Kommentaar op die krisis in die NG Kerk

Kyk ook:

Na terugvoer van die verloop van die Moreletaparkberaad op 25 en 26 Februarie 2020 en die lees van plek-plek neerhalende kommentaar teen beswaardes in die Kerbode, het ek ’n behoefte om te reageer.

Dit wil voorkom of ’n klein groepie in die kerk, bestaande uit die fakulteite waar ons predikante opgelei word, in simbiose met die sinodale leierskap en hul gevolg bestaande uit ’n aantal predikante, hulself as so gesaghebbend beskou dat hul die breë kerk / lidmate kan manipuleer en daarmee kan wegkom. Al wil hul graag met beswaardes praat, is dit duidelik dat dit alleen binne die raamwerk van Sinodebesluite sal plaasvind. Die probleem is juis dat daar by implikasie verwag word om die beginsel te aanvaar dat die gesag van die Skrif en ons gereformeerde belydenisse onderhandelbaar is. In ’n gesprek van die Kerkbode met Ds Nelis Janse van Rensburg (aanlyn Kerkbode 20 Maart) stel hy dat die ASM die ruimte vir standpunte van mense wat van hul veskil binne die kerk wil bewaar[1]. Die argument is dat uieenlopende standpunte verdra sal word, solank dit die dominasie van die huidige leierskap nie in die gedrang bring nie. Dit klink egter baie na onderskrywing van postmoderne denke en of die waarheid eintlik nie bestaan nie.

Selfdegeslagverbintenisse binne die kerk staan nie alleen nie. Om iets te verstaan van waar baie van hierdie dinge vandaan kom, moet ’n mens besef dat die gay besluite deel is van die sosiale en kulturele rewolusie waarin groot dele van die wêreld hom tans bevind.

‘n Klomp “issues” as deel van ’n kuturele rewolusie, hou verband, soos obsessie oor sosiale geregtigheid, skuldbelydenis en restitusie binne die verwysingsraamwerk van identiteitspolitiek, die uitgebreide veldtog van die LGBTQ+ beweging, feministe se agenda oor vrouerregte en die ongekwalifiseerde aanslag op patriargie. Dit is ook duidelik dat aborsie op dieselfde manier as selfdegeslagverhoudings deur die kerk hanteer gaan word. Voorbrand word reeds hiervoor by ons teologiese fakulteite gemaak. Hierdie groepe raak ’n magsblok in die kerk. Omdat die Skrif nie meer gesaghebbend is nie, hang dit saam met ’n verstaan van wat sonde is en wat nie, en wie daaroor besluit. Hoe meer die kerk hom kompromiteer, hoe moeiliker raak omkeer op ’n ingeslane weg.

Wat in die agtergrond verdwyn, is die verantwoordelikheid van die kerk vir die sieleheil van sy lidmate en redding van ’n verloregaande mensdom. Die kerk verloor sy kern-roeping, of gaan voort asof daar geen probleme geskep is deur die wegbeweeg van die belydenisbasis ten gunste van postmoderne denke en liberale sosiale agendas wat veel wyer strek as die selfdegeslag problematiek. Almal is skynbaar gered, ongeag hul geloofsoortuigings. Vandaar die afskaling van sending as ’n prioriteit. Die kern van die krisis is dat die Algemene Sinode in ’n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif as God se onfeilbare openbaring in gedrang is en dat daar groot verskille oor Skrifverstaan en afwyking van die gereformeerde leer en belydenis, oor tyd ontstaan het.

Een van die grootste probleme is dat plaaslike gemeentelede stellig nie die erns van die saak verstaan nie. Meeste lidmate is blykbaar min bekommerd oor wat in die kerkverband aangaan – solank hulle net in hulle gemeente gelukkig is. Daar is reeds ’n stortvloed van beswaarskrifte wat geïgnoreer word en prominente teoloë wat hul besorgdheid oor die saak uitgespreek het. Prof Hoffie Hofmeyr doen bv ’n oproep dat kerkleiers tot inkeer moet kom[2].

Die NG Kerk is reeds as geloofsgemeenskap verdeel. Dit raak veral lidmate in gemeentes wat hul nie met die groeiende liberale tendense kan versoen nie en gay persone wat ’n onbybelse boodskap van die kerk kry. Dit is ’n hartseersaak om te besef dat die kerk waatoe lidmate dikwels lewenslank verbind is ’n ander NG Kerk is as die een waarin hul grootgeword het, die Here leer ken het, oor jare by koninkrykswerk betrokke kon wees en deur stormagtige tye bewus was van ’n geloofsgemeenskap wat hul dra.

Ek sou heelwat meer kon noem, soos bv dat daar gay gelowiges is, wat nie deel van die LBGTQ veldtog is nie. Dit is nie verskillende sienings oor homoseksualiteit wat die NG Kerk in twee skeur nie maar eerder twee teenoorstaande en onversoenbare sienings van wát die Skrif in essensie is! Die onderwaardering van wat die Bybel is, skep ’n teelaarde vir liberale, progressiewe denke oor ondermeer selfdegeslagverhoudings, en dis wat die kerk verdeel. Die sinodale strukture het ontaard in ’n magskliek wat in beheer wil bly en hul besluite, ondanks baie besware vanuit die kerk, aanneemlik wil maak deur ondermeer ’n gids saam te stel as riglyn om die tien streeksinodes te help om met gemeentes en lidmate “gesprek te voer” oor die 2019-sinodebesluite[3].

Ds Jan Louw stel, in reaksie op die gids,[4] ’n baie belangrike perspektief waaruit ek ’n paar grepe aanhaal:

“Die Gids verwys ons na sinodale verslae en besluite oor die kerk se amptelike Skrifbeskouing. Ek het weer daarna gekyk en besef waar die “vasgelooptheid” vandaan kom. Die teoloë wat hierdie verslae opgestel het vind dit moeilik om iets positief oor die Bybel te sê. Hulle skryf oor die Bybel asof dit eintlik ’n problematiese boek is en asof dit baie moeilik is om etiese beginsels vanuit die Bybel te begrond.Wat is die probleem ….. waaroor julle teoloë sulke lang filosofiese dissertasies skryf en waaroor voortdurend nuwe besluite geneem moet word van die een sinode na die ander? Julle dissekteer die Bybel soos mediese studente, wat met ’n kadawer werk. ….. Ten spyte van die moderator se ontkenning in die Kerkbode, is die Gids ….., ’n poging om die LGBTQI+ besluite van die 2019 Sinode goed te praat.”

As ’n lidmaat soek ek antwoorde. My gebed is dat daar inkeer by die leierskap van die kerk sal plaasvind, maar ook dat predikante, kerkrade en lidmate wat dit nog nie gedoen het nie, sal (her)besin oor of hul die genoemde 2019 sinodebesluite en die rigting waarin die kerk beweeg, kan ondersteun. Daar is geen ander uitweg vir die behoud en eenheid van die kerk nie.

Pieter Cloete

Durbanville

23 April 2020

Voetnotas

[1] Kyk https://kerkbode.christians.co.za/2020/03/19/dan-kan-ons-ver-kom/

[2] Kyk Ope brief aan NG Kerkleiers: ‘Kom tot inkeer’

[3] Kyk Selfdegeslagbesluit: Nuwe gids wil sinodes en lidmate help

[4] Kyk Reaksie op ASM se Gids oor homoseksualiteit

1 thought on “Kommentaar op die krisis in die NG Kerk”

  1. Baie dankie vir jou bydrae Pieter, so reg uit die oogpunt van ’n besorgde lidmaat. Ek wil aansluit by wat jy hier skryf: “ EEN VAN DIE GROOTSTE PROBLEME IS DAT PLAASLIKE GEMEENTELEDE STELLIG NIE DIE ERNS VAN DIE SAAK VERSTAAN NIE. MEESTE LIDMATE IS BLYKBAAR MIN BEKOMMERD OOR WAT IN DIE KERKVERBAND AANGAAN – SOLANK HULLE NET IN HULLE GEMEENTE GELUKKIG IS” Jy deel hier hoe ek ook al lank daaroor voel. Wat in die ou dae as die “amp van die gelowige” bekend gestaan het, het vir hulle in werklikheid ’n vervalle amp geword en het net drie “ampte” erkenning gekry: leraar, ouderling en diaken (wat vandag by baie gemeentes ander benamings gekry het). Deur die jare was daar ’n geleidelike aftakeling – – was dit sodat die “amp van die leraar” meer status kon kry? Staan AL die ampte (leraar, ouderling, diaken, gelowige) nie maar saam onder die Groot Opdrag van Matteus 28 vers 19 nie (waar daar geen onderskeid getref word nie)?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui