Hoekom is kerke so stil?

Die volgende drie briewe het almal op 3 Junie 2023 in die pers verskyn.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Hoekom is ons kerke so stil oor die regering? | Die Burger

(Het ook in Beeld verskyn as “Kerke moet nou ruggraat wys”)

Prof. Kobus Lazenby, Heidelberg

Die Burger, 03 Junie 2023

Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk het op die eerste dag van die NG Kerk in Wes-Kaapland se sinodesitting die volgende boodskap gegee: “Moenie swyg uit die vrees om rassisties genoem te word nie.”

Die “nuwe struggle” volgens hom is die stryd om die morele kompas te herwin en ons gelykheid van geleenthede te bekom. Hy noem ook dat die NG Kerk (NGK) van ouds “die NP in gebed” genoem is (Kerkbode, 08.05).

In aansluiting daarby kan ek net terloops noem dat ons huidige regeringsleiers geen noemenswaardige morele intelligensie (gewete) het nie.

Dit bring my by my ongemaklikheid met die NGK. As die NGK vroeër ’n lakei van die NP-regering was, is dit nou vir my ontstellend dat hy relatief stil is oor die huidige regering.

Natuurlik is die NGK (hopelik) nie ’n lakei van die huidige regering nie, maar ek lees ook nie dat daar by die Wes-Kaapse sinode sterk uitsprake teenoor die regering se onbeholpenheid, kaderontplooiing, vernietiging van die ekonomie, wanbestuur van staatsgeld, misdaad, korrupsie, staatskaping, ensovoorts, was nie (dalk het ek dit misgelees – dan verskoning).

Inteendeel, ons bid vir die regering! Bid ons regtig dat die regering geseën moet word vir wanbestuur, die “tot-nuut-bestuur” van ons land? Regtig?

Ek was nog altyd positief oor Suid-Afrika, maar regtig, nou begin ek erg benoud raak oor die onbeholpenheid van ons regering. Ek begin werklik voel dat ons moet begin bid vir die einde van die huidige regering en die opkoms van ’n nuwe daeraad.

Ons moet ophou om tevrede te wees met middelmatigheid. Ons word bly oor dit net fase 6-beurtkrag is en nie fase 7 of 8 nie. My genade!

Ons moet opstaan en op alle vlakke begin bid en meewerk en saamwerk vir ’n verandering in hierdie land. Die NGK, en kerke in die breë, moet begin ruggraat wys en soos ’n Moses van ouds ons lei na ’n beter land.

Wie gaan die uitdaging aangryp?

*******

Kerke mág en móét politiek preek | Die Burger

Dr. Adelbert Scholtz, Somerset-Wes

Die Burger, 3 Junie 2023

Marlene le Roux se aangrypende artikel “Kerke se stem raak al hoe stiller in SA” (01.06) bevat ’n baie noodsaaklike vraag: Waarom swyg kerkleiers oor al die onreg en gruwels wat ons deesdae in Suid-Afrika beleef? Daar is baie waaroor kerk­leiers moet uitwei, onder meer die hoë misdaadsyfer waaraan ons owerhede hopeloos te min doen.

Dis bekend dat slegs ’n geringe persentasie van moordenaars en verkragters aan die pen ry. Ons arm mense ly honger terwyl die vet katte in die parlement en elders geld blaas asof die voorraad onuitputlik is. Indien kerkleiers die moed het om van die kansel af en elders hul stemme te verhef, is daar talle uitsprake in die Bybel waaroor hulle kan preek:

  • Miga 3 spreek die oordeel van God uit oor die regeerders van Israel wat onreg pleeg, die arm mense vertrap en die reg verdraai;
  • Spreuke 24:24 en 31:9 vereis van ’n koning (en ’n staatspresident) om die arm mense by te staan en nie bedrog en skelmstreke goed te praat nie;
  • In Romeine 13:5 word die mag aan die owerheid gegee om die oortreder te straf. In die Zondo-kommissie se finale verslae word talle gevalle van korrupsie en bedrog uitgewys, maar daar gebeur niks met dié wat beskuldig word nie; en
  • 1 Timoteus 2:2 vra dat ons vir die owerheid moet bid sodat ons ’n stil, rustige en veilige lewe kan hê. Ons almal in die land lewe­ in vrees vir geweld, misdaad, duisternis en onreg.

Daar is nog baie meer in die Bybel wat predikers kan gebruik om gelowiges aan te moedig om hul stemme teen die huidige regering te gebruik.

Predikers mág en móét politiek preek.

*******

Mense, kerke moet stem laat hoor | Die Burger

Koos Marais, Silver Lakes

Die Burger, 3 Junie 2023

Die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse maatskaplike landskap dwing elke landsburger om iets te doen, sover as wat hulle kan. Maar aan burgerlike instellings word nog groter eise gestel.

Gift of the Givers, AfriForum, Solidariteit en ander bring hul kant, maar waar is die kerke?

Wat gaan aan met die kerke in Suid-Afrika? Waar is die protes in die gereformeerde tradisie van die woord? Waar is die kerk se stem? Waar is die profetiese stem van die kerk wat veronderstel is om God se naam, koninkryk en wil te verkondig?

Dit in hierdie geknelde land wat gebuk gaan onder korrupsie, moord, diefstal, onderduimsheid, georganiseerde misdaad en leuenagtige politici?

In die Covid-19-pandemie het ek dieselfde vrae gestel aan die leierskorps van die NG Kerk, my kerk waarvoor ek lief is.

Ek het gekla oor die vertrapping van menseregte en die onsinnighede waarvan ons steeds die gevolge moet dra. My boodskap is beantwoord met versigtige pleidooie dat ons die vrede moet bewaar en in stilte moet mooipraat en onderhandel.

Ons land jaag op die afgrond af. Daar is nie meer tyd vir mooipraat nie. Ons moet red wat te redde is. Elke burger moet sy stem op een of ander manier laat hoor, hard en duidelik.

In die 1970’s en 1980’s het Frank Chikane, Beyers Naudé, Allan Boesak en Nico Smit nie gehuiwer om te protesteer nie.

Dit het gewerk vir hulle.

Ons moet praat en skryf en video’s maak oor die rioolvuil in ons riviere en spruite. Ons moet praat en skryf oor die rotte in die rommel. Ons moet protesteer oor die swak diens in die staatshospitale, oor die afwesigheid van die polisie, die slaggate in ons paaie, en die nors en onbeskofte staatsamptenare.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui