‘As profeet kan ek nie meer swyg’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘As profeet kan ek nie meer swyg’ | Volksblad

Dr. Dawie Botes, NG kerk-leraar, Welkom

Volksblad, 31 Mei 2023

As profeet van die Here kan ek nie meer stilbly nie. Ek spreek die ANC-regering aan oor hul uiters swak bestuur van ons land.

As profeet bid ek ook dat, as dit die Here se wil is, ons ’n ander, verantwoordelike regering sal kry na die algemene verkiesing in 2024.

Pres. Cyril Ramaphosa, jy gee niks om vir die mense van die land nie. Julle as ANC steel ons land bankrot. Julle laat Suid-Afrikaners doodgaan in staatshospitale en as gevolg van cholera en slaggate wat tot ongelukke en botsings lei.

Julle as ANC-leiers sit in gemak in julle huise met kragopwekkers en watertenks en gee niks om vir ons as burgers van die land nie.

Jy is nie werd om ons president genoem te word nie.

Julle vernietig almal se drome. Julle maak dat miljoene mense elke aand honger gaan slaap. Klaarblyklik traak dit jou min.

Die ANC verwoes letterlik alles — van die paaie en geboue tot elke liewe stukkie infrastruktuur wat julle bestuur. Oral sit mense werkloos.

Van al julle taakspanne kom daar niks.

Die Here het julle ’n kans gegee om te regeer, en julle het dit opgemors. Julle is pateties verby. Ek skaam my vir die regering.

Mag die dag kom dat die regeertyd van die ANC as ’n misdaad teen die mensdom beskou word. Mag die tyd kom dat ANC-simbole verbied word omdat dit simbool is van dood, korrupsie geweld, pyn en hartseer.

Elke liewe belofte van julle is leeg. Daar kom absoluut niks van nie.

Duisende Suid-Afrikaners word vermoor en verkrag, en teen misdaad doen julle niks.

Elke dag lees ons van nog verwoesting en die agteruitgang van ons pragtige land en sy mense.

Pres. Ramaphosa, gaan lees Psalm 72: “Leer tog die koning om volgens U wil te regeer.

Lees dié Psalm en regeer die land reg tot Sy eer.

Kommentaar

Daniel Louw

Met die lees van hierdie artikel, word ‘n mens weer herinner aan die ooreenkoms tussen die NG Kerk en Suid-Afrika:

Beide is in ‘n tragiese toestand weens swak leierskap wat vir een of ander rede demokraties aan die lewe gehou word. Dit grens aan masochisme.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui