In Kaap sinode sê 56% ja vir Belhar

Kyk ook:

Die volgende artikel is gekopieer van Netwerk24. ’n Mens kan maar net glimlag vir Braam Hanekom se subjektiwiteit. Om te glo dat almal wat nie gestem het nie, pro-Belhar is, is baie optimisties. Die feit dat soveel mense nie gestem het is, wys dat mense óf totaal oningelig is oor hierdie kwessie, óf so min daarvan dink dat hulle nie eers die moeite doen om ná die kerkdiens te bly om te stem nie. Dit is bietjie ’n ander prentjie wat geskep word as wat Nelus Niemandt probeer skep deur te sê:

  • “Die een verrassende ding wat na vore staan, is hoe baie NG-lidmate passievol hieroor is… Dit het my verwagtinge oortref . . . die intensiteit van die debat en die passie daaroor . . . daar is in die NG Kerk ’n soort energie oor hierdie saak wat baie intenser en meer is as wat ek verwag het.” (Uit NGK moet leer om te kommunikeer).
  • “Die eerste ding wat baie duidelik is, is dat daar ’n beduidende groep lidmate is wat baie ernstig is oor Belhar,” het hy verduidelik.” (uit Vrystaat stem nee vir Belhar).

Kyk ook die brief van Johann Holzapfel “Obsessie oor Belhar laat mense keelvol” en “Belhar-berig nie korrek” van Prof Johan Janse van Rensburg heel onder.

************

In Kaap sinode sê 56% ja vir Belhar

Anika Marais, Donderdag 16 April 2015 22:13

Kaapstad. – Die meeste gemeentes in die Wes- en Suid-Kaap het ten gunste van die wysiging van art. 1 van die Kerkorde van die NG Kerk gestem wat die deur vir die aanvaarding van die Belydenis van Belhar oopmaak.

[Ek verstaan nie hoe hierdie die deur vir Belhar oopmaak nie. Vir Belhar om aanvaar te word, moet tweederdes van alle gemeentes met ’n tweederde meerderheid “ja” stem.]

Meer as 56% van die lidmate wat gestem het, het gesê: “Ja, die Belydenis van Belhar kan as opsionele belydenisskrif in die kerk se belydenisgrondslag opgeneem word.”

Minder as 15% van die belydende lidmate in die sinode het egter hul stemme uitgebring.

“Ek interpreteer dit dat net 5% van die lidmate in die Wes-Kaap nee gestem het.

[Kom ons neem aan 14% van lidmate gestem het. Veronderstel 100 mense het gestem, dan is daar in totaal 100/0.14 = 714 lidmate. As die aanname korrek is dat die mense wat nie gestem het nie “ja” gestem het, dan het daar in totaal 100-56 = 44 mense “nee” gestem. Dus, 44/714=6% mense wat “nee” gestem het.]

“Dit plaas die hele Belhar-debat in perspektief,” het dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland, Woensdag gesê.

“Die beskouing dat dominees nie na hul lidmate luister nie, is dus nonsens.”

[Dit is baie wilde en optimistiese aannames.]

Die hele NG Kerk stem tans om te bepaal of art. 1 gewysig moet word oor die Belydenis van Belhar as opsionele belydenisskrif.

Om die wysiging op die algemene sinode in Oktober goed te keur, moet al tien sinodes en alle kerkrade landwyd met ’n tweederdemeerderheid ten gunste van die wysiging stem.

Die sinodes van Namibië, die Vrystaat en die Noord-Kaap het klaar gestem en kon nie ’n tweederdemeerderheid ten guns­te van die wysiging verkry nie. Daarom is daar nie meer hoop om die wysiging deur te trek nie, het Hanekom gesê. “Al staan die algemene sinode op sy kop, ons gaan nie meer die kerkorde kan wysig nie.”

Die stemproses in die Wes- en die Suid-Kaap was egter van akademiese belang.

“Dit is noemenswaardig dat die meeste lidmate en kerkrade in die sinode ten gunste van die wysiging gestem het.

“Die sinode van Wes- en Suid-Kaapland is die grootste sinode in die land en verteenwoordig 25% van alle lidmate in die NG Kerk.”

Die sinode kom in Mei in Goudini byeen, waar afgevaardigdes van die gemeentes (dominees en of ouderlinge) weer oor die wysiging gaan stem.

“Ek voorspel dat die stemming op die eerste sinode waarskynlik 70% of self hoër sal wees ten gunste van die Belhar-belydenis,” het Hanekom gesê.

Kommentare

Piet Piet

Die meeste mense in hierdie gebied is kleurlinge, so dit is gladnie verbasend nie?

Matthys C.J De Beer

Laat ons maar liewer stilbly. En wegbly!!

Riaan van Zyl

Nee, Henning, die probleem lê by Braam. Hy kan dit interpreteer en plooi soos wat hy wil, dit bly ’n “nee” vir Art. 1.

Ek interpreteer dit dat 85% van lidmate so moeg is vir julle gegorrel oor Belhar dat hulle uit protes nie aan die stemmery wou deelneem nie. Dus blyk dit dat 93% teen die verandering is.

Wanderlik wat mens kan doen as jy syfers interpreteer, nê Braam?

Kirsie Wessels

Gemeente van byvoorbeeld 15000 lidmate het een stem net soos n gemeente van byvoorbeeld 300 lidmate, stel voor dat elke 100 lidmate in gemeente een stem het. Maak nie sin dat as ek om een of ander rede nie by stemproses was nie, dit tel as n nee stem, uitslag weerspieel nie noodwendig hoe gemeentes voel nie.

Johan D du Toit

Hoekom wil hulle weer stem?

Kobus Britz

Braam jou gatkruiper. Ek interpreteer dit dat net 7% JA gestem het. [56/714=7.8%]

Martin Venter

hulle moet weer stem. hulle het nie n 2/3 meerderheid gekry nie. Belhar is reeds aanvaar en nou sit hulle met n problem. Die NG kerk het by n kruispad gekom. Daar is reeds soveel gemeentes wat bonkrot is en dan gaan hulle ook nog n klomp lidmate verloor !

Elmer Swanepoel

Hier in Helderberg het ongeveer 6% JA en 3% NEE gestem. 94% wat nie gestem het nie, beskou die kwessie as irrelevant. Ek woon nou meer as 20 jr hier en beskou die NG gemeenskap as bo-gemiddeld wat inkomste en intelligensie betref – beslis nie dom mense nie.

Johan D du Toit

Martin- So wat jy eintlik sê is dat hulle sal bly stem tot hulle ’n tweederde meerderheid gekry het ongeag hoe die gemeentelede stemming verloop het?

George Bekker

Artikel 1 kan nie nou gewysig word nie. Punt. Wat is die volgende stap om die kerk te versterk? Myns insiens moet die vereniging van die susterkerke nou voorkeur geniet.

Obsessie oor Belhar laat mense keelvol

Die volgende brief is van HIER gekopieer.

Maandag 20 April 2015 21:32

Die uitslag van die NG Kerk se verkiesing oor die wysiging van artikel 1 van die Kerkorde het groter onsekerheid as helderheid gebring.

Die selektiewe ontleding van die verkiesingstatistieke het die verwarring onder gewone lidmate selfs vererger.

Dr. Braam Hanekom, die pro-Belhar-moderator van die Wes- en Suid-Kaaplandse sinode, wat toegee dat die vereiste tweederdemeerderheid buite bereik is, beklemtoon die volgende:

Die meeste gemeentes in die Wes- en Suid-Kaap is ten gunste van die voorstel; net 5% van die lidmate het nee gestem; dit is veronderstel om die uitslag in perspektief te plaas.

Die stemproses is egter “bloot van akademiese belang” nadat die sinodes van Namibië, die Vrystaat en die Noord-Kaap nie die voorgeskrewe teiken kon haal nie.

’n Vollediger beoordeling van die uitslag skets ’n heel ander prentjie: Van die 192 737 belydende lidmate in die Wes-Kaap het net 28 256 (14,66%) gestem; 164 482 lidmate (85,34%) het nie gestem nie; minder as 10% van die 28 256 het ja gestem en 5,6% of 10 750 nee.

Dis allermins van akademiese belang. En die “ingewikkelde stemproses wat negatief ingewerk het” (Hanekom se woorde), is ’n gerieflike verskoning vir die uitslag waarvoor hy hom beywer het. Hierdie hantering van die statistieke laat die oorweldigende wegblystem buite rekening. Hoe verklaar Hanekom die lae stempersentasie?

Waarskynlike redes is: die pro-Belhar-groep se obsessie oor Belhar, die keelvol-faktor (baie lidmate het genoeg gehad van wat hulle beskou as ’n futiele debat) en die VGK se onversetlike houding dat Belhar “ononderhandelbaar” vir kerkvereniging is.

Juis laasgenoemde dra daartoe by dat Belhar bloot beskou word as nog ’n polities gemotiveerde karwats uit die “struggle”-tydperk waarmee die Moederkerk gereeld oor sy apartheid­sondes gewiks moet word.

Hierdie opvatting word versterk weens die opvallende (moedswillige?) weglating van die woord “vergiffenis” uit die dokument. Hoe rym dit met Christus se sewentig-maal-sewe-keer-vergewe-opdrag (sonder opsie) aan sy volgelinge?

Die NG Kerk se kosmetiese transformasie – liturgie, informele kleredrag, minder orrel en meer kitaar, klavier en ligter gewyde musiek – was onvermydelik en word so aanvaar. Maar die kern van die Evangelie – waarvan vergiffenis dieselfde gewig dra as versoening, naasteliefde en genade – het nie verander nie. Dit het dieselfde gebly. En dit is die maatstaf waaraan Belhar gemeet moet word.

Johann Holzapfel

Vredekloof

Belhar-berig nie korrek

Die volgende brief is van HIER gekopieer.

Vrydag 24 April 2015 03:00

Die berig “Wes- en Suid-Kaap se gemeentes sê ja vir Belhar-wysiging” (16/04) verwys. Die opskrif is nie feitelik korrek nie. Hoewel 56% van die gemeentes “ja” gestem het, vereis die kerkordelike bepalinge dat daar ’n tweederde-meerderheid moet wees om as ’n “ja”-stem te kwalifiseer.

Die gemeentes van Wes-en Suid-Kaap het dus in werklikheid “nee” vir Belhar gestem. Daarbenewens was die stempersentasie slegs 15%, wat beteken dat 85% van die lidmate in die sinodale gebied nie sterk genoeg oor Belhar gevoel het om aan die stemming deel te neem nie.

In die moderator, dr. Braam Hanekom, se gemeente het slegs 603 van die gemeente se 4 181 lidmate gestem. Sy interpretasie, dat net 5% van die lidmate in die Wes-en Suid-Kaap “nee” gestem het, is dus onbegryplik.

Sy opmerkings oor die uitslag is ’n doelbewuste poging om aan die stemming ’n positiewe interpretasie te gee om die verleentheid van die uitslag te verbloem. Hy redeneer dat die Wes- en Suid-Kaap 25% van alle lidmate van die NG Kerk verteenwoordig. Daarmee word blykbaar voorgegee dat die grootste deel van die lidmate eintlik “ja” gestem het.

So naïef is die lidmate van die kerk nie om sulke manipulering van statistieke te glo nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg

Hiermee word die Belhar-debat eers weer afgesluit. – Redakteur

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui