Linkses se obsessie met politieke korrektheid

Kyk ook:

In die nuusberig (6 Desember 2019) Malema: ‘Wittes moet aanvaar hulle is rassiste’ (kyk onder) sê Julius Malema dat alle wit Suid-Afrikaners moet aanvaar dat hulle rassiste is. Riaan de Villiers, predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, sê die volgende op Facebook na aanleiding daarvan:

Mnr Malema is reg.

Die stelsel en propaganda van Afrikaner nasionalisme was hoogs effektief, ondersteun deur skool, kerk en gemeenskap, ingegee saam met jou pap en melk van kleins af.

Daar kan slegs genesing kom indien daar erkenning is, bekering plaasvind en verantwoordelikheid geneem word.

Moet die plaaslike NG Kerk op grondvlak nie ’n groter rol speel in hierdie proses van erkenning, bekering en genesing nie?

As dít die siening is van sekere kerkleiers, kan ’n mens verstaan hoekom die Belhar belydenis in 2015 met soveel obsessie gedryf is en kan mens verstaan hoekom sekere kerkleiers steeds jammer wil sê oor apartheid.

Op 15 Desember 2019 sê die einste Malema egter dat wit mense wat berou oor het apartheid dit kan oorweeg om iets wat hulle uit apartheid oorgeërf het prys te gee, soos wat Wes-Duitsland gedoen het toe hulle vergoeding aan Israel betaal het (kyk “Malema sê wit mense kan gerus terugbetaal” hieronder).

Nou wonder ek wat Riaan gaan teruggee…?

*********

Malema: ‘Wittes moet aanvaar hulle is rassiste’ | Netwerk24

Deur Bonolo Selebano

06 Desember 2019 20:58

Alle wit Suid-Afrikaners moet aanvaar dat hulle rassiste is, sê Julius Malema, EFF-leier.

Wit Suid-Afrikaners kan baat vind by selfbewussyn en selfondersoek oor die subtiele en openlike rassevooroordele wat hulle jeens swart mense het, het hy Donderdag aan Netwerk24 gesê.

“Jy moet sê, ek is ’n rassis. Jy kan nie ontken dat jy ’n alkoholis is as jy een is nie, want dan sal jy nie die hulp aanvaar wat jy nodig het nie,” sê Malema.

“Dis nie hulle skuld nie, die stelsel het hulle so gemaak, om te glo dat hulle meerderwaardig is, om te glo hulle het meer verstand as enige ander ras. Hulle is onbewustelik baie afwysend omdat dit by hulle ingebou is.”

Hy het met Netwerk24 gepraat kort voor die EFF se nasionale volksvergadering volgende week waar nuwe leiers gekies gaan word.

Hofstryde

Malema, wat in November in die gelykheidshof onskuldig bevind is op ’n klag van haatspraak nadat hy Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, ’n “hond van witmonopoliekapitaal” genoem het, gaan nou in Randburg teregstaan op ’n aanklag dat hy ’n polisie-offisier aangerand het.

Daarby is daar ook klagte in sowel Bloemfontein as Newcastle omdat hy glo mense aangemoedig het om grond te beset.

Hy word ook daarvan beskuldig dat hy in Oos-Londen ’n vuurwapen onwettig afgevuur het ten tyde van die EFF se verjaardagvieringe daar in 2018.

“Al dié sake het te doen met die EFF. Die grondsaak spruit uit die afsluiting van die EFF-konferensie toe ek gepraat het oor besluite in die Vrystaat en Newcastle. Die beweringe oor die geweer het te doen met ’n EFF-byeenkoms en die beweringe dat ek ’n polisieman aangerand het, spruit uit die begrafnis van Winnie Mandela – alles goed op die slagveld van plekke waarheen die EFF ons stuur,” sê Malema.

VBS

Malema en die EFF-leierskap word beskuldig daarvan dat hulle voordeel getrek het uit die VBS Mutual Bank wat verlede jaar in kuratorskap geplaas is weens ’n likiditeitskrisis.

“R2 miljard is by die bank gesteel en hulle sê mense wat verbonde is aan die EFF en sy leierskap het R16 miljoen gevat en dat die EFF die bank laat ineenstort het. Jy kan sien dié dinge kom uit die rigting van ’n bepaalde politieke party,” sê Malema.

“Dit is absolute onsin. ‘Floyd het ’n kar gekry, Floyd het ’n huis gekry, Floyd se broer het ’n huis gekry of ’n restaurant, Malema het gekry . . .’ Iemand is desperaat om die goeie naam van die EFF-leiers onder verdenking te bring. Ons het die VBS nie nodig nie.

“Dit is desperate optrede en daarom veroorsaak dit nie by een van ons slapelose nagte nie,” sê Malema.

On-Point Engineering

Malema het ook tyd daaraan afgestaan om homself te verontskuldig oor bewerings dat hy persoonlik voordeel getrek het uit tenderkorrupsie in Limpopo in sy tyd as ANC-jeugleier.

Dit nadat beweer is dat Malema ’n onregstreekse aandeelhouding gehad het in On-Point Engineering, ’n maatskappy aan wie Limpopo se departement van paaie en vervoer in 2009 ’n tender van R50 miljoen toegeken het om die departement se projekbestuurseenheid te bedryf.

“Ek word uitgewys as iemand wat die Limpopo-provinsie in duie laat stort het. Ek is tot vandag toe nog nie gearresteer nie, ek is nog nooit gearresteer nie, ek is nog nooit aangekla nie. Hulle het net die doringkroon op my kop gesit en my so gelos,” het Malema gesê.

“As ek korrup was soos wat julle ouens (die media) my na die publiek geprojekteer het, waarom word ek nie gearresteer nie?” vra Malema.

Persepsies dat hy ’n duur lewenstyl handhaaf

Malema draai nie doekies om oor sy leefstyl nie, en sê sy vlak van aktivisme moet nie gemeet word aan waar hy woon of sy klerekeuse nie.

“Ek is net skoon, ek dra skoon, ek kyk na myself. Ek werk, ek koop my eie klere, ek sal myself van tyd tot tyd bederf, maar ek lewe nie uitspattig nie.

Mandela het in Houghton gewoon, (oudpres.) Kgalema (Motlanthe) woon in Houghton, (oudpres. Thabo) Mbeki woon in Houghton, en hy is jul held. So, waarom ek?” wou Malema weet.

“Het ek ’n vergadering met enige van julle gehad en gesê ek sal nie in Sandton woon nie? Toe ek die EFF gestig het, het ek in Sandton gewoon, my huise in Sandton is regstreeks op TV opgeveil, die mense wat by die EFF aangesluit het, het aangesluit terwyl hulle bewus was van dié feite.”

Die EFF se nieamptelike koalisie met die DA in die land se metro’s

Malema het sy sienings gedeel oor wat verkeerd geloop het met sy party se gesprekke met die DA oor die Johannesburgse burgemeesterskap, wat Woensdag deur die ANC se Geoff Makhubo weggeraap is.

“Ek het Helen Zille gebel en ons was saam met James Selfe en John (Steenhuisen, tussentydse leier van die DA) en sy het gesê sy kan nie betrokke raak nie en dat ek met John moet praat en John het gesê ‘ons kan jou nie ’n uitvoerende amp gee nie, ons kan jou nie (die) speaker(skap) gee nie, julle moet komiteevoorsitters wees’ en ons het dit as baie disrespekvol beskou.

“Hulle het geweier en gesê die EFF moet gerelegeer word om as voorsitters van komitees op te tree. Ons het nie daardie wit arrogansie aantreklik gevind nie en ons moet dit tot ’n einde bring,” het Malema gesê.

Die EFF het gevolglik nie vir die DA of die ANC se burgemeesterskandidate gestem in die Johannesburgse burgemeestersverkiesing nie.

Malema sê Makhubo se beweerde korrupsie het die EFF verhinder om hom by die ANC te skaar in die stemming.

“Ons het aan die ANC gesê dat ons die ou nie wil hê nie en die ANC het probeer (om ’n ander kandidaat te kry), maar die (ANC se) laer strukture het geweier. Geoff is uiters gekompromitteer en om sake te vererger hou die beweerde korrupsie regstreeks verband met die munisipaliteit waar die ANC hom ontplooi het,” het Malema gesê.

Daar word beweer dat Makhubo se konsultasiemaatskappy, Molelwane Consulting, ’n 10%-kommissie gekry het van ’n omstrede kontrak wat met die Gupta-verwante Regiments Capital aangegaan is om die stad van Johannesburg se delgingsfonds te bestuur.

EFF-burgemeester in Tshwane

Malema het daarop aanspraak gemaak dat sy party ’n ooreenkoms met die ANC beklink het om die EFF die burgemeesterskap in die Tshwane-metroraad te laat oorneem.

“Vanoggend (Donderdag) het die ANC teruggekom en gesê ‘ouens, ons het mekaar dalk nou nog nie in Johannesburg gevind nie, maar ons is saam in Tshwane. Wat ons ook al doen, ons gaan dit saam doen en ons sal mekaar steun. Ons gaan Tshwane regeer,” het Malema gesê.

“Ons het niemand in Tshwane nodig nie. Net onsself en die ANC, selfs al sou die (ander opposisiepartye) saam met die DA gaan.”

Tshwane is Vrydag deur die Gautengse regering onder administrasie geplaas. Dit kom nadat die stad Donderdag sonder ’n burgemeester was nadat Stevens Mokgalapa en die raad se speaker, Katlego Mathebe, uitgeskop is toe mosies van wantroue op ’n spesiale raadsvergadering teen hulle aanvaar is.

*********

Malema sê wit mense kan gerus terugbetaal | Netwerk24

Deur Jan-Jan Joubert

15 Desember 2019 00:10

Wit mense wat berou het oor apartheid kan dit oorweeg om iets wat hulle uit apartheid oorgeërf het prys te gee, soos wat Wes-Duitsland gedoen het toe hulle vergoeding aan Israel betaal het, het Julius Malema, EFF-leier, Saterdag by die EFF se nasionale kongres – die sogenaamde “volksvergadering” – by Nasrec suid van Johannesburg voorgestel.

In ’n wydlopende toespraak van drie uur het Malema die bloudruk verskaf vir EFF-beleid vir die volgende vyf jaar, en geantwoord op verskeie punte van kritiek van die EFF se teenstanders.

Malema het aangevoer die verdrukking van swart mense het in 1652 met die koms van Jan van Riebeeck begin, en swart mense moes eeue lank met die uitbuiting saamleef en die beste daarvan maak om te oorleef.

Hy sê die EFF is verbind tot sosialisme om die ongelykhede, uitbuiting en swaarkry wat die kapitalistiese stelsel tot dusver vir Suid-Afrika gebring het, teen te werk, en dat die EFF se onderskrywing van sosialisme as ’n meer gelyke stelsel glad nie ’n onderskrywing is van wat oor die jare in die naam van sosialisme gedoen is nie.

“In ons begrip van sosialisme word individuele vryhede en die reg om te verskil, volkome gewaarborg. Menseregte staan sentraal. Niemand mag onderdruk word nie. Ons is volkome gekant teen ’n eenpartystaat, en ons is teen leierskapkultusse of persoonlike verheerliking. Ons is byvoorbeeld teen vernoeming van enigiets na mense – strate, geboue, enigiets. Ongeag wie hulle mag wees. Ons het geleer uit die foute van die geskiedenis,” het Malema gesê.

Oor nasionalisering het die EFF-leier gesê sy party is slegs ten gunste van die nasionalisering van sekere produksiemiddele sodat die wins ten behoewe van opheffing van armes eerder as individuele verryking gebruik kan word, en sommige industrieë wat die EFF as strategies noodsaaklik vir die nasionale welsyn beskou. Die doel is om ongelykheid teen te werk, nie arbitrêre of die volkome afneem van private eiendom nie. Die EFF is ook ten gunste van die ontwikkeling van private entrepreneurskap.

“Ons verwys hier tans spesifiek na myne, monopolie-nywerhede en plase, maar daar moet voortdurende analisering van die doeltreffendheid van sulke beleidsbesluite wees. Dit gaan nie daaroor dat ons jou huis, jou motor, jou klere of sulke dinge wil nasionaliseer nie. Ons is ook ten gunste van die beginsel dat ouers deur erflatings hul eiendom aan hul kinders kan nalaat,” het Malema uitgewei.

Hy het die noodsaaklikheid van ekonomiese groei benadruk en uitgewys dat die huidige stagnante ekonomie tot werkloosheid lei – veral swart werkloosheid.

Malema het die swakhede van die EFF uitgelig en te velde getrek teen lede van sy eie party se leierskorps wat net daar is vir posisie en inkomste, maar niks doen om die party uit te bou deur arm mense te help nie.

Oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding het hy gesê die EFF het nog nie op hul voorstel vir die bewoording van ’n wysiging aan art. 25 van die Grondwet besluit nie, en wag vir voorstelle van die publiek.

In ’n belangrike verwikkeling het Malema aangevoer die EFF is ten gunste van die beginsel van die nasionale gesondheidsversekering, maar steun nie die model wat die ANC tans onderskryf nie, want dit maak finansieel glad nie sin nie.

Die EFF-leier het verduidelik dat sy party die oppergesag van die reg onderskryf, en dat hulle dus hofuitsprake sal respekteer en gehoorsaam selfs as hulle regters kritiseer.

As voorbeeld het hy gesê regters moet hul persoonlike oortuigings en politieke opinies privaat hou, maar selfs as hulle byvoorbeeld hoofregter Mogoeng Mogoeng hieroor sou kritiseer, sou dit nie beteken hulle ontken sy gesag of integriteit nie.

Dit is hoekom hulle die poging teenstaan om adv. Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer te verwyder. As mense met haar bevindings verskil, kan hulle dit op hersiening neem, maar sy moet, soos adv. Thuli Madonsela, nie persoonlik aangeval word nie sodat elk van haar bevindings op meriete hersien kan word.

Malema het gesê hoewel baie wit Suid-Afrikaners baie rassisties is, is hulle nie swart Suid-Afrikaners se groot probleem nie. Swart Suid-Afrikaners is hul eie grootste probleem oor hoe hulle hulself gedra. Hy het verwys na hoe vuil townships is en hoe mense mekaar daar vir elke bakatel aanrand en vermoor, en gesê swart mense se gedrag moet eerstens toon dat hulle sowel hulself as ander swart mense respekteer.

In klaarblyklike antwoord op kritiek op welvarende EFF-leiers se sjampanje-leefstylgedrag het Malema gesê ’n mens hoef nie te lyk of jy uit ’n plakkerskamp kom – vuil, onnet en op ’n fiets – ten einde doeltreffend vir die verbetering van plakkers se lewensomstandighede te veg nie.

Oor sommige in die DA se bewering dat die EFF fascisties is, het Malema aan die hand van ’n taamlik wetenskaplik-historiese oorsig van fascisme, en die verskil tussen die EFF en die fascistiese filosofie, aangevoer dat diegene wat ’n ekwivalent beweer een van drie dinge doen: Hulle skel onnadenkend, hulle ken nie die geskiedenis nie of hulle verstaan nie fascisme nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui