Legitimasiediens: NGK en VGK, 30 Nov 2022

Licensing of Ministers, 30 Nov 2022, URCSA Kayamandi

Soos verlede jaar, was daar baie klem gelê op kerkeenheid en die Belydenis van Belhar. Dit is ook ingesluit by die legitimasieverklaring:

1:26:34 Dr Theunis Botha lees die legitimasieverklaring aan die studente voor:

Ek lees nou aan julle die legitimasieverklaring voor:

Ek, die ondergetekende, ………… oortuig van my roeping deur die Here en toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, verklaar hiermee voor die Here:

1. Dat ek glo dat die leer vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid – die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Ketegismus en die Dordtse Leerreëls, ooreenkom met die Woord van God;

2. dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;

3. dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die Kerk te weer;

4. dat, indien ek later enige beswaar of ander insig oor die leer ontwikkel, ek dit nie sal leer of bevorder voordat ek dit aan ‘n bevoegde kerkvergadering vir ‘n beslissing voorgelê het nie;

5. dat ek my aan die orde van die NG Kerk sal hou;

6. dat ek, om beroep te word, volgens die Kerkorde en besluite van die Nederduitse Gererformeerde Kerk sal optree;

7. dat ek my op die uitbreiding van die Koninkryk van God sal toelê deur die bevordering van die kennis van, vertroue in en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God.

8. dat ek myself verbind tot voortgesette bedieningsontwikkeling en dat ek my verbind deur my handtekening dan later tot dit wat hier genoem is.

Maar daarmee saam:

9. Ek bely volmondig die inhoud van die Belydenis van Belhar as belydenisskrif en wil graag hierdie belydenis bevestig deur dit te onderteken met my legitimasie as NG proponent. Ek verstaan dat dit nie van my as voornemende NG Kerk proponent vereis word nie, maar dit egter begeer om wel die belydenis van Belhar ook te onderteken in hierdie gees van eensgesindheid in besonder met my Verenigende Gereformeerde broers en susters. Want ek is oortuig daarvan dat die belydenis van Belhar ’n gawe is van die Verenigende Gereformeerde Kerk aan die breër Nederduitse Gereformeerde Kerk familie sowel as die land, Suid-Afrika, geskenk het as ’n rigtingwyser op die pad na eenheid, versoening en geregtigheid.

Verder onderteken ek hierdie belydenisskrif as ’n teken van toewyding en verbintenis tot die erns van die saak van die kerk hereniging binne die NG Kerk familie.

Ek kies ook daarom om bykomend tot die Drie Formuliere van Eenheid die Belydenis van Belhar te onderteken.

Dit is die legitimasieverklaring. By die noem van jou naam vra ek jou om hardop daarop te antwoord.

Punt 1 tot 8 is eintlik ’n baie goeie verklaring. ’n Mens wonder egter of hierdie voornemende proponente die implikasie van hierdie verklaring besef. Almal van hulle het gesien wat die teologiese dosente van die NG Kerk in die klas aan hulle gesê het. Kyk ook Testimony of Peter Harris at Stellenbosch University Theology Faculty. Gaan hulle hul verklaring ernstig opneem en hierdie dosente konfronteer en selfs tugsake teen hulle begin? Hoogs waarskynlik nie.

Punt 9 is baie subtiele emosionele manipulasie. Alhoewel daar duidelik gesê word dat die ondertekening van die Belydenis van Belhard vrywillig is, sal bitter min voornemende jong proponente opgewasse wees vir hierdie groepsdruk. Indien een van die voornemende proponente dit nie sou wou onderskryf nie, sou die persoon voor die hele gehoor “nee” moes antwoord.

Gekleurde stolas

Na afloop van die aflegging van die legitimasieverklaring word gekleurde stolas aan die proponente oorhandig. Hierdie gekleure stolas lyk baie verdag omdat dit baie herinner aan die reënboogkleure van die LGBTQIA+-vlag.

Die volgende betekenisse word aan die kleure van die stolas voorgehou:

Liturgiese jaar – betekenis van stola kleure:

Die kleure wat ons gebruik het is die simboliese kleure van die kerkjaar.

  • Swart – dood – Goeie Vrydag
  • Blou – kleur van lug – Hemel – Waarheid – Aanvaarding – Advent
  • Bruin – Spirituele dood en vernedering
  • Grys – As – Lydenstyd – Sterflikheid van die liggaam – Onsterflikheid van die sien – As-Woensdag
  • Groen – Groei – lente – lewe – Epifanie – Koningkrykstryd
  • Pers – Rou – verootmoediging – koninklikheid – Advent – Lydingstyd
  • Pink – Advent – afwagting – vreugde
  • Rooi – bloed – vuur – Pinkster
  • Wit/Silver – suiwerheid – onskuld – heiligheid – Kersfees – Paasfees
  • Goud – Kersdag
  • Geel – Lig Goddelikheid

Verskillende simbole is gebruik:

  • Plantegroei – Groei in die Woord
  • Kompas – Hou die regte rigting deur Hom bepaal
  • Horlosie – Spandeer en gee genoeg tyd
  • Koring – Groei as die koringaar vir Christus
  • Vlerke – Die Vader seën sal oor jou wees
  • Kroon en Fleur de lise – Jy is gebind aan die Koning
  • Duiwe – Geluk en vrede sal oor jou dae wees
  • Boom – Onthou die boom van lewe en dood waarmee alles begin het
  • Musieknote – Sing lof tot sy naam
  • Water / golwe – Hy was was jou skoon

Ten spyte van hierdie uiteensetting het ek maar my bedenkinge oor waarom die teologiese fakulteit van Stellenbosch hierdie kleure gebruik het. Ek sal glad nie verbaas wees as daar wel ’n verskuilde agenda is om gay-vriendelik te lyk nie. Indien ’n mens hulle egter daarmee sou konfronteer, sou ’n mens twee moontlike antwoorde kon verwag:

  1. Die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings maak tog ruimte daarvoor.
  2. Nee, julle is alweer te oorsensitief.

‘n Mens wonder of behoudende predikante hierdie stolas moet dra. Dit kan ’n verkeerde persepsie skep.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui