meer onlangse verkiesings te kry nie.

Die afleiding is dus dat – ten spyte van die feit dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners hulself as gelowig beskryf – die meeste kiesers nie hul geloof deel van die verkiesingspolitiek wil maak nie. Wat baie belangrik is, is dat godsdiens nie in Suid-Afrika verpolitiseer word nie.

Die probleme in lande soos Nigerië of die twee Soedans, waar godsdiens ’n belangrike faktor is, of die verdelingslyne in Libanon, of selfs die verdelings tussen Katolieke en Protestantse sentimente in die Amerikaanse politiek is gelukkig nie in Suid-Afrika teenwoordig nie.

Suid-Afrikaanse politieke partye behaal ook nie sukses as hulle net ’n enkele nis probeer beset nie – soos die Europese groen-partye of feministiese, pro-kapitalistiese of linkse sosialistiese partye (soos die Socialist Revolu­tionary Workers Party).

Die formule vir verkiesingsukses is gewoonlik ’n kombinasie van belange wat die grootste hoeveelheid mense aanspreek. Mogoeng se AAAM sal duidelik nie hierdie resep volg nie.

Die gebrek aan verkiesingsukses beteken nie dat Suid-Afrikaanse politiek heeltemal losstaan van enige kerklike invloed nie. Die rol van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in die verlede en die leidende politieke rol wat predikante en ander geestelikes soos aartsbiskop Desmond Tutu, dr. Allan Boesak en dr. Beyers Naudé in die verlede in ons politiek gespeel het, kan nie buite rekening gelaat word nie. Die rol wat kerke gespeel het in die legitimering van politieke ideologieë oor die politieke spektrum heen – soos die Kairos-dokument, die Belhar-verklaring en die Afrikaanse kerke se verhouding met apartheid – is ook welbekend.

Deesdae wil politici, veral tydens verkiesings, by kerkgeleenthede gesien word. Hulle waardeer dit veral as ’n seëning­ oor hulle uitgespreek word. Dit is ’n morele legitimering wat vir baie stemme kan tel. Terselfdertyd is dit opvallend dat die twee Zion Christian Churches (ZCC) nie hulself met enige politieke party wil assosieer nie.

Die infrastruktuur wat kerke bied met gemeentes in baie dele van die land moet vir politieke party baie aantreklik wees. Charismatiese kerkgroepe en die onafhanklike Afrika-kerke het beide logistieke infrastruktuur en die finansies wat vir politieke partye van groot waarde kan wees. Tot dusver het die ervaring egter gewys dat dit nie in die praktyk realiseer nie.

Die openbare sentiment teenoor politieke partye is waarskynlik die tweede rede waarom politiek en godsdiens nie lekker meng in Suid-Afrika nie.

Meningspeilings gedurende die afgelope tien jaar wys op ’n dalende tendens van openbare vertroue in politieke partye en politici. Dit word ook gesien in die dalende tendens van kiesers wat nie registreer nie en selfs geregistreerde kiesers wat nie stem nie.

Politieke partye in die algemeen is op die oomblik nie ’n aantreklike opsie nie. Daarom het Mmusi Maimane aanvanklik ’n beweging – die One South Africa Movement – gevorm. Ander DA-leiersfigure wat bedank het en ten gunste van bewegings is, is Makashule Gana en Mbali Ntuli. Gemeenskapsbewegings soos die Soweto Parlement van Nhlanhla Lux Mohlauli (van Operation Dudula-faam) is ’n ander voorbeeld van plaaslike inisiatiewe in teenstelling met politieke partye. Die aandrang op individuele kandidate vir nasionale en provinsiale verkiesings gaan ’n nuwe alternatief vir persone soos Mogoeng Mogoeng skep.

Ironies genoeg is die voorbeelde waar godsdienstige waardes die sterkste in die politiek voorkom in Europa en die VSA. Christen-Demokratiese partye in Duitsland, Nederland en Italië is deel van die hoofstroombeweging. Die Republikeine in die VSA is ook deel hiervan waar aborsie en inentings politiek-religieuse kwessies geword het. Dieselfde het in Suid-Afrika gebeur, maar dit het nie deel van die politieke kern geword nie.

  • Prof. Dirk Kotzé doseer politieke wetenskap aan Unisa.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui