Marlene le Roux: ‘Die kerk se stem word al hoe stiller’

Kyk ook:

Twee dae later het daar nog drie artikels verskyn oor dieselfde onderwerp:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Marlene le Roux: ‘Die kerk se stem word al hoe stiller’ | Netwerk24

Marlene le Roux

01 Junie 2023

Kerkleiers het ’n groot rol gespeel om demokrasie in Suid-Afrika te vestig. Waarom leef ons dan steeds in ’n verdeelde land? En, vra Marlene le Roux, waar is vandag se leiers?

Waar staan ons vandag met menslikheid, omgee en die waardes van die Belydenis van Belhar, naamlik eenheid, versoening en geregtigheid?

Daar is vandag steeds vraagstukke waarmee die kerk gekonfronteer word, soos die onvoorwaardelike aanvaarding van vroue. Ongehude moeders moet steeds voor die kerkraad vir tug verskyn, maar net die ma, nie die pa nie.

My geliefde moeder, Tietie (Christine le Roux), is as geskeide vrou gebrandmerk deur die tug van die kerkraad. Sy het eerstehands die kerk as ’n manlike instelling ervaar, en dit boonop met ’n gestremde kind. Die kerk wou my nie doop nie, want Tietie wou nie tug loop nie. Sy was oortuig van en reg oor die onbillike handeling teenoor vroue. ’n Balans moet tog gevind word, nie waar nie?

En wat van gestremdes? In 2022 was ek deel van ’n informele werksgroep wat gelei het tot aanbevelings oor die kerk en die hantering van mense met gestremdhede. Dit het ingesluit riglyne vir die ontwikkeling van ’n inklusiewe kerk, praktiese aspekte rakende toeganklikheid en om ’n Sondag van bewussyn onder gemeentes rakende gestremdes te bring.

En hoe verwelkom die kerk die LGBTQIA+-gemeenskap? Hoe kan ’n mens waarlik vry wees indien daar gedikteer word hoe en wie jy mag liefhê?

Hierdie groepe word steeds deur die kerk gemarginaliseer.

Brood en ’n broodjie

Ek het grootgeword in Wellington, ds. Andrew Murray se hartland. In die kerk se kinder- en jongdogtersbond is ek blootgestel aan wat dit is om te behoort.

Daar het ek geleer van naasteliefde, omgee en barmhartigheid. My grootwordwêreld was oorwegend vasgevang in armoede, maar dié wat min gehad het, het dit gedeel met dié wat niks gehad het nie.

Die kontras sou my as negejarige tref, toe ek genooi is om in die NG Moedergemeente oorkant die pad te gaan sing – Murray se laaste gemeente, waar hy 35 jaar lank predikant was.

Ek is nie toegelaat om die kerk binne te gaan nie. Ek moes in die konsistorie wag tot dit my beurt was om te sing . . .

In my wildste drome sou ek nooit kon dink dat ek eendag die prys wat aan Murray gekoppel is, sou ontvang nie. As student wou ons as aktiviste ons sterk teenkanting teen apartheid wys. Dit was vir ons belangrik dat die kerk moet kennis neem van die onreg van die politieke stelsel. Uit protes het ons Murray se standbeeld pers geverf.

Vandag kleef albei gemeentes – skaars 300 m van mekaar en met Murray se standbeeld tussenin – steeds vas aan hul kulturele bruin en wit identiteite. Sondae word daar steeds apart kerk gehou by die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) met sy meestal bruin kerkgangers en die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) met sy meestal wit kerkgangers.

Hoe beweeg ons vorentoe? Ons moet saam brood breek.

In my lewe was daar talle voorbeelde van menslikheid . . . moeder Tietie en ouma Christine Abrahams.

Ouma Christine was ’n kerkvrou wat tien kinders en vir my, die 11de, grootgemaak het. Sy het as huishulp vir wit mense gewerk, maar steeds haar gesin eerste gestel en altyd gesorg vir kos op die tafel – ook vir die armes.

Somervakansies het almal – ouma, ma en niggies – op die lorrie geklim en in temperature van 40 °C droëvrugte gepak vir 10c ’n stellasie. Baas Koen se seun het vir my jammer gevoel, my elke oggend van die lorrie afgehaal en sy broodjie vir my gegee. Tot die dag wat sy pa hom ’n loesing gegee het en ek toe nie meer mag saamgaan nie.

Word die kerk gehoor?

Ons klou steeds vas aan die verlede en identiteite waarmee ons gemaklik voel. Die Belydenis van Belhar is in 1986 aanvaar as ’n direkte gevolg van gesprekke in die familie van die NG Kerk in Suid-Afrika.

Werk ons vandag om armoede en maatskaplike euwels soos geweld teen vroue en kinders, bendegeweld en werkloosheid te beëindig? Werk ons as kerkgemeenskap of raak ons ego’s selfs groter as dié van ons predikers? Word die kerk se stem gehoor?

Aanvaarding en inspirasie

Ná skool is ek na die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Die UWK het my hele wêreld verander. Dis waar ek my stem gevind het, met die hulp van aartsbiskop Desmond Tutu.

“Arch” en ander leiers soos Allan Boesak en prof. Jaap du Rand het woorde in dade laat oorgaan. Daar het ek ook vir Helen Joseph ontmoet. En ma Winnie Mandela se volgehoue veggees teen apartheid het my as aktivis gemotiveer. Jare later, met haar 80ste verjaardagvieringe by Kunstekaap, wou sy – ontuis tussen die uitgelese gaste – net weet waar is haar medekollegas, die maatskaplike werkers.

Ek wil ook vir Wangari Muta Maathai van Kenia vermeld, ’n omgewingsaktivis en die eerste vrou van Afrika om ’n Nobelprys te wen. Haar organisasie, The Green Belt Movement, is in 1977 gestig en het al meer as 30 miljoen bome geplant.

Soveel mense het my geïnspireer om my stem te gebruik teen ongeregtigheid, om my gestremdheid te omarm, wat my aanvaar het met my mank been en al.

Twee vreesbevange 18-jariges

Op ’n dag van chaos en protes by die hekke van die UWK, wou ek ook gaan. Toe vra die Arch my: “Ousie, is jy seker jy wil march?”

“Arch, jy dra ’n cloak en ek ’n beenstut; miskien is ons saam stadig!” het ek vol bravade geantwoord.

Daardie aand breek die veiligheidspolisie in by al die hostels. Dis net gille, tokkelokke word geslaan, vriende word detain.

Toe is dit Cassinga 1 se beurt. Ek was al in die bed, sonder my beenstut waarsonder ek nie kan loop nie.

’n Jong wit soldaat bars in my kamer in. My gang is aan die hardloop en skree, maar ek kon nie sonder my calliper nie. Hy lig sy knuppel om my te slaan en ek sê: “Kyk, vanaand kan jy my maar doodslaan! Ek kan nie weghardloop nie . . .”

Hy sien my beenstut en vir ’n oomblik is daar lig in sy dowwe oë. Vir ’n paar sekondes was ons net twee vreesbevange 18-jariges. Toe draai hy om, gaan uit en ek hoor hoe hy en sy maats die houe slaan en skree.

Ek wonder tot vandag toe waar is die jong man wat ter wille van die misdadige apartheidsideologie sulke verskriklike dinge gedoen het.

Hoekom vertel ek die goed meer 30 jaar later?

Want ons moet mekaar se pynlike stories hoor sodat ons van mekaar kan leer en in mekaar kan begin glo, om ons menslikheid te herontdek, saam te genees, saam te hoop.

‘Empatiese herstel’

Vandag kan ons terugkyk na leiersfigure soos Durand, Tutu en prof. Denise Ackerman wat opgestaan het en leiding geneem het teen die apartheidsregering.

Waar is ons leiers wat ons vandag moet lei?

Kyk ons terug na die totstandkoming van ons demokrasie, kan ek nie anders as om by die Waarheid-en-versoeningskommissie stil te staan nie.

Die gruwels van apartheid, die onreg en die hartseer is volledig gedokumenteer. ’n Lang lys van aanbevelings is gemaak om die pad van gelykheid en ’n vrye demokrasie vir elke Suid-Afrikaner moontlik te maak.

Tog het die politici nie die aanbevelings uitgevoer nie. Dis daar vir ons as rigtingwyser, nes Belhar, en tog het ons leiers dit versaak.

Die struggle is vandag steeds met ons, in armoede, werkloosheid, rassisme, xenofobie, geweld teen vroue en kinders in ’n samelewing van onverdraagsaamheid.

Prof. Pumla Gobodo-Madikizela skryf vergifnis is die verkeerde woord om te beskryf wat gebeur as ’n slagoffer en oortreder mekaar ontmoet, soos ek en daardie jong wit soldaat van my jeug.

As ons mekaar se pyn sien en erken, dra ons ’n verantwoordelikheid wat in deernis en omgee vergestalt. Sy noem die proses “empatiese herstel” en wys daarop dat dit nie net oor jou eie genesing gaan nie, Dit gaan ook oor jou verantwoordelikheid om ’n gemeenskap te bou waarin mense saam kan kom en saam méns kan wees.

Steeds nie óns nie

Dit is nog steeds ek versus jy, dit is nie óns nie.

Geografiese skeidslyne soos ’n pad, ’n brug, ’n treinspoor en ’n straat, soos in Wellington? Een geloof, maar verdeelde gemeentes?

Ons aanbid dieselfde God en luister Sondag ná Sondag na die tien gebooie. Lééf ons dit elke dag, of net selektief?

Die uitdagings raak meer, maar die kerk se stem het stiller geraak.

Die nood is groot, maar uit gerief – miskien weens vrees of uit ’n gebrek aan waagmoed – sit ons Sondag op Sondag oorkant mekaar wanneer die kerkklokke lui.

Ek is ’n optimis. Ek glo jy kan ’n verskil maak waar jy nóú is. Transformasie gaan oor meer as die kleur van jou vel.

Ek sluit af met dié woorde van die Arch: “What faith you belong to is very largely an accident of birth and geography . . . it is not the faith that comes first, it is the fact of being human together, the truth being that we are all loved equally by God.”

Le Roux is die uitvoerende hoof van Kunstekaap. Dit is ’n verkorte weergawe van haar toespraak met ontvangs van die Jaap du Rand-Denise Ackermann-eerbewys vir eenheid, versoening en geregtigheid van die Andrew Murray-prysfonds. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

xxx

2 thoughts on “Marlene le Roux: ‘Die kerk se stem word al hoe stiller’”

  1. 3 kort opmerkings, uit vele wat gemaak kan word, en glad nie met die doel om omvattend te wees nie:

    1) die Kerk is te stil oor die geregtigheid van God (die praktiese implikasies is nie noodwendig dieselfde as wat daar in die nuusberig aangetoon word nie),
    (2) dis waarskynlik belangrik om te noem dat ds. Andrew Murray ook nie almal wat gedoop wou word, gedoop het nie – dit het afgehang van die omstandighede
    (3) nie al die kerklike leiersfigure wat aktiviste teen apartheid was, was/is gelowiges nie

  2. die strooi het begin by die Sinode ….. ons het nooit daardie tyd besef dat dit tot vandag nog n diep swart pit van Raka is . Die patetiese beplanning, gesprekke , aksies en houdings het gestink soos n groot vrot snoek. …. en tog kon hulle niks ruik nie . Die grootste probleem , en dis n massive probleem van die klomp sout pillare is They have not the fear of God !!!!!! elke ou Ds. op sy eie ou hoender mishoop !!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui