Hy Juig! nie oor kerktydskrif

Kyk ook:

Hierdie artikel is van Rapport gekopieer.

**************

Hy Juig! nie oor kerktydskrif

2009-10-24 23:56

Foto: Mnr. Johan Strydom lees die tydskrif Juig!

Johannes de Villiers

Nie met ’n gejuig nie, maar ’n gebrom.

Dit is hoe mnr. Johan Strydom gereageer het toe hy die jongste uitgawe van die Christelike tydskrif Juig! opgetel het.

Strydom, die redakteur van Vuurkairos, ’n webjoernaal vir gay Christene, het ’n amptelike klag by die persombudsman teen dié tydskrif aanhangig gemaak nadat Juig! ’n artikel gepubliseer het oor hoe gay mense van homoseksualiteit genees kan word.

Strydom was voorheen in die nuus toe hy die NG gemeente Moreletapark in Pretoria suksesvol gedagvaar het nadat dié kerk hom afgedank het omdat hy gay is.

Dié keer het hy die stryd opgeneem oor die artikel “Vasgevang? Nee vrygekoop” waarin ’n Juig!-korrespondent, Ina Neele­man, skryf homoseksuele mense kan heteroseksueel word indien hulle onder meer ’n verhouding met God het, by ’n kerk en selgroep aansluit en opreg aanvaar “dat dit ’n drog­redenasie is om te sê jy kan nie van homoseksualisme bevry word nie”.

Sy vertel ook hoe sy ná ’n jare lange stryd heteroseksueel geword het.

Strydom meen die artikel wakker diskriminasie teenoor gays aan en grens aan geloofs­terrorisme. “En dít deur ’n geestelike tydskrif.”

In sy klag skryf hy dat Juig! hul eie kernwaardes oortree. Juig! beweer in dié opsomming van hul waardes dat hulle nie teen mede-Christene baklei nie, maar Strydom meen hulle maak gay Christene verdag. Juig! beweer ook dat hulle die Liggaam van Christus wil verenig, maar Strydom meen hulle saai net twis. Juig! ignoreer boonop volgens Strydom alternatiewe Skrifinterpretasies.

Erin Georgiou, redakteur van Juig!, meen as Strydom nie van hul artikels hou nie, hoef hy die tydskrif bloot nie te lees nie. “Dis ’n Christentydskrif vir Christene. Ons leringe kom letterlik uit die Bybel.”

Mnr. Joe Thloloe, persombudsman, het bevestig dat hy Dinsdag die klag ontvang het.

– Rapport

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui