Gay wen teen kerk

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer.

**************

Gay wen teen kerk

Aug 28 2008 09:46:28:370PM

Die “onvoorwaardelike” verskoning wat die NG gemeente Moreletapark in Pretoria hom skuld, sal ’n verskoning vir baie ander gays ook wees.

Hilda Fourie

Die “onvoorwaardelike” verskoning wat die NG gemeente Moreletapark in Pretoria hom skuld, sal ’n verskoning vir baie ander gays ook wees.

So het mnr. Johan Strydom, ’n musiekdosent, gister gesê nadat die gelykheidshof in Pretoria bevind het dié gemeente het teen hom gediskrimineer weens sy seksuele voorkeur.

Hulle moet hom om verskoning vra en R86 970 betaal.

Regter Dion Basson het bevind die gemeente se besluit om in 2005 sy dienste as dosent by hul kunste-akademie te beëindig, kom neer op diskriminasie. Die gemeente het die besluit geneem nadat hulle uitgevind het Strydom het ’n vaste verhouding met ’n man.

Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, het uit Bloemfontein gesê ’n kerk moet die vryheid hê om gedragsreëls, gegrond op die Bybel, vir sy personeel en lidmate neer te lê.

Hy moet almal billik behandel, maar hy kan van almal verwag om volgens die Bybel se reëls te leef.

“Hoe kan die kerk Bybelgetrou bly en terselfdertyd die mensgemaakte grondwet van die land kan nakom? Hoe ver kan ’n hof in intern-kerklike sake inmeng?” het Strauss gevra.

Basson het in sy uitspraak gesê dit is duidelik dat Strydom se waardigheid aangetas is toe sy kontrak beëindig is.

Dit het ook ’n impak op sy lewe gehad: hy ly aan depressie, is werkloos weens die publisiteit wat aan die saak gegee is en hy moes sy klavier en huis verkoop.

Volgens die kerk se argumente in die hof was Strydom ’n geestelike leier, het Basson gesê. Strydom sou nie ’n voorbeeld vir die studente wees as hy in ’n homoseksuele verhouding was nie, het die kerk gesê.

“Ek is nie oortuig dat Strydom, op getuienis wat voor die hof is, in ’n posisie was waar hy ’n geestelike leier was nie,” het Basson gesê.

“Strydom moes musiek doseer. Sy werk het nie enige geestelike verantwoordelikhede behels nie. Daarby was sy werk uitstekend.

“Op die meeste sou Strydom ’n mentor vir die studente kon wees, maar daar is nie enige getuienis dat hy die studente of lidmate wou beïnvloed nie.

“Strydom was ’n kontrakwerker en nie ’n werknemer nie. Dit sou nie noodlottig vir die gemeente gewees het om hom as musiekdosent aan te hou nie.

“Hulle sou nie homoseksuele verhoudings goedgemaak het deur Strydom aan te hou nie.”

Hy het gelas dat hulle Strydom onvoorwaardelik om verskoning moet vra. Daarby moet hulle hom R75 000 betaal vir pyn, lyding en die aantas van sy menswaardigheid, en ’n verdere R11 970 vir verlies aan inkomste.

Strydom het gistermiddag gesê hy is verlig die saak is uiteindelik verby.

Hy het gesê hy hoop nie Moreletapark appelleer teen Basson se uitspraak nie, want hy “is moeg, regtig moeg”.

“Die verskoning wat hulle moet maak, sal ’n verskoning vir my en baie ander wees. Ek hoop die saak sal ’n aansporing vir ander gay mense wees dat hulle sal besef daar is meganismes om ons te beskerm.”

Mnr. James Spies, Strydom se prokureur, het gesê die uitspraak is ’n waterskeidingsaak in die Suid-Afrikaanse reg.

Strydom sê

Die saak is tussen hom en die NG gemeente Moreletapark en nie die NG Kerk in sy geheel nie.

“Dit is Moreletapark se arbeidspraktyke wat nie reg is nie. ’n Mens kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie.”

Gemeente sê

Ds. Dirkie van der Spuy, gemeenteleier van die NG gemeente Moreletapark: “Ons het verwag dat die hof nie tot ’n ander gevolgtrekking kan kom nie, maar ons is teleurgesteld.”

Die gemeente het nooit bedoel om Strydom weens sy homoseksuele oriëntasie te na te kom en teen hom te diskrimineer nie. Sy kontrak is beëindig omdat die uitleef van so ’n oriëntasie teenstrydig is met die vereistes vir geestelike leiers in die NG Gemeente Moreletapark.

“Ons kan nie verskoning vra vir die beginsels van God se Woord nie,” het Van der Spuy gesê.

“Gays is baie welkom by Moreletapark. Ons deur staan oop vir gays. Die kerk is daar vir mense wat wil verander. As hulle nie wil verander nie, is dit hul saak.”

Volgens Van der Spuy sal die kerk in die toekoms versigtig moet wees om reëls neer te lê vir die aanstel van personeel.

Hy kon nie bevestig of hulle teen die hof se bevinding gaan appelleer nie.

Gays sê

“Dit is tyd dat mense besef almal, ook gays, het ’n plekkie in die son,” sê mnr. Danie Hamman, ’n joernalis van Exit, ’n koerant vir gays. “Dié saak sal deure vir ander gay mense open. Daar is baie wat afgedank word oor hul seksuele oriëntasie, maar wat nie die geld en deursettingsvermoë het om iets daaraan te doen nie. Ons is dank verskuldig aan Johan dat hy die deursettingsvermoë gehad het om die regte van gays te beskerm.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui