Dra ‘wesentlik’ by tot restitusie, vra NGK-ds.

Kyk ook:

Dit lyk my sekere kerkleiers kan net nie oor apartheid kom nie.

Minder as ’n maand gelede het Nelis Janse van Rensburg weer jammer gesê vir apartheid (kyk NG Kerk sê steeds jammer vir apartheid(!)).

*********

Dra ‘wesentlik’ by tot restitusie, vra NGK-ds.

Johan Eybers

12 Mei 2019

’n Leraar van die Groote Kerk in Kaapstad – die oudste NG gemeente in die land – wil hê die kerk moet om vergifnis vra vir apartheid en ’n “wesenlike” bydrae tot restitusie in die land maak.

Ds. Riaan de Villiers en nog 24 jong predikante gaan Dinsdag ’n voorlegging by die Wes-Kaapse sinode indien waarin hulle vra dat die kerk “verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy aandeel in apartheid”.

“Ons gaan programme vir herstellende geregtigheid vir oorweging voorstel,” sê De Villiers.

Die ring van die NGK se tugliggaam ondersoek tans nege klagte teen De Villiers nadat hy op 17 Maart vanjaar ’n intergeloof-inisiatief en diens bygewoon het. Klagte oor sy betrokkenheid is eers Woensdag ingedien. Daar is veral ontsteltenis omdat De Villiers na Moslems verwys het as “broers en susters”, en gesê het dat Jesus ook oor die dood van Moslems sou huil.

Rapport het in Maart berig dat ds. Schalk Strauss van die Afrikaanse Protestantse Kerk se Grootfontein-gemeente in Pretoria ’n klag by die Groote Kerk ingedien het oor De Villiers se “verregaande uitlating” in die kerk se lyfblad, Kerkbode, waarin hy gesê het die slagoffers van die Christchurch-terreuraanval in Nieu-Seeland is ons “Moslembroers en -susters” en “kinders van God”. De Villiers het ook, tot ontsteltenis van sommige lidmate, op 28 April aan ’n gebedsbyeenkoms deelgeneem by ’n moskee in Kaapstad vir slagoffers van die selfmoordbomaanvalle in Sri Lanka.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK, sou ook dié geleentheid bywoon, maar het hom onttrek toe hy “reaksie vanuit verskeie oorde” oor sy deelname ontvang het. Janse van Rensburg het die afgelope week aan Rapport gesê hy het onttrek omdat daar by sulke geleenthede “soms net in algemene terme tot ’n algemene Godheid gebid (word). Christene behoort myns insiens nie aan sulke gebedsbyeenkomste deel te neem nie”. (Lees die onderhoud met hom in Weekliks hier).

Op ’n Facebook-inskrywing die afgelope week het hy uitgebrei hierop: “Dit kan so maklik gebeur dat mense onbedoeld aan ander groot aanstoot gee, of dink hulle moet iets van hulle eie identiteit as volgelinge van Christus prysgee of verswyg. Ek meen dat ek en ander leiers ook hierin ’n voorbeeld behoort te stel.”

De Villiers sê die klag is ingedien deur lidmate wat “ongemaklik” is met hom en sy gemeente en kollegas se pogings om na ander gelowe en gemeenskappe uit te reik.

“Ons groep predikante is al geruime tyd op reis hieroor. Ons het eers tussen mekaar gepraat oor ons eie voorregte en ons skuld weens apartheid. Ons het daarna na die slagoffers en ander gelowe uitgereik oor waar hulle seergemaak is en watter bydrae die kerk kan maak om genesing te bring. ’n restitusie-konferensie is daarna by die kerk gehou. Ons het daarna besluit om dit op die sinode se agenda te plaas.

“Ons beskou die Belhar-belydenis (om apartheid as sonde te verwerp) as ’n geskenk om vorentoe te gaan,” sê hy.

Volgens De Villiers sal hul voorstelle vir restitusie finansiële implikasies inhou.

“Ons praat nie hier van liefdadigheid nie en ons wil nie nog iets begin nie. Ons wil by bestaande strukture, soos projekte wat help met vroeë kinderontwikkeling, inskakel waar ons kan dien en nie voorskryf nie. Ons wil ook die kerk se ruimte vir ander oopgooi,” sê hy.

“Ons volg Jesus se pad om die wêreld te herstel en genesing te bring.”

1 thought on “Dra ‘wesentlik’ by tot restitusie, vra NGK-ds.”

  1. Ek is van mening dat dit geensins die taak van die kerk is om belydenis van foute deur vorige geslagte, asook sosiale rekonstruksie of verandering in enige samelewing te probeer aanhelp of te bewerkstellig nie. Die kerk se uitsluitlike taak is om die evangelie te verkondig. Dr De Villiers beweeg dus hier op die terrein van die regering. Die Skrif stel dit duidelik dat aardse regerings deur God verordineer/ingestel is om geregtigheid te laat geskied en dat gelowiges hulle aan die owerheid moet onderwerp (Rom 13:1-4).
    Ek glo die kerk moet hom by sy eie lees hou en daarvoor veg om die evangelie duidelik en onvervals uit te dra. Teoloë/predikante se strewe moet derhalwe wees om bybelse geregtigheid in plaas van sosiale geregtigheid te verkondig en na te streef. Daar is ’n enorme verskil tussen die twee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui